Ons Winkels maak oud weer nuut

(Foto verskaf deur Ons Winkels)

Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkel-skenkingswinkels het die afgelope Paasfees gevier deur nuwe lewe in ou huisware in te blaas.

Volgens Johan Nel, uitvoerende direkteur van Helpende Hand Sake, het elk van Helpende Hand se 118 Ons Winkels landwyd deur die loop van April-maand aan dié opknappingsprojek deelgeneem en ou goed weer nuut gemaak.

“Elke winkeleienaar van ʼn Ons Winkel moes ʼn item of twee uit die winkel kies om op te knap en waarde tot die item toevoeg. Die eienaar kon self die item kies wat hulle wou opknap en enigiets daarmee doen waarvoor hulle kans gesien het,” sê hy.

Die riglyn was duidelik en die eienaars het te werk gegaan om hierdie item weer nuwe lewe te gee. Enige iets van verf, gom en gare kon gebruik word om die item te transformeer. Die “nuwe” item is daarna terug in die winkel geplaas om weer verkoop te word.

Van deure, verskeie meubelstukke, ʼn kopstuk, ou musiekplate en kombuisbreekware is onder andere van die items wat opgeknap is. Die publiek het ʼn baie positiewe reaksie getoon en was mal oor die nuwe items. Dit het soos soetkoek verkoop.

“Hierdie projek was nie net ʼn lekker manier om kreatief te wees nie, maar bring ons ook terug na die ware betekenis van die Paastyd,” sê Nel.

“Paasfees is ʼn tyd om weer nuut te word in Jesus Christus en om te besef dat Jesus vir ons sondes gesterf het – die dag toe die ‘oud nuut geword het’. Dus dink ons dat die inisiatief ekstra spesiaal is omdat elke eienaar iets ‘oud’ gevat het en weer nuut gemaak het net soos onsself nuut geword het.”

Die Ons Winkels pak eersdaags weer hierdie projekte aan. Hou die Helpende Hand Ons Winkel Facebook-blad dop as jy meer van hierdie nuut gemaakte items wil sien.

  • Ons Winkels is ʼn sentrale punt in verskeie dorpe en stede landwyd waar die publiek tweedehandse items, waarvoor hul nie meer ʼn nut het nie, kan skenk. Enigiets wat by die huis in die pad staan kan geskenk word. Die goedere word dan verkoop om Afrikaanse studente met rentevrye studielenings te help en word ook vir verskeie van Helpende Hand se projekte aangewend. Die opbrengs stel Helpende Hand ook in staat om maatskaplike werkers in verskeie streke aan te stel en so ʼn blywende verskil te maak in die lewens van talle kinders en gesinne. Ondersteun die winkels deur iets te skenk of gereeld daar vir winskopies, versteekte skatte en oudhede te gaan rondsnuffel. Besoek onswinkel.co.zaom jou naaste Ons Winkel op te spoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.