Onderwysers, op die plek rus!

Foto ter illustrasie. (Foto: S Migaj/Unsplash)

Deur Celeste Labuschagne

Dis die tweede week van Desember. Jou voete sleep en jy was sommer jou hare in die oggend met droë sjampoe, want jy het nie die krag om nog nat hare te was én droog te blaas nie. Gepraat van jou hare. Dit lê plat op jou kop en elke dag is ook net nog  ʼn slegte hare- dag, want tot jou hare is moeg.

Oor drie weke is dit 2022 en jy het nog nie die moegheid en trauma van 2020 oorkom nie. Jy is steeds Zoom-voos van 2020 se grendelstaat en om nie eers van die eise wat die nuwe kontakonderwys in 2021 aan jou gestel het, te praat nie. Die daaglikse maskerpligtigheid versmoor jou en dwing jou permanent tot ʼn staat van semi-bewusteloosheid.

Liewe Meneer en Juffrou, jy is moeg. Ek verstaan.

Neem net in ag dat jy uniek is. Jy is ʼn onderwyser. ʼn Spesie op jou eie.

Onderwysers ís mense wat kan deurdruk. En hoewel onderwysers volgens oorlewering vier vakansies per jaar het “om te rus”, weet ek wat die waarheid is. In vorige gewone Covid-19-vrye jare is dit jy wat gedurende die Aprilvakansie vir 24 uur met sporttoere aan diens is. Winterskole en gholftoere sluk jou Julievakansies in. In die Oktobervakansie, eintlik net ʼn baie lang langnaweek, kry die lenteskool óf atletiekkursusse jou voorkeuraandag.

Tydens die Covid-10-pandemie het jy wel vakansie gehad, en toe wéér nie, en tóé weer (of het jy?). Onderwysers is goeie dansers. Hulle moet dans na die pype van die kinders, ouers en onderwysdepartement. Hulle moet voorbereid wees, by die werkprogram hou en boonop elke dag lyk of hulle dit geniet. Hiérdie dansery het jou moontlik al leeggetap. Om nie eers oor die spul voorbereiding vir 2022 te praat nie.

Meneer en Juffrou, wanneer jy klaar matriekvraestelle nagesien het óf wanneer jy jou klaskamerdeur op 15 Desember agter jou toetrek, is dit tyd vir “op die plek rus!”

Ek het ʼn bietjie naleeswerk gaan doen om te kyk hoe jy jou kragte kan herwin sodat jy 2022 met ywer kan aanpak. En, nee, jy gaan nie nou al jou voorbereiding doen nie.

Kenners is dit eens dat ʼn wegbreek broodnodig is wanneer jy van spanning en moegheid wil herstel. Tydens hierdie wegbreektydjie is dit nodig dat jy jou heeltemal losskeur van jou daaglikse roetine en dinge doen wat weer jou liggaamsbattery sal laat herlaai.

Natuurlik het elke onderwyser sy eie persoonlikheid en voor- en afkeure vir ontspanning. Die voorstelle wat ek hier gaan noem, sal nie ʼn “one size fits all”- oplossing wees nie. Kies net dit wat op jou van toepassing is en los die res, soos wat die Bybel sê: “Beproef alle dinge, maar behou die goeie.”

So, hier gaan ons:

Lees ʼn boek met ʼn triviale storielyn

Lees ʼn boek wat jou van die uitmergelende realiteit sal wegvoer. ʼn Boek wat jou sal laat verdwaal in ʼn storie sodat dit voel asof jy twee weke verloor het teen die tyd wat jy daarmee klaar is.

Liewe Onnie, dit is nou nie ʼn Wiskunde-handboek indien jy Afrikaans gee nie.

Skakel jou oorwerkte brein af

Psychology Today berig dat die gemiddelde mens sowat 35 000 besluite per dag neem. Ek is seker dat die gemiddelde onderwyser baie meer as 35 000 besluite per dag moet neem. Jy as onderwyser het daarom nodig om, wanneer jy ʼn blaaskans neem, seker te maak dat jou brein ook ʼn bietjie rus. Gun jouself die tyd om soms net “te wees”. Gaan sit langs ʼn rivier of op die strand en wees net jý. Moenie dink nie. Dit sal moeilik wees, dit weet ek, maar omdat jy ʼn onderwyser is, kan jy enigiets doen. Indien jy hierdie jaar nie met vakansie kan weggaan nie, kan jy dan ten minste twee keer per dag dagdroom.

Jy mag maar.

Kom tussen jou vier mure uit

Onderwysers bestee ʼn groot deel van hul dag tussen die vier mure van hul klaskamers. Kenners meen dat dit uiters waardevol vir onderwysers kan wees om in die natuur te kom. Gaan kyk of daar iewers in jou omgewing ʼn staproete is om vir lang ure in die natuur te gaan stap of daar deur te bring. Indien daar nie een is nie, maak soos ek en my vriendinne en skep sommer jou eie staproete waar daar nie een is nie. Onderwysers is mos baanbrekers. Moenie wag nie, spring self in – wees kreatief.

Lag weer lekker uit jou maag

Hierdie voorstel mag moeilik wees aangesien almal nie oor dieselfde sin vir humor beskik nie en nie oor dieselfde dinge in die lewe lag nie. Kry daardie ding wat jou laat lag, soos uit-die-maag-lekker-lag grappies, ʼn Netflix-komedie of gaan “like” sommer ʼn grappieblad op Facebook. Lag is ʼn wonderkuur teen spanning en moegheid. Wanneer jy lag, neem jy groot hoeveelhede lug in en dit veroorsaak dat jou bloedsuurstofvlak verhoog. Dit verlaag terselfdertyd die kortisol en adrenalien (streshormone) in jou liggaam en versterk ook sommer jou immuunstelsel. Daar word ook endorfiene tydens ʼn lekker lagsessie afgeskei en dít sal laat goed voel.

Lag net weer ʼn slag.

Smul skaamteloos aan donkersjokolade

Kry jy soms ʼn lus vir sjokolade? Gee jouself maar aan dié lus oor en eet ʼn paar blokkies donkersjokolade. Volgens die geleerdes verlaag donkersjokolade nie net jou kortisolvlakke nie, dit verbeter jou gemoedstemming. Indien dit nie een van die twee doen nie, is dit ten minste lekker – so, waarvoor wag jy?

Beste Onnie, jy kan volgende jaar voor die skole heropen weer aan voorbereiding en skoolwerk dink. Maak nou tyd vir jouself en jou gesin. Beproef ʼn paar van die wenke hierbo, of doen ook dit wat jy weet wat vir jóú werk, maar tog rus net. Daar is net een van jou en die onderwys het jou nodig.

Lekker rus!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Erik ·

Ek vermoed ons as onderwysers lei aan PTSD. Nie net moes ons aanhou en deurdruk en eintlik as’t ware ons loopbane herdefinieer met allerhande nuwe metodes van onderrig nie, nuwe verlengde werksure ure ens nie, maar het ons soveel trauma gesien en beleef.

Ek het ophou tel hoeveel eposse ek geantwoord het wat begin het met ‘My innige meegevoel met die afsterwe van…”. Dan sien ek in die aand voor ek slaap daardie hartseer kinders se gesigte voor my. Daar is selfs kinders wat beide ouers verloor het.

Dan moet jy motiveer, innoveer en word sleg gesê deur ouers wat emoisioneel uitgeput is. Waarom moet hul skoolgeld betaal as skole gesluit is? Hoe kan ons verwag hul kinders moet aanlyn klas bywoon? Hoekom ontneem ons hul kinders van sosiale geleenthede? Hoe kan ons oopmaak onder die omstandighede?

Dis nou dag 2 van die vakansie en ek is so bang om weer terug te gaan skool toe dat ek heeltyd probeer planne maak hoe ek kan bedank en nogsteeds finansieël kan oorleef. Ek is moeg ja.

Elinette ·

O jinne, nog ‘n (amper) oud-onderwyser wat op die algemene publiek losgelaat gaan word.

Hoekom ·

Elinette, jy is maar ‘n suurknol. Dink so daar aan as dit nie vir jou onderwysers was nie, was jy nie deel van die publiek nie. Net nog ‘n staat rug ryer…

Elinette ·

Onderwysers is uniek. Heeltemal korrek. Hulle is ook ALTYD REG, nes prokuROWERS en oud-polisie manne is – daarom is ek heeltemal allergies vir mense wat (eens op ‘n tyd) in hierdie beroepe gestaan het.

Erik ·

Elinette, watter beroepe is jy nie voor allergies nie? Aangesien ek opsoek is na ander loopbaan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.