Ons sal self die toekoms van skole verseker

Leon Fourie is die uitvoerende hoof van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum. (Foto: Verskaf.)

Na die aankondiging van die afsonderingstydperk het die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) dadelik weggespring om regstreekse uitsendings vir die agt kernmatriekvakke te doen wat deur meer as 7 000 matrikulante bygewoon is.

Volgens Leon Fourie, die uitvoerende hoof van die SOS, was dié organisasie nog altyd gereed om ondersteuning aan skole te bied, maar die inperking het die behoefte waarin dit voorsien net soveel vinniger groter gemaak.

“Danksy die veerkragtigheid van die SOS se personeel was dit moontlik vir ons om oplossings te bied vir duisende onderwysers en leerders oor Suid-Afrika heen,” sê Fourie.

Binne ʼn paar dae het die SOS se Wolkskool-platform uitgebrei sodat dit van die ongeveer 10 000 leerders tot meer as 120 000 leerders kon help en die funksionaliteit van die platform is in ʼn volledige leerderbestuursplatform omskep.

“Ons het spesialisonderwysers gekontrakteer en ons personeel tot 52 lede uitgebrei om te help om die nodige inhoud vir die Wolkskool te skep.

“Die Wolkskool is tans besig om inhoud vir al sewe laerskool- en 15 hoërskoolvakke te ontwikkel. Daar is reeds duisende videolesse, assesserings, werkkaarte en hulpbronne op dié platform.”

Fourie meen individuele leerders kan die Wolkskool aanwend vir bykomende klasse deur die hele jaar. Skole kan dit ook gebruik om hul eie waardeaanbod aan ouers teen ʼn fraksie van die koste te verhoog. Onderwysers kan die Wolkskool gebruik om vervlegte leer in te stel waar kennis oordrag by die huis is en leerders voorbereid in die klas inkom. Huiswerk kan in die klastyd gedoen word om sodoende hulle fisieke onderrigtyd optimaal te benut.

“Die opleiding van onderwysers het voortgegaan, maar in ʼn nuwe aanlyn formaat met ons eerste virtuele kongres in September. Ons kon deurlopend aan meer as 30 000 opleiding bied oor hoe om byvoorbeeld die Covid-19-krisis te hanteer, oor verskeie regsake, asook hoe om nuwe tegnologie doeltreffend in die klaskamer aan te wend.”

Fourie sê die SOS het eintlik jare lank voorberei vir ʼn krisis wat hulle nie eers geweet het sou kom nie. “Nou het die krisis op sy beurt verseker ons is reg vir ʼn toekoms van wêreldgehalte Afrikaanse onderwys met die regte tegnologie aan ons kant.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Dankie Leon en Solidariteit. Trots Afrikaans. Ons waardeer julle harde werk en jul volgehoue ondersteuning. Dit gaan nie ongesiens verby nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.