Ontmoet die vrou wat geliefdes herenig

Esmari du Toit. (Foto: Verskaf)

Esmari du Toit se stokperdjie is vol hartseer verhale, maar dis ook een waar drome dikwels bewaarheid word. Sy herenig familielede wat weens omstandighede jare lank van mekaar geskei was en dikwels nie eens van mekaar se bestaan geweet het nie.

Du Toit (36) het reeds honderde soektogte uitgevoer en veral bekendheid verwerf met haar verskyning op die televisieprogram, Waar begin ek soek, wat op VIA uitgesaai is.

“Dis die wonderlikste gevoel wanneer ek uiteindelik al die los drade van ʼn persoon se verlede bymekaar kan trek en byvoorbeeld ʼn vrou, wat dekades lank gewonder het oor haar dogter wat as baba aangeneem is, se kind kan opspoor en vir haar sê dat sý ook na haar ma gesoek het. Of wanneer ʼn persoon wat as kind aangeneem is en oor ʼn ontmoeting met ʼn biologiese ouer gedroom het, hoor dat daardie ouer dieselfde droom oor die verlore kind gekoester het,” vertel Du Toit. Sy verskaf dié diens gratis en sit dikwels tot laat in die nag nog om die los drade bymekaar te bring.

Sy het onlangs ʼn 67-jarige vrou met haar vyf sibbes, van wie se bestaan dié nie eens geweet het nie, in aanraking gebring en met Maroela Media gesels oor hoe haar soektogte in 2017 begin het.

“Ek het op ʼn Facebook-inskrywing, “Wie is Jan?”, gereageer waarin ʼn vrou na haar biologiese pa gesoek het, maar net sy noemnaam geken en ʼn foto van hom gehad het.

“Naomi Dames wat die vrou gehelp soek het na Jan, het my gevra om ook te help en sy het my touwys gemaak oor hoe om die aanvanklike navorsing in argiewe en webwerwe op die internet te doen,” vertel Esmari wat saam met haar man en kinders op ʼn plaas in die Langkloof, digby die skilderagtige dorpie Herold, woon.

“Ons het Jan se familie gevind, maar hy was reeds oorlede en sy kinders wou niks van hul halfsuster weet nie. Gelukkig was ʼn neef bereid om familiefoto’s te deel en dit het wel berusting vir die vrou gebring,” sê Du Toit.

Du Toit meen haar nuuskierigheid is wat haar so suksesvol maak. “En ek glo dat ons almal op ʼn manier aan mekaar verbind is. Iewers moet iemand iets weet of iemand ken wat nog iemand ken en natuurlik speel toeval ook soms ʼn rol. Soms is mense wat mekaar soek al jare bevriend of selfs bure sonder om te weet dat hulle eintlik naby verwant is.”

Stamboomnavorsing word soms ingespan omdat kinders dikwels na hul ouers of grootouers vernoem word. Daar is ook webwerwe soos Familysearch.org wat kerkdokumente, doodskennisgewings en huweliksregisters stoor en dit kan meestal gratis gebruik word.

Nog ʼn webwerf, Gendatabase.com, vra ʼn maandelikse fooi, maar kan doeltreffend ingespan word indien jy ʼn naam, van en ʼn idee het van die geboortedatum van die persoon na wie jy soek, verduidelik Du Toit. Die nasionale argief het ook inligting oor sake wat by howe geregistreer is, soos skeisake, boedels of doodskennisgewings, wat haar ook kan help in haar soektog na iemand.

“As jy die verwysingsnommer daar kry, kan jy weer op Familysearch.org gaan soek na die dokument,” sê Du Toit.

Tokkie en Angela Venter. (Foto: Verskaf)

Sy probeer om nie emosioneel betrokke te raak by haar soektogte nie, maar kry dit nie altyd reg nie. Soos in die geval van Angela Venter van Pretoria wat 40 jaar na haar pa gesoek het en toe moes hoor dat hy sterwend aan kanker is.

Angela se ouers is geskei toe sy ʼn jaar oud was en sy het bitter min inligting oor haar pa gehad; sy naam was Tokkie Venter, hy was van die destydse Pietersburg, sy ouers het ʼn garage in Limpopo gehad en hoewel sy haar ouers se skeibrief met hul name daarop gehad het, was daar nie ID-nommers op die dokument nie.

Du Toit het Tokkie binne twee dae opgespoor en in Februarie 2018 het Angela met haar pa kontak gemaak. Hy was oorstelp om van haar te hoor, want hy het ook al die jare gewonder hoe haar lewe verloop het nadat hy haar as baba in haar ma se sorg afgeteken het.

“My liefde vir jou het altyd gebly, ek ontvang jou met ope arms en sal jou toevou met liefde en omgee,” het Tokkie per WhatsApp geantwoord.

Angela beskryf hul herontmoeting as ʼn wonderwerk en sê Esmari het haar kleintyd-droom bewaarheid. “Dit was die beste oomblik in my lewe, maar ek sien ook ʼn hoër hand daarin en wil getuig dat die Here my gebede verhoor het,” sê sy. Voor sy dood drie maande ná hul ontmoeting, het Tokkie ʼn Venter-saamtrek gereël waar Angela haar uitgebreide familie kon ontmoet.

Tydens die onlangse soektog na die 67-jarige vrou se onbekende verlede het Du Toit binne enkele ure die name van vier halfsusters en ʼn halfbroer gevind. Die vrou het nie van hulle geweet nie en hul oorlede pa wat 40 jaar gelede dood is, het ook nooit van sy ander dogter of vorige vrou met sy ander kinders gepraat nie.

“Al die partye is steeds oorweldig deur die nuus en probeer nog om dit te verwerk,” het die vrou, wat verkies om anoniem te bly, aan Maroela Media gesê. “Maar ek is net só dankbaar dat ek nou weet.”

Nie alle soektogte is egter so maklik nie. Soms neem dit maande vir ʼn deurbraak en soms kom die deurbraak nooit nie.

Du Toit is tans besig om die voorgeslagte van Michelle Carolus van Oudtshoorn te boekstaaf. Michelle se familie het jare gelede hul grond as gevolg van gedwonge verskuiwings onder die Groepsgebiedewet verloor en sy wou meer daaroor te wete kom. Sy wou ook weet van haar oupa, Jan Botha, wat as lid van die destydse Kaapse Korps vermis geraak het terwyl hy tydens die Tweede Wêreldoorlog in Noord-Afrika diens gedoen het.

Die Bothas het vyf jaar ná die oorlog gehoor dat Jan dood is. Du Toit kon vasstel dat hy ʼn krygsgevangene was en dat die skip waarmee hy en ander gevangenes na Italië geneem is, naby die eiland Sicilië deur die Geallieerdes gesink is.

“Sover wys my navorsing dat daar ʼn paar lede van die Kaapse Korps op die skip was en dat almal gesterf het. Ek kon ook bevestig dat oupa Jan Botha se naam op ʼn gedenksteen by El Alamein in Egipte verewig is.”

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.