Ongewone mediasentrum allermins ’n plek vir boekwurms

Elize Bosch, die mediajuffrou, en ʼn klompie kinders van Laerskool Bakenkop wat vir Maroela Media se besoek die nuwe mediasentrum en die “watergat” kom verken het. (Foto: Verskaf)

Dis nie vir elke stadskind beskore om gedurende pouse langs ʼn watergat te gaan sit met ʼn boek en ʼn nuuskierige kameelperd as geselskap nie.

Maar te danke aan ʼn mediasentrumjuffrou met ʼn passie vir boeke, tesame met ʼn skoolhoof en ’n beheerliggaam wat haar droom verstaan en daaraan vlerke gegee het, is dit presies wat kinders van die Laerskool Bakenkop in Centurion sal kan beleef wanneer Covid-19 iets van die verlede is, en hulle hul splinternuwe mediasentrum sal kan besoek.

Reeds vroeg in 2020 het Willie Fourie, die skoolhoof, en Elize Bosch, voorheen die skool se kuns- en drama-onderwyser, begin drome droom oor hoe hulle ʼn liefde vir boeke en lees by die skool se kinders kan kweek. Die mediasentrum van die skool, voorheen ʼn doodgewone, vervelige skoolmediasentrum, was die logiese plek om te begin. Te danke aan die hoof se ondersteuning, en die beheerliggaam wat die nodige befondsing goedgekeur het, kon Elize haar kreatiwiteit en verbeelding vrye teuels gegee. Só is ʼn kleurvolle, ongewone mediasentrum waarvan die “watergat” en Kallie die Kameelperd die middelpunt is, tydens die inperking gebore.

Terwyl die kinders tuisonderrig ondergaan het, het kontrakteurs gebou, gebreek, geverf en soms hul koppe geskud oor die vreemde idees waaraan hulle uitvoering wou gee. Daarna het ʼn span kunstenaars aan die werk gespring, en Kallie die Kameelperd saam met al sy dierevriende, natuurlik almal boekliefhebbers, het teen die mure rondom die “watergat,” ʼn klein verhogie, gestalte gekry.

In plaas van gewone rakke teen die mure is die boeke volgens afdeling gesorteer in kubusvormige rakke wat oral in die sentrum rondstaan. Tussen die vrolik versierde rakke is vloerkussings, boontjiesakkies en leeshoekies vol kleiner kleurryke kussings wat die kinders uitnooi om hulle met ʼn boek tuis te maak.

“Die simboliek van elke element in hierdie mediasentrum was vir my belangrik,” vertel Elize met groot entoesiasme. “Ek het ʼn kameelperd gekies omdat sy nek lank genoeg is om daar bo tussen die blare van die hoogste bome na inligting te soek, maar omdat hy ook nie skaam is om af te buk en wyse woorde uit die watergat op te lek en met sy vriende te deel nie. Die watergat is natuurlik tekenend van ʼn plek van rus, maar ook waar die kinders se siel gevoed kan word.”

‘n Paar meisies sit en lees by die “watergat”. (Foto: Verskaf)

Die “watergat” is ʼn klein verhogie in die hoek van die mediasentrum, wat ingerig is sodat kinders tydens Afrikaans- en Engels-periodes soms hul toesprake daarop kan kom doen.

“Ons wil dit ook gebruik om skrywers, illustreerders en ander mense wat vir ons kinders rolmodelle is, te nooi om met ons kinders te kom gesels oor die wonderwêreld van boeke en kreatiwiteit,” sê Elize. “Hier wil ons ook vir die ouers van die skool boekaande en ander spesiale geleenthede aanbied, want as hulle lief is vir lees, sal hul kinders dié liefde deel.”

Die kinders van die skool volg met entoesiasme die intriges van Kallie se lewe, wat Elize deur die skool se interne elektroniese kommunikasieplatform met die kinders deel.

Koning Leeu is ook langs die watergat, want hy kom vra dikwels raad by sy boekgeleerde vriend Kallie, verduidelik Elize. Karalee, Kallie se meisie, staan by hom deur dik en dun. Sedert Kallie onlangs ʼn bril moes kry van al die lees, is hy vir haar ekstra aantreklik. Kraanvoël is ook by die watergat rond, maar ʼn bietjie dikbek, want hy is effe jaloers op al die aandag wat Kallie kry.

Hoewel die mediasentrum in Augustus reeds kant en klaar was, kon die kinders nog nie die volle vreugde daarvan beleef nie, weens die Covid-19-regulasies wat tot gevolg het dat daar nie baie aan die boeke, leeshoekies en ander interessanthede in die sentrum geraak kon word nie. Maar Elize vertrou dat al dié regulasies teen Januarie iets van die verlede sal wees, en dat die kinders in 2021 sal kan deel in ʼn boeke- en leeservaring soos nog min in ʼn laerskool beleef is.

Haar teikenmark met dié besonderse mediasentrum is nie die boekwurms nie, vertel Elize.

“My fokus is die nieleser. Die outjie wat alleen is, of wat ʼn behoefte daaraan het om geborge te voel. Dié kinders kan maar net hier kom sit en veilig voel, dalk met ʼn boek as geselskap op die skoot. Ek glo as ek met hul harte begin, sal hulle hier liefraak vir lees. Ek is nie bekommerd oor die lesers nie; hulle sal wel op hul eie hul pad hierheen vind. Dis die nielesers wie se harte ek hier wil wen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

netek ·

Waar was die juffrou toe ek op skool was. Was gek oor lees en dit is waar ek pouses my tyd deur gebring het, maar ai dit lyk baie meer rustiger en lekkerder as die een waarin ek altyd by die tafel moes sit en lees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.