Ons Plek maak verskil in die Strand

Ons Plek

Meyer le Roux van Buffelsfontein Baardolie (regs) saam met Joey Lotter (links), asook kinders van die sentrum. Foto: Solidariteit.co.za

Deur Inge Strydom

Met 12 heeltydse vrywilligers wat hulle daagliks vir die ontwikkeling van meer as 80 behoeftige kinders beywer, lewer Solidariteit Helpende Hand se gemeenskapsentrum in die Strand ʼn reusebydrae tot die verbreking van die siklus van swaarkry en armoede.

Joey Lötter, gemeenskapsentrumbestuurder, verduidelik dat die sentrum, genaamd Ons Plek, reeds in Oktober 2014 sy deure geopen het. “Ons het aan die begin veral kinders van die Kays Karavaanpark gehuisves. Tans is meer as die helfte van die kinders by die sentrum van die Strand-gemeenskap afkomstig,” sê Lötter.

Tans bestaan die voorskoolse speelgroepie uit 17 kinders tussen drie en vyf jaar oud, terwyl 64 skoolkinders by die naskoolprogram inskakel. “Die voorskoolse kinders ontvang deur die dag gesonde eetgoed en neem daagliks aan leersame aktiwiteite deel. Dit sluit veral aktiwiteite in wat hul lees- en wiskundevaardighede ontwikkel. Ons het ook onlangs met die hulp van die ATKV en Vriende van Afrikaans vir hulle ʼn biblioteek ingerig,” verduidelik Lötter.

Sy vertel dat skoolkinders in die middae met hul huiswerk bygestaan word, terwyl hulle ook aan ander opvoedkundige aktiwiteite deelneem. “Ook hulle ontvang gesonde eetgoed wat spesiaal by die sentrum voorberei word. Daarby beskik die sentrum oor ’n busdiens wat kinders by die skool oplaai en weer smiddae by die huis aflaai.”

Ons Plek het ook sy eie privaat kunsskool waar verskeie kinders al in kuns uitgeblink het. Gedurende vakansietye word daar ʼn spesiale program vir kinders aangebied, wat bak-en-brou-sessies en kunsaktiwiteite insluit.

Lötter sê die hulp en ondersteuning vanuit die gemeenskap is oorweldigend. “Ons het ongelooflike vrywilligers, van wie sommige maatskaplike werkers en skoolhoofde was. Daar is ook ’n heeltydse vrywilliger wat daagliks vir die kinders kos voorberei. Dan is daar ook iemand van die plaaslike biblioteek wat gereeld vir die voorskoolse kinders kom voorlees. Die behoefte in die gemeenskap is nietemin groot; enige skenkings en hulp van vrywilligers is steeds welkom en nodig.”

Die sentrum steun veral op Helpende Hand se Kosblikkieprojek vir finansiering, maar ontvang ook verskeie skenkings vanaf boere en lede van die gemeenskap. Meyer le Roux van Buffelsfontein Baardolie-faam het boonop ʼn splinternuwe klimraam ter waarde van R20 000 aan die voorskoolse kinders geskenk.

Lötter vertel met trots dat die kinders wat by die sentrum betrokke is, uitblink en uitstekende vordering toon. Vier van die kinders het byvoorbeeld gesogte eisteddfod-kunspryse gewen, terwyl ’n ander kind, Christiaan Smit (17), bo sy moeilike omstandighede uitgestyg het en ʼn reusesukses van sy skoolloopbaan maak.

“Christiaan kon aanvanklik weens finansiële druk nie skool bywoon nie. Helpende Hand het ingegryp en vir hom plek in die vaardigheidsafdeling van Mondeor Eco-skool gekry. Hier het hy dadelik begin floreer en verskeie pryse by die skool se jaarlikse prysuitdeling verwerf. Hy is nou selfs hoofseun van die skool!”

Mense wat graag by Ons Plek betrokke wil raak deur ʼn vrywilliger te word of ʼn skenking te doen, kan Lötter bel by 079 733 9477 of ’n e-pos stuur na [email protected].

Let wel: Helpende Hand beplan om teen die derde kwartaal van vanjaar nog ʼn soortgelyke gemeenskapsentrum in Derdepoort, Gauteng, op die been te bring. Die sentrum sal soortgelyke funksies vervul. Vrywilligers wat graag by die sentrum betrokke wil raak, kan Herman Kloppers bel by 073 408 2226 of ’n e-pos stuur na [email protected].

Hierdie berig is oorspronklik op Solidariteit se webblad gepplaas. Besoek hulle gerus hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Alet de kock Strand ·

Ek mag nie die kans laat verbygaan om n lansie te breek vir Ons Plek! My Vierjarige kleindogter is een van die eerste kinders wat daarheen gegaan het! Sy was van dag 1 af dol gelukkig en maak my mal vakansies net om terug te gaan skool toe! Sy leer so baie daar en kom elke dag met iets nuuts huis toe! Ons plek is werklik n groot baken in die strand!

jaco ·

Ek het eenkeer deelgeneem aan ‘n hulp-aksie saam met Solidariteit en die VF-Plus. Ons het gehelp om ‘n wendy house in ‘n oorwegend wit plakkerskamp op te rig. Net die wit vroue en die enkele Kleurlinge wat daar bly, het gehelp. Die wit mans het net vir ons gekyk en wat my opgeval het, was dat hulle ALMAL gerook het. As jou in jou armoede nog kan sigarette bekostig en as jy in jou armoede nie bereid is om ‘n hand by te sit teenoor diegene wat ‘n ekstra dak oor jou kop kom oprig nie, kry jy nie regtig swaar nie.

NieSo ·

Jaco, jou kommentaar het meriete, maar die anderkant van die saak is dat hulle soms daar is omdat hulle totaal-en-al moed verloor het in en met die lewe. Hulle het geen motivering nie en bes moontlik depressie en kan teen alle pogings in hulleself nie sover bring om tot aksie oor te gaan nie. Die sigarette is iets wat ek en jy nie sal verstaan nie, maar is heel moontlik ‘n kruks/troos en vir daardie oomblik raak die spanning en kommer effe verdoof.

Izzy ·

Dankie Solidariteit en elke vrywilliger wat betrokke is deur finansiele bystand of om moue op te rol en te help. Hierdie kinders is deel van ons toekoms!

Herman ·

Dankie dat julle julle dit REG doen. Soos hierbo reeds genoem is, is baie van die “behoeftige” groot mense maar lekker traag om te werk, maar julle begin met die kinders. Deur die kinders van kleins af met kennis en hop te vul, verbreek julle hopelik die siklus van moedeloosheid en selfbejammering.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.