#OnsBou – Bou Saam

foto1-Custom.jpg[promosie-artikel]

Ons mense is onder druk; hul gemoed is bedruk. Ons hoor van ras in die werkplek; ras op die sportveld; ras op universiteit; ras oral waar jy gaan. Ons sien geweld en ontwrigting – van die parlement tot op universiteitkampusse – en woongebiede brand weens diensprotes. Ons word aangeval bloot oor wie ons is. Ons geskiedenis word gekriminaliseer en ons monumente word gevandaliseer. Nie net apartheid nie, maar ook Jan van Riebeeck en Paul Kruger is die bose. Ons hoor van afleggings en ekonomiese druk en werksonsekerheid is aan die orde van die dag. Ons is bekommerd oor ons kinders; diskriminasie by opleidingsinstellings; druk op moedertaalonderrig en die toekenning van studiehulp op grond van ras. Ons mense kan tereg vra: “Is daar ’n toekoms?”

By Solidariteit laat ons nie toe dat die toekoms met ons gebeur nie; ons bou ’n toekoms.

As ons mense in die werkplek geboelie word, bou ons die vakbond om sterker te wees en beskerm ons ons mense in die werkplek.

  • Volgens die meningsopnamemaatskappy, Gallup, is die mens se grootste behoefte ’n betekenisvolle werk en dít is Solidariteit se kernbesigheid.
  • Solidariteit het ’n span organiseerders en regsgeleerdes wat oor die 400 000 werksnavrae per jaar hanteer.
  • Op enige gegewe tydstip is 1 200 regsprosesse aan die gang.
  • Uit die regsgedinge wat ons aanpak, wen ons 87% daarvan.
  • In ’n gemiddelde jaar kry ons lede R200 miljoen se vergoeding vir beroepsbeserings en siektes en regsake. In ’n jaar word gemiddeld R200 miljoen aan vergoeding vir beroepsbeserings en -siektes en in hofsake vir lede beding.
  • R7,5 miljoen word jaarliks uitbetaal aan begrafnisvoordele.
  • Omdat werk so belangrik is vir Solidariteit belê ons miljoene rande in opleiding.

As ons universiteite aangeval word, sal ons veg om ons regte te beskerm, maar ons bou ook ’n nuwe Afrikaanse privaat universiteit, Akademia.

  • R50 miljoen is al uit die Solidariteit Boufonds en die Virseker Trust uitbetaal om Akademia te bou.
  • Die beste tegnologie word gebruik.
  • Solidariteit-lede kry afslag van 20% vir studies aan Akademia en hulle kry voorkeurtoegang tot studiehulp.

As die staat se tegniese kolleges in duie stort, bou ons een van die voorste kolleges in Suid-Afrika, Sol-Tech.

  • Sol-Tech is teen ’n koste van meer as R50 miljoen opgerig.
  • Net die beste toerusting en tegnologie word gebruik.
  • Sowat 1 000 jong, voornemende ambagslui is in opleiding.

As daar teen ons kinders gediskrimineer word met die toekenning van studiehulp, bou ons saam met Solidariteit Helpende Hand ’n studiefonds.

  • Die Solidariteit Helpende Hand Studiefonds is reeds R100 miljoen sterk en Solidariteit is die grootste bydraer.
  • Solidariteit Helpende Hand het die afgelope jaar studiehulp van sowat R30 miljoen aan 1 250 studente uitbetaal.
  • Oor die afgelope vyf jaar is studiehulp aan 5 210 studente verleen.

As daar op grond van ras teen ons mense gediskrimineer word, bou ons ’n regsfonds en vat ons die regering aan tot in die konstitusionele hof en by die Verenigde Nasies.

  • Solidariteit het Renate Barnard se saak oor rassekwotas tot in die konstitusionele hof geveg.
  • ’n Klag teen die Suid-Afrikaanse regering se kwotabeleid is by die Verenigde Nasies ingedien.
  • Die stryd van DKD-werknemers teen rassediskriminasie is ook tot in die konstitusionele hof gevoer.
  • Die Suid-Afrikaanse Polisiediens se regstellendeaksieplan is deur die arbeidshof in die geheel as onwettig verklaar.
  • Ondersteuners van Solidariteit dra reeds R1 miljoen per maand by vir ons stryd teen rassekwotas.

As ons kultuur en erfenis aangeval word, help ons om Afrikaanse en Afrikaner-instellings te bou.

  • Ons help om die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge uit te bou, wat onder meer ’n internetmuseum vir die Afrikanergeskiedenis, die Kultuur en Afrikaanse Ekspo en die N.P. van Wyk Louw-sentrum as projekte bedryf.
  • Solidariteit is ’n aandeelhouer van Kraal Uitgewers.
  • Solidariteit is ook lid van die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting en dra by tot verskeie ander projekte.

As die openbare media instrumente van die staat word, bou ons ’n nuwe mediahuis, Maroela Media, en help ons om gemeenskapsradiostasies soos Pretoria FM te bou.

  • Maroela Media het bykans ’n miljoen unieke besoekers per maand en is die tweede grootste Afrikaanse webwerf in Suid-Afrika.
  • Solidariteit help om Pretoria FM uit te bou tot die grootste onafhanklike radiostasie in Suid-Afrika.

As die staat verswak, bou ons die Solidariteit Beweging wat ’n toekoms moet help skep waarbinne ons vry, veilig en voorspoedig kan wees.

  • Solidariteit het reeds sowat 15 jaar gelede begin om die Solidariteit Beweging te bou.
  • Daar is 18 instellings in die Beweging.
  • Die groot ledeinstellings sluit AfriForum, Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand in.
  • Verder maak kultuurinstellings, media-instellings, opleidingsinstellings en finansiële instellings deel uit van die Beweging.
  • Die Solidariteit Beweging se vyfjaarbegroting beloop meer as R3,5 miljard.

Solidariteit sien homself as deel van ’n moderne Helpmekaar-beweging. Ons put ons historiese energie uit die opstaantydperke ná die Anglo-Boereoorlog, die Rebellie van 1914 en die Depressie en armoede van die 1930’s.

Dit was die tyd toe Afrikaners deur gemeenskapsinstellings opgestaan het. Dit was die tyd toe skole, die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie, Sanlam, Santam, Volkskas en later die Voortrekkkers, die Afrikaner-Broederbond, die ATKV, die Reddingsdaadbond, Federale Volksbeleggings en die Afrikaanse Handelsinstituut gebou is.

Elkeen het sy deel gedoen. Daar is koeksisters gebak, verkopings gehou, debatsaande is aangebied, kollektelyste is versprei. Al hierdie bydraes het tot ’n nuwe toekoms gelei.

Binne Solidariteit bou ons al ons instellings met die klein bydraes van duisende mense. Elke Solidariteit-lid dra R10 per maand by tot die Solidariteit Boufonds. Met dié tien rande bou ons ’n universiteit en ’n tegniese kollege. Danksy Solidariteit-ondersteuningslede se debietorderbydraes, wat al R1 miljoen per maand beloop, kon ons ’n fonds opbou waarmee ons regsake kan aanpak – van die arbeidshof tot in die konstitusionele hof en tot by die Verenigde Nasies. Elke Solidariteit-lid gee R5 per maand vir studiehulp wat aan behoeftige lede se kinders beskikbaar gestel word. Dié vyf rande het al miljoene rande geword. Deur korttermynverskering en ander finansiële bronne mobiliseer ons miljoene rande waarmee ’n toekoms gebou word.

Al hierdie bydraes – die R5- en R10-bydraes, debietorders, versekeringspremies en ander bydraes – is die moderne weergawe van die koeksisters van ouds. Klein bydraes word groot en elke persoon se aansluiting by Solidariteit is nóg ’n bousteen waarmee ons ’n toekoms bou.

Bou saam met ons ’n toekoms en ondersteun Solidariteit. SMS bloot “ONSBOU” na 34802, of besoek www.onsbou.co.za.

Artikel verskaf deur Solidariteit

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

John ·

Hoe skakel ander rasse hierby in? Word hulle ook gehelp, bv Kleurlinge wat Afrikaans praat?

Xa ·

Alhoewel dit belangrik is om aliansies te he met ander rasse moet ons onthou dat die staat roem daarop om ander rasse te help en ons heelted af te pers, so as Solidariteit maar net almal help soos die staat se hulle doen Dan sit ons maar net alweer agter. Ek betaal klaar swaar belasting om heelted net ander te help en om beleid te bou wat ons wil doodmaak, so eks gatvol.

Xa ·

Om bydraes te maak aan ander rasse gaan Kyk op die department of social development se website wat trots in Engels aangebied word, daar is derduisende organisasies wat mense van ander rasse help, sommige help slegs mense van ander rasse en le klem daarop dat hulle nie wittes help nie, dit sluit ook die regering in, so om SARS te vra om jou persoonlike belasting hoer te maak is ook n opsie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.