Ons Winkels reik uit met dade van hoop

ʼn Jongman wat as ʼn winkelassistent in dié Ons Winkel werk, het sy eie paar skoene daar en dan uitgetrek en vir die seun gegee. (Foto verskaf)

Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkel-skenkingswinkels herdenk vanjaar ʼn groot mylpaal met die uitbreiding van sy Dade van Hoop-projek.

“Die 100ste Ons Winkel is op 28 Julie 2021 in Hermanus geopen en dit is vir Helpende Hand ʼn onvergeetlike datum. Die 100 Dade van Hoop-projek is toe van stapel gestuur waar die winkels, benewens hul gewone opbouingswerk, iets besonders in hul onderskeie gemeenskappe kon doen om die geleentheid te vier,” sê Marné du Plessis, bemarkingshoof van Helpende Hand se Ons Winkels.

Helpende Hand se eerste Ons Winkel het in 2010 sy deure in Centurion geopen. Hierdie winkel bestaan vandag nog. Vanaf 2010 tot 2022 het Ons Winkel van slegs een winkel tot 120 winkels gegroei. Hierdie 120 winkels is elkeen uniek en lyk verskillend, maar die beste van alles is dat elke winkel uiteenlopende items verkoop.

“Vanjaar kon ons Dade van Hoop by al 120 Ons Winkels landwyd dryf. Elke winkeleienaar is versoek om ʼn item uit hul winkels as geskenk vir iemand in hul gemeenskap te gee en só iemand se lewe op te kikker.”

Bababenodigdhede, handboeke, leesboeke vir ʼn ouetehuis, ʼn paar matriekafskeidrokke, ʼn loopraam en komberse by ʼn kinderhuis is onder meer van die items wat teruggeploeg is in die gemeenskap waar dit nodig is. Een van die winkels het selfs sop en broodrolletjies uitgedeel.

“By een van die Ons Winkels is ʼn paar krukke en ander benodigdhede aan ʼn tehuis vir bejaardes geskenk. By ʼn ander winkel was dit sagte speelgoed wat as geskenk aan ʼn vrou gegee is vir haar klein kinders. ʼn Ander Ons Winkel het vir groot vreugde by ʼn plaaslike tehuis gesorg toe hulle Christelike boeke as geskenke opgemaak en uitgedeel het. Dié wonderlike projek het ons weer opnuut laat besef dat ʼn klein gebaar vir ʼn ander persoon baie kan beteken,” sê Du Plessis.

(Foto verskaf)

By ʼn Ons Winkel in Noordwes het daar ʼn gesin net voor toemaaktyd ingestap wat onlangs deur ʼn baie moeilike tyd is en hul ouma verloor het. Die gesin het die winkel kom besoek op soek na ʼn paar skoene vir hul oudste seun. Ongelukkig het die winkel nie die seun se grootte gehad nie en kon die winkel nie die gesin help nie. ʼn Jongman wat as ʼn winkelassistent in dié Ons Winkel werk, het sy eie paar skoene daar en dan uitgetrek en vir die seun gegee. Die winkeleienaar vertel daar is trane van dankbaarheid gestort.

“Is dit nie wonderlik om te weet dat daar minstens 120 mense, of selfs meer, oor die hele land is wat deur die projek geraak is nie? Dit maak nie saak hoe groot of klein die geskenk aan die mense is nie, dit is nog ʼn manier wat die Ons Winkels hoop kan gee en lewens kon aanraak. In tye soos dié waar die nood druk, word ʼn klein bietjie hulp baie waardeer. Ons hoop om in die toekoms die Dade van Hoop-projek uit te brei en dat hierdie spesiale dag keer op keer gevier sal word,” sê Du Plessis.

Besoek gerus www.onswinkel.co.za om die naaste Ons Winkel op te spoor. Besoek ook hul Facebook-blad by Ons Winkel – Helpende Hand vir meer inligting.

  • Helpende Hand se Ons Winkels is ʼn sentrale punt waar lede van die gemeenskap enige tweedehandse items, waarvoor hulle nie meer nut het nie, kan skenk. Die goedere word dan verkoop en die opbrengs word deur Helpende Hand vir verskeie doeleindes aangewend om voorspoed in Afrikaanse gemeenskappe te verseker. Honderde Afrikaanse studente word ook gehelp om aan ʼn geakkrediteerde tersiêre instelling te gaan studeer. Die winkels skep ook werk en stel boonop maatskaplike hulp in gemeenskappe beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.