‘Ons dogtertjie het verdrinking oorleef’

Die Van Loggerenberg-gesin. (Foto: Verskaf)

Deur Johanni Meiring

Voel jy ook magteloos en onseker wanneer jy ʼn gesin met spesialebehoeftekinders teëkom? Dalk wonder jy: Hoe help ek, hoe vra ek uit?

Die woorde “dra mekaar se laste…” (Galasiërs 6:2) was nog nooit so relevant soos vir omstandighede soos dié nie.

Die Van Loggerenbergs was ʼn gewone Pretoriase egpaar met ʼn driejarige dogtertjie. Maar op 13 Januarie 2013 het hul lewens onherroeplik verander.

Mamma Rhonel van Loggerenberg vertel:

Dié dag het ons besluit om ʼn rustige braai saam met vriende ná kerk by ons huis te hou. Ons almal was so bly om mekaar weer te sien! Ons het saam besluit om eerder by die huis te kuier as by Spur, want dit was warm en almal wou swem.

Let wel: Ons het elke dag ʼn soliede seil oor die swembad gehad, want ek was totaal en al paranoïes oor water.

Teen middagete het ons die kos gereed gehad, en almal was reg om aan te sit vir ete. Tussendeur al die beweging en mense het ʼn skielike vrees my oorspoel. Ek het opgekyk na my man en gevra: Waar is Junélde? My oog het op die swembad geval, ek kon haar nie daar sien nie, maar het steeds vir hom gevra om by die swembad te gaan kyk. Hy het haar eers nie daar gesien nie. Vir een of ander rede het hy weer omgedraai en gaan kyk in die hoek van die swembad en geskreeu: Nee! Hy het ingespring om haar uit te haal. Dit is hoe sy verdrink het.

Dit was ʼn baie moeilike dag. Sy was vir 40 minute klinies dood. Ons was by die Unitas-hospitaal toe hulle laat weet het dat hulle haar hartkloppie teruggekry het. Sy moes wel na die Garden City-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas word.

Op daardie oomblik was die verligting so groot om net weer my kind se lyfie daar te sien lê. Die werklikheid van haar toekoms, aangesien sy in ʼn mediese koma was, was onmoontlik om te begryp of voor te stel. Vir die eerste twee jaar van haar lewe ná die ongeluk was ons in ʼn daaglikse stryd om oorlewing gewikkel.

Junélde is nou 11 jaar oud. Ná ʼn klomp jare van veg en liefhê is ons gesin se werklikheid met haar kondisie soos volg:

Sy is ʼn kwadrupleeg met serebrale gestremdheid. Sy het geen intensionele motoriese beweging nie. Junélde neem waar, maar kan nie uiting gee nie (locked-in syndrome). Sy word met ʼn voedingsbuis gevoed en het onwillekeurige spastiese spierbewegings. Juneldé kry verskeie epileptiese aanvalle en benodig 24 uur-sorg. Daar is ʼn Baclofen-pomp in haar maag vir spierspastisiteitsbehandeling. Sy het skoliose gehad en het onlangs rugchirurgie ondergaan. Haar doeke word natuurlik nog geruil.

Ons het nog nooit moed opgegee nie, en sal ook nie, maar elke dag leef ons in ʼn wêreld met iemand wat baie uitdagende behoeftes het.

Luister hier na ʼn podsending van die onderhoud met Rhonel.

Johanni Meiring (Foto: Verskaf)

Hoe maak jy ʼn verskil in iemand met spesiale behoeftes se lewe?

  • Moet nooit iemand in ʼn rolstoel in die openbaar uitsonder nie, hanteer hom/haar soos jy ander normaalweg sou behandel.
  • Luister eerder aandagtig as om raad aan ouers te probeer uitdeel.
  • As jou kinders vrae vra, moedig hulle aan om te vra wat sy/haar naam is, wat sy/haar ouderdom is, ens.
  • Vra ʼn rekeningnommer as jy ʼn donasie aan die gesin wil maak.
  • Om etes na iemand se huis te stuur, is altyd welkom.
  • Word deel van ʼn gemeenskapsprojek, soos Parent Reality (ʼn ondersteuningsgroep vir ouers met spesialebehoeftekinders) wat hierdie ouers ondersteun.

 Hierdie rubriek is deel van ʼn reeks rubrieke deur Johanni Meiring in samewerking met Solidariteit Helpende Hand se Ere-ondersteunersnetwerk om bewusmaking te skep oor ouers van kinders met spesiale behoeftes en om dié ouers te bemagtig en by te staan. Klik hier om ʼn ere-ondersteuner van Helpende Hand te word of om ʼn bydrae te maak om dié ouers deur die Spesialebehoefte-ouerfonds te help.

  • Johanni Meiring is ʼn lewensafrigter, spesialebehoefte-ouer en medestigter van Parent Reality.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Filistyn ·

Sterkte aan almal betrokke. Dit is nie n eenvoudige pad nie. Respek.

Shakespeare ·

Verskriklik traumaties vir n ouer om so ‘n terugslag te kry. Sterkte vir die ouers. Baie hartseer om jou kind so te sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.