Ondersteun mekaar

gesin-familie

Foto: Pixabay/Pexels.com

Deur René Basson

Die jaar is reeds volstoom aan die gang. 2018 gaan beslis ʼn jaar wees met baie moeilike uitdagings op verskeie terreine. Dit is onvermydelik dat ons almal geraak gaan word deur kwessies waarby ons nie direk betrokke is nie, en waaraan ons dikwels niks kan verander nie.

Sulke kwessies wat ons omstandighede raak lei tot verhoogde spanning, juis omdat ons min of niks aan die oorsaak van die situasie kan doen nie. Só kan die politieke situasie negatiewe finansiële gevolge vir huishoudings inhou, terwyl stakings en studentebetogings weer ons kinders se verdere studie kan ontwrig, om maar twee scenario’s te noem.

Verhoogde spanning gaan gepaard met ʼn legio simptome en aksies wat deel is van ons daaglikse realiteit.

Dit is juis waarom elke gesin nou reeds die keuse moet maak om mekaar in 2018 te ondersteun in alle omstandighede en selfs nog meer in situasies wat meer spanningsvol, onbeplan en buite ons beheer is. Om binne die veilige grense van ʼn gesin te wees, waar mense mekaar onvoorwaardelik ondersteun met begrip en genade, bied ʼn vesting van hoop, vrede en liefde.

Die jaar kry spoed en kort voor lank steel die alledaagse sleurwerk kosbare familietyd. Neem daarom nóú reeds aksie – beplan doelbewus om so gereeld as moontlik familietyd in te ruim.

Navorsing toon dat gelukkige paartjies fisies gesonder is en dat die uitwerking van spanning minder is, waarskynlik omdat daar ondersteuning is. Kinders uit gelukkige gesinne presteer ook beter op skool omdat daar sekuriteit en geborgenheid by die huis is.

Liefde is ʼn kernbehoefte van elke mens en om iewers te behoort waar liefde en veiligheid is, is ʼn voorreg wat nie almal ken nie, iets wat beskerm en gekoester moet word deur diegene wat wel hierdie voorreg ken.

Die raamwerk van ʼn gelukkige gesin is ook ruimte waarbinne gesinslede vlerke kry; ʼn gesin se inspirasie, ondersteuning en motivering wek vertroue en groter waagmoed om méér te doen, groter te doen, beter te wees.

Gryp elke geleentheid aan om hierdie voordeel vir jou geliefdes te gee – om die positiewe verskil te wees wat jou maat of kind vandag nodig het. Niemand weet wat môre kan gebeur nie – leef daarom voluit in vandag asof daar nie ʼn môre bestaan nie, leef só saam met jou gesin dat elke dag ʼn kosbare herinnering inhou. Leer jou kinders om dankbaar te wees vir ʼn gesin, herinner jouself daaraan om dankbaar te wees vir jou maat en gesin. Dankbaarheid maak ons afhanklik en hou ons nederig.

Dit is vandag jou keuse om 2018 te omhels, van elke uitdaging ʼn geleentheid te maak. Hou die verhoudings in die gesin kerngesond, staan saam teen elke storm, deel in mekaar se vreugde en oorwinning, om aan die einde van die jaar dankbaar terug te kyk en te sien in watter groot seën die gesin gedeel het.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bejaardes ·

Ons kan begin deur om bejaardes nie alleen te laat bly nie. Dit sal baie veiliger wees en hulle lewenskwaliteit baie verhoog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.