Ongekende sukses vir ‘Poppie Nongena’

Helena Spring, die vervaardiger, sê sy was oorstelp oor hierdie nuus dat “Poppie Nongena” as die beste rolprent op die Brics-rolprentfees aangewys is. (Foto: Verskaf.)

Vir jare het die ikoniese boek van Elsa Joubert, Die Swerfjare van Poppie Nongena, soos ʼn ryp vrug wat wag om geëet te word, gelê en wag om as ʼn silwerdoekstorie vertel te word. Dis eers 42 jaar nadat die roman gepubliseer is, dat dit op die Silwerskermfees van 2019 verskyn het, en kykers uiteindelik die geleentheid gekry het om die rolprentweergawe van hierdie epiese verhaal te sien.

Poppie Nongena het skoonskip gemaak en nie minder nie as 12 pryse opgeraap, waaronder, die beste speelfilm, beste draaiboek, beste regisseur, beste aktrise, beste manlike byspeler, beste vroulike byspeler en beste kinematografie. Rolprentgehore en resensente het die grootste lof gehad vir die rolprent wat onder die bekwame regie van Christiaan Olwagen geskiet is. By die SAFTA-toekenningsaand ʼn paar maande later het dit ook ʼn hele paar pryse ontvang.

Die rolprent se sukses het egter nie daar opgehou nie. Sedert die begin van September is dit reeds op verskeie internasionale rolprentfeeste in Europa vertoon en binnekort kom Kanada en Noord-Amerika aan die beurt. Dit is ʼn buitengewone eer vir ʼn Suid-Afrikaanse rolprent om na een van die rolprentfeeste genooi te word. Asof daar nie reeds genoeg erkenning was nie, is Poppie Nongena ook vroeg in Oktober as die beste rolprent op die Brics-rolprentfees in Moskou aangewys. Helena Spring, die vervaardiger, sê sy was oorstelp oor hierdie nuus.

ʼn Innige menslike verhaal wat op ’n outentieke manier vertel is

‘n Toneel uit die film ‘‘Poppie Nongena’. (Foto: Verskaf)

“Met die maak van die rolprent het ek nie geweet wat om te verwag nie, want dis ʼn moeilike storie om te vertel, maar terwyl die projek besig was om vorm aan te neem, kon ek duidelik sien dat ons iets baie spesiaal hier beet het. Die grootste uitdaging was om mense so ver te kry om die fliek te gaan kyk, eerder as die The New Adventures of Gigantor – 27 – The Great Garkonga. In Suid-Afrika is dit moeilik, want ons gehore is beperk en gefragmenteerd en nie almal het toegang tot teaters nie. Dis wat die internasionale rolprentfeeste so ʼn goeie plek maak om die rolprent ten toon te stel. Dáár is ʼn kultuur onder die mense om rolprentfeeste by te woon en na ongewone of buitengewone rolprente te gaan kyk. Reeds ná die eerste fees was dit duidelik dat dit baie positief ontvang word. Hierdie is so ʼn innige soort menslike verhaal wat die regisseur op so ʼn outentieke manier vertel het. Die opregtheid skyn deur en ek is glad nie verbaas wanneer mense reageer en sê hoeveel die fliek vir hulle beteken het nie,” sê Helena.

In ʼn neutedop word die fliek soos volg beskryf: “Poppie is gebaseer op ʼn ware verhaal van ʼn ma se oorlewingstryd, liefde en hoop in die tyd van apartheid toe onmenslike regulasies van die regering skeiding gebring het tussen mans, vroue en kinders. Die hooffokus van die fliek is nie apartheid, kolonialisme, kapitalisme of verdrukking nie. Dit is ʼn karakterstudie wat uit die oogpunt en daaglikse lewe van ʼn swart Suid-Afrikaanse vrou vertel word. Dit is die storie van ʼn ma wat desperaat alles in die stryd werp om haar kinders en familie te beskerm.”

Clementine Mosimane, wat uitstekend vaar met haar vertolking van die Poppie-karakter, is ook in Moskou by die Brics-rolprentfees as beste aktrise vereer. Clementine sê dat sy besonder trots is op die manier waarop Poppie Nongena wêreldwyd ontvang word. Die maak van die rolprent was vir haar ʼn besonderse ervaring wat sy vir niks sal verruil nie.

‘Poppie’ moedig vroue aan hom hul stemme te laat hoor

Poppie Nongena vertolk deur Clementine Mosimane. (Foto: Melanie Cleary)

“Ek kon hierdie vrou binne-in my voel,” sê Clementine. “Daar is natuurlik soveel ander vroue wat ook sulke stories het om te vertel, maar wat nooit die geleentheid gekry het nie. Dis belangrik om raak te sien dat Poppie Nongena nie oor kleur gaan nie. Dit gaan oor vroue en dat vroue moet sit en gesels om te hoor wat met ander vroue gebeur. Die boodskap wat ek graag sal wil uitdra, is dat ʼn mens met ander vroue moet gesels om te oor wat in hul lewens aangaan. En natuurlik om respek vir mekaar te hê.

“Oor een ding is ek baie bly, en dit was dat Christiaan Olwagen met sy regisseurskap kon wys oor watter kwaliteit rolprentmakers ons in Suid-Afrika beskik. Om ʼn Suid-Afrikaanse regisseur te hê wat hierdie Suid-Afrikaanse storie vertel het, het baie beteken, want hy weet presies waar ons vandaan kom. Die verhaal van Poppie Nongena is ons erfenis, ons geskiedenis en ons durf nie daarvan wegskram nie.”

In die volgende paar weke en maande sal die rolprent op feeste in die Verenigde Koninkryk, São Paulo, Berlyn, Pole, San Francisco en Vancouver vertoon word. ʼn Hele paar van hierdie feeste het die rolprent in een of meer kategorieë genomineer om vereer te word.

Helena sê dat dit vir haar van die begin af belangrik was om ʼn fliek te maak wat goed genoeg is om oor ʼn lang tydperk gesien te word. Sy beskou Poppie Nongena as ʼn rolprent wat oor vyf, of tien jaar nog belangriker sal word as ʼn verslag van iets wat op ʼn tyd in Suid-Afrika bestaan het en wat mense moes deurmaak en ervaar.

“Dis so belangrik dat ons bo en behalwe die kommersiële romantiese komedies en ligte vermaak ook iets van ons eie geskiedenis en ervarings in hierdie land opteken. Om iets uit ʼn geskiedenisboek te lees en om dit in lewende lywe met emosies en in kleur, op ʼn doek te sien gebeur, is heeltemal ʼn ander ervaring.”

Suid-Afrikaanse rolprentmakers en regisseurs hoef nie een tree terug te staan nie

Anna-Mart van der Merwe het die rol van Antoinette Swanepoel in die rolprent vertolk. (Foto: Verskaf.)

Vir Anna-Mart van der Merwe, wat die rol van Antoinette Swanepoel in die rolprent vertolk, was hierdie ook ʼn besonderse ervaring. Sy is ook by vanjaar se SAFTA-toekenningsaand aangewys as die beste byspeler vir hierdie rol as Poppie se werkgewer. Sy vertel dat dit ʼn wonderlike ervaring vir haar was om in die teenwoordigheid van ʼn speler soos Clementine te kon werk. Daar is intense tonele in die rolprent waar beide Anna-Mart as Antoinette en Clementine as Poppie ten volle op mekaar moet vertrou in hul toneelspel.

“Ek kan eerlik sê dit was werklik ʼn magiese ervaring. As kollegas vertrou jy mekaar en hoop jy dat jou kollega jou sal ondersteun, maar vir my as ʼn speler was dit ʼn wonderbaarlike ervaring om op ʼn ander, dieper hartsvlak saam met Clementine te werk,” sê Anna-Mart.

Sy is dankbaar om die entoesiasme waarmee die rolprent in die buiteland ontvang word, waar te neem, en sy reken dit is ʼn bewys dat die Suid-Afrikaanse filmbedryf oor ongelooflike vervaardigers, regisseurs en teksskrywers beskik wat die wêreld tegemoet kan gaan met eg-Suid-Afrikaanse stories.

“Poppie se sukses oorsee bewys hoe klein die wêreld geword het. Hoe ons in ʼn globale dorpie woon. Dit wys hoe alles verweef is en hoe ons deel uitmaak van mekaar: oor grense en kulture heen. Daarom is die uitruil van stories van kardinale belang, want dit maak dat ons mekaar beter leer ken, en uiteindelik kan ons net so baie by mekaar se stories leer. Ons sal al hoe meer stories moet vertel en hande vat ter wille van oorlewing. Uiteindelik is die vertel van stories noodsaaklik om te groei as mensdom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.