Ongewone dierepaar steel harte

Grietjie die boerbok en Marietjie die hond is groot maats. (Foto: Tuinroete DBV)

Dit gebeur nie aldag dat jy ʼn boerbok en ʼn hond saam-saam deur die lewe sien gaan nie, maar dié ongewone dierepaar se hegte vriendskap het reeds talle harte gesteel.

Grietjie en Marietjie is twee van die talle diere-inwoners by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in George in die Suid-Kaap.

Grietjie is ʼn wit-en-bruin boerbok en Marietjie is ʼn kruisrashond van ongeveer drie of vier jaar oud. Maar dié verskille skeel die twee maats min! Hulle is onafskeidbaar en raak albei baie ontstig as hulle nie by mekaar is nie.

ʼn Woordvoerder van die Tuinroete DBV op George vertel dat Grietjie en Marietjie saam in ʼn hok slaap en heeldag saam rondloop. Marietjie begin dadelik tjank as sy nie vir Grietjie kan sien nie en Grietjie sit net so keel op as Marietjie weggeneem word.

Volgens die DBV is die twee in die eerste week van April by ʼn oord op die Tuinroete gevind waar hulle saam met hoenders en ander pluimvee tussen die chalets rondgedwaal het. Niemand het geweet waar hulle vandaan kom nie en die DBV is ontbied om die diere te kom haal.

Grietjie en Marietjie is onafskeidbaar en dring daarop aan om heeltyd by mekaar te wees . (Foto: Tuinroete DBV)

Volgens die woordvoerder is daar intussen vasgestel dat Grietjie aan ʼn man in die omgewing behoort, maar het hy nooit na die DBV teruggekeer om haar te kom opeis nie. Waar Marietjie vandaan kom, is steeds ʼn raaisel.

Grietjie en Marietjie is nou beskikbaar gestel vir aanneming, maar op voorwaarde dat hulle saam aangeneem moet word.

“Hulle is onafskeidbaar en moet saam na een huis toe gaan. Hulle is kosbaar en sal net glimlagte en baie liefde bring op enige kleinhoewe of plaas waar hulle saam kan rondhardloop,” lui die aannemingskennisgewing op die DBV se Facebook-blad. “Marietjie is ʼn Pointer-kruising wat mal is oor mense en net die dierbaarste hond is, en Grietjie beloof om die beste bok te wees waarvoor enigiemand kan vra.”

Teen Saterdagoggend was daar al navraag oor die aanneming van Grietjie en Marietjie, maar die tweetjies wag steeds op nuwe aanneem-eienaars en ʼn nuwe huis.

Besoek die Tuinroete DBV se Facebook-blad vir meer inligting of om ʼn donasie te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Maria ·

AG dit mooi storie wens kon hulle vat maar bly in stad lewe Sal vir hulle bid vir regte eienaars

smurfie ·

Asb, Asb Maroela. Hou ons op hoogte wanneer hulle n huis kry. Groot asb??

Te cute vir woorde ·

Ja, asseblief MM hou ons op hoogte wanneer die 2tjies SAAM ‘n baie goeie huis gekry het.
Wens ook ek kon hulle aanneem maar in ‘n meenthuis gaan dit nie uitwerk nie. :-)

Attie. ·

Hulle albei kan met liefde by my kom woon. My vrou sal net van haar tuin finaal moet afskeid neem. ‘n Bok is ‘n wonderlike dier en enige hond is mens se beste vriend. Die net dat bokke vreet ‘n tuin op…

Cherokee ·

Interessante geval en die eerste vraag wat opgeduik het, is hoe die DBV, toe hulle gevind is, besef het hulle is geheg aan mekaar. Want as dit nie vir ‘n diere-mens was wat dit raakgesien het nie, sou hulle waarskynlik in verskillende hokke beland het. Dit mag ‘n interessante aanvulling tot die berig wees om daardie inligting by te voeg. Miskien is die antwoord daarby dat hulle saam in ‘n hok slaap en deur die dag saam rondloop.

PaulV ·

Hulle is saam gevind en dit was toe al duidelik dat hulle geheg is aan mekaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.