Ons elkeen het ’n storie

Foto: Pixabay

Ek vier vanjaar nie net 39 lewensjare nie, maar ook 20 jaar in die TV-bedryf. Daarby is ek 15 jaar getroud, omtrent net so lank al ʼn motiveringspreker en skrywer, ek is al 12 jaar lank ʼn mamma en so agt jaar lank besig met gemeenskapsprojekte!

Waar ek vandag staan en terugkyk is my lewe en my loopbaan vir myself ʼn getuienis en bewys van God se werk ten spyte van my en nie as gevolg van my nie! Ten spyte van kwalifikasies of in watter gesin jy gebore is of waar jy op skool was, sien ek deur my lewe ʼn God wat gee en ʼn God wat ook weer neem wanneer ʼn seisoen klaarmaak…

Ek besef elkeen van ons het ʼn unieke storie, maar hierdie is my storie: Miskien het God geweet as ek ʼn geraamde papiertjie teen my muur gehad het, was my vertroue in ʼn kwalifikasie, of as ek ʼn “super-dooper”-agent gehad het, het ek geglo dis hy of sy wat die werksdeure en oudisies vir my oopskop! Ek sou op mense gesteun het en saam met soveel ander geglo het “dis nie hoeveel jy ken nie, maar wie jy ken…”.

En eintlik is hierdie stelling 100% waar van my lewe, want elke geleentheid, projek of rol, gaan alles oor Wie ek ken!

As ek op 18 my loopbaan uit die hemel moes bestel, sou ek dit nie so goed kon uitwerk soos God nie! En dankie tog ek het nie vir die Here probeer sê met wie ek moet trou nie, want dan het ek dalk uitgemis op sy bewys van genade met ʼn man wat soveel meer is as wat ek ooit gevoel het ek verdien of werd is.

Elke keer met ʼn nuwe geleentheid en ook die lot intimidasie wat daarmee saam gaan, spreek en bou God in my lewe in! As ek nie weet hoe om toneel te speel nie, ervaar ek ʼn aanmoediging om my Godgegewe vermoë te gebruik om myself in iemand anders se skoene in te dink en met hulle lief en leed saam te leef. Dis ʼn vereenselwiging met mense wat ek by Jesus sien en leer en ook weg van ʼn verhoog of TV-kamera kan toepas.

As ek iewers moet gaan praat en ek wonder wat ek sal sê, is Paulus se getuienis in 1 Korintiërs 2 vir my die aanmoediging om my maar weer eens voor te neem om oor niks anders as Jesus te praat nie! Nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur God se Gees sal mense hoor!

Toe ek ná Egoli by Helpende Hand begin werk het en so uit my diepte gevoel het in hierdie wêreld van nood en behoefte, armoede en swaarkry, het God my geleer om te kyk hoe Hy gee en dit te gebruik as die bloudruk vir my gee.

Ja, ek glo steeds aan harde werk en sokkies-optrek en jou kant bring, maar selfs hierin kan ek getuig van ʼn God wat spesialiseer in tekortskiet!

My lewe gaan alles oor Wie ek ken! Die God wie my ken en my roep en aanstel en bekwaam en toerus en uitstuur en deel maak van sy werk en aan Hom kom al die lof en eer toe!

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.