Onthou die ware rede vir Kersfees

Die sakevrou Elma McKenzie. (Foto: Hanneri de Wet, Leef-tydskrif.)

Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds (so gespel om te beklemtoon dat alles nie altyd reg loop nie), poog om deur vroue se verhale en ervaring, meisies en ander vroue te bemagtig en inspireer. Elma McKenzie, ambassadeursvrou van die FroueVonds en stigter van die Placecol-kosmetikareeks, doen ’n beroep op lesers om Jesus deel van hul Kersbeplanning te maak.

Maak Kersfees 2020 onvergeetlik

Met groot nostalgie verlang ek na die eenvoud van Kersfees soos wat ek dit in my kinderjare kon ervaar het. Na familietyd, waar groot gesinne almal saam in kleiner huise kon kuier en aan ouma se tuisgemaakte boerekos kon smul. Ek verlang na ’n tydperk, lank voor tegnologie – waar kinders vreesloos buite kon speel, aan tuisgebakte koekies kon smul en mekaar met kraakvars waatlemoenstukke kon rondjaag.

Ek verlang na ’n minder materialistiese tyd.

Ek wonder, as Jesus elke tree saam met ons sou stap in ons beplanning rakende Kersfees, in ons soektog na geskenke vir mense wat eintlik niks nodig het nie. Waar is Hy in ons beplanning vir ’n onvergeetlike lekker somervakansie by die see?

Ons sien daagliks die gevolge van die tuimelende wêreldekonomie, werkloosheid en alle faktore wat armoede laat toeneem. Soms raak ons blind vir die realiteite om ons – van moedelose, verarmde mense, siek mense (sonder ’n mediese fonds) en mense wat wonder waar môre se brood vandaan gaan kom…

Kan ons nie eerder ’n onvergeetlike Kersfees 2020 betree met ’n gesindheid waarin “ek” kleiner word en my behoeftes minder raak en die koninkryk van Jesus groter en meer word nie? Sou ons kinders nie dalk meer lewenslesse leer as hulle kleiner geskenkies sou kry, maar meer van barmhartigheid en naasteliefde leer deur hulle te betrek in ’n projek om geskenkies aan diegene wat niks het, te gee nie?

Kom ons neem Jesus opnuut weer saam in al ons Kersbeplanning! Kom ons gee opnuut weer alle lof en eer aan koning Jesus – want Kersfees gaan oor Hom en nie oor nietige, klein mensies nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.