‘Ons salueer julle’

Foto ter illustrasie. (Foto: Oregongal/Pixabay)

Die hele Suid-Afrika is in ’n wurggreep gedompel as gevolg van ’n virus. Hierdie virus maak nie net mense siek nie, maar laat nare ekonomiese en maatskaplike spore agterna. Die virus versprei tans vinnig en die positiewe aanmeldings neem eksponensieel toe.

By Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike afdeling ervaar ons tans nie net die wurggreep van die virus op ekonomiese en maatskaplike vlak nie, maar vind ons ook die spore van die geweldige emosionele druk wat die Covid-19-virus op mense se gemoedere laat. Om hierdie rede wil Solidariteit Helpende Hand die volgende persone salueer en bedank vir hul voortgesette toewyding en diens aan ons gemeenskappe:

Mammas en pappas

Ons salueer elke mamma en pappa wat in hierdie tyd van uiterste uitdagings vir jul kinders die nodige liefde en ondersteuning bied. Ouers wat voortdurend ’n positiewe, gebalanseerde perspektief van die virus en die gevolge daarvan aan hul kinders gee. Ouers wat verskeie uitdagings – van skool tot finansies – trompop loop en by die horings pak. Ouers wat, ten spyte van al die uitdagings, positief bly, hard werk en hul verantwoordelikhede met toewyding aanpak.

Oumas en oupas

Dis vir Solidariteit Helpende Hand ’n voorreg om elke ouma en oupa wat ingeperk moet leef, te salueer. Ons hoor die hunkering wat julle na jul kinders en kleinkinders het. Ons verstaan die smag na ’n drukkie en ’n kuiertjie van familielede. Ons salueer julle, omdat julle, ten spyte van hierdie hunkering, positief bly, kontak met jul familie behou en familielede bemoedig om vas te byt.

Onderwysers

 Onderwysers het ’n groot taak om kinders positief, kalm en rustig te hou in hierdie onseker tye. Ons salueer elke onderwyser wat in die tyd van inperking alles in hul vermoë gedoen het om kinders op kreatiewe wyses, te onderrig. Verder salueer ons elke onderwyser wat volstoom in uiterste moeilike omstandighede hul beste lewer, lesse voorberei en vinnige aanpassings maak deur veral tegnologie aan te wend om ons kinders te onderrig.

Predikante en pastore

 Ons salueer elke predikant, pastoor of lid van die gemeenskap wat geestelike ondersteuning in hierdie moeilike tyd aan individue en gesinne bied. Ons mense ervaar hartseer, moedeloosheid en raak geestelik uitgeput, en sonder die nodige geestelike opbou en ondersteuning kan mense nie voortgaan nie. Dankie dat julle, ten spyte van jul eie uitdagings, moed en geloof na mense bring.

Maatskaplike werkers

Oor die land heen is daar soveel maatskaplike werkers wat elke dag die hartseer, nood en die verarming van mense in die oë moet kyk. Ten spyte van al die uitdagings lewer maatskaplike werkers toegewyd diens aan die gemeenskappe. Hulle lewer nie net ’n diens nie, maar probeer inspireer, moed inpraat en planne beraam. Hulle stel ander se behoeftes voorop en beklemtoon die waardigheid van elke mens. Solidariteit Helpende Hand salueer elke maatskaplike werker wat ten spyte van uitdagings en min hulpbronne, nog steeds hul taak in liefde en omgee uitvoer.

Mediese personeel

Solidariteit Helpende Hand salueer elke mediese personeellid wat dag en nag hul lewensroeping uitleef deur mense wat die Covid-19-virus opgedoen het, by te staan en te verpleeg. Julle sien die pyn, die hartseer, die lyding en soms ook die dood. Maar julle bring ook die hoop, die moed, die beterskap en die dankbaarheid by elkeen van ons. Dankie dat julle voortdurend toegewyd en in liefde jul werk in hierdie moeilike omstandighede doen.

Elkeen van julle is vir ons ’n voorbeeld van hoop skep, moed hou en dit herinner ons aan die goeie wat nog nie opgeraak het nie.

Dit is egter nou die tyd dat ons gemeenskappe hierdie omgee, liefde, opbou en saamstaan verder moet neem. Jy kan die krag van die gemeenskap verder ontsluit, sodat maatskaplike ontwikkeling sterker bevorder word. Help Helpende Hand en ondersteun ons landwye strukture. Besoek www.helpendehand.co.za om jou naaste tak op te spoor.

  • As jy ook ʼn hoopdraer wil wees, maak ʼn skenking aan Solidariteit se krisisfonds. Die publiek kan skenkings maak aan die Solidariteit Beweging se noodfonds om hierdie projek te ondersteun by Helpendehand.co.za of by www.krisisfonds.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kokerboom ·

Diepe dankbaarheid vir almal se onbaatsugtige harde toegewyde werk!

JJ ·

Kom ons praat daaroor. Mnr Panday, my buurman in die woonstelblok bring vir my wildsbokwors. Ek ken hom nie eintlik nie. Ek bedank hom later en in die gesprek kom dit uit dat hy mense ook help. Hy stuur my toe later ‘n paar foto’s om te wys wat hy naweke doen. Sy bakkie vol gelaai met brood, fotos van groot potte kos op gasstowe, kinders rondom die tent in Kraaifontein wat wag op kos. Hy doen dit ongevraag. Elke Saterdag. Met sy eie geld. En ek is stil.

AndrewL ·

My saluut gaan aan al die polisiebeamptes. Hul werk buite in die koue tydens padblokkades, worstel met ongeskikte burgers en misdadigers, probeer byhou met bynna daaglikse veranderings in instruksies en politieke wense wat in opdragte manifesteer .

Hul blootstelling aan die virus is uitermatig hoog.

Dankie daarvoor.

Dankie ook vir mense in die sekuriteitsbedryf wat nou saamstaan en werklike vennootskappe met die polisie smee om die verhoogde misdaad tendense in toom te hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.