Ontvlug virtueel na dié plaaslike erfenisterreine

andries_pretorius_voortrekker_monument

Beeld van Pretorius by die Voortrekkermonument.

Terwyl dit niemand tans beskore is om Suid-Afrika se talle bekende óf verskuilde erfenisterreine in lewende lywe te besoek nie, is ʼn virtuele toer ʼn welkome ontvlugting die verlede in.

Jy kan byvoorbeeld jou Voortrekker-kennis op jou tyd en gemak opskerp deur die Voortrekkermonument van hoek tot kant te verken, jou seun ʼn ding of twee oor vliegtuie leer deur die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM)-museum te besoek, of die bitter stryd tussen Boer en Brit herleef met ʼn toer van die Melrose-huis, waar die Vrede van Vereeniging wat die Anglo-Boereoorlog beëindig het, in 1902 geteken is.

Virtuele toere trek museums en standbeelde ʼn nuwe baadjie aan en maak dit op interaktiewe manier ook vir veral die jonger geslag toeganklik. Boonop is dit ʼn manier om die perseel te dokumenteer en die inligting wat daar beskikbaar gestel word, vir komende geslagte te bewaar.

Schalk Meyer van die maatskappy 3DVirtualAfrica sê dat virtuele dokumentering aan die besoeker ʼn interaktiewe ervaring bied, sodat dit voel asof jy werklik daar is.

“Dit verskil van video’s deurdat die besoeker kan kies waarheen hy of sy wil beweeg, en hoe lank hulle ‘n area wil besigtig. Hulle het ook die opsie op die 3D-vloerplan of die pophuismodel van die museum te bekyk. Dit help besoekers om hulself te oriënteer sodat hulle gemaklik na verskillende dele van die museum kan beweeg,” sê hy.

Besoekers kan dus op die eerste vloer van die pophuis klik en direk interaktief in daardie deel inbeweeg. Diegene wat verkies om saam met ‘n toer rond te beweeg, het die opsie om die “auto play”-funksie te kies, wat die besoeker op ʼn vasgestelde virtuele toer neem. Die besoeker kan egter selfs tydens dié toer besluit om langer in sekere areas te vertoef of ‘n uitstalling in meer besonderhede besigtig alvorens hy/sy die toer hervat.

3D- virtuele tegnologie kan ʼn besondere rol in erfenisbewaring speel, omdat dit in besonderhede dokumenteer hoe ʼn museum vandag daar uitsien.

“Die onlangse tragedie toe die wêreldbekende Notre-Dame-katedraal in Parys afgebrand het, asook gereëlde vandalisme van monumente in Suid-Afrika, maak 3D- virtuele dokumentering vir argiefbewaring soveel meer noodsaaklik,” glo Meyer.

Elke projek is uniek en neem van twee uur tot vier dae om te dokumenteer.

“Die Voortrekkermonument het ons vier dae geneem om af te handel. Die gebou is sistematies van hoek tot kant geskandeer en elke hoekie en draaitjie kan ná die tyd besigtig word. Die 3D-kamera neem nie net visuele fotografiese besonderhede in nie, maar ook 3D-data wat met behulp van infrarooi- en lasertegnologie die presiese afmetings neem. Die 3D-data help om die akkurate vloerplan en pophuis te lewer en is ook van onskatbare waarde vir argitekte wat ou geboue moet herontwerp.

Die plan om plaaslike gedenkwaardighede te skandeer is ‘n langtermynprojek. Meyer is baie opgewonde oor ‘n beoogde driejaarplan om al die Erfenisstigting se gedenkwaardighede te skandeer – van die Taalmonument en Anglo-Boereoorlog-konsentrasiekampe tot die Bloedrivier-slagveld. Dit is alles egter onderworpe aan die nodige befondsing.

Daar is tans ses plaaslike historiese gedenkwaardighede geskandeer. Ontvlug gerus virtueel hierheen vir ʼn erfenisinspuiting as jou erf se vier mure jou vasdruk!

  1. Voortrekkermonument – Pretoria

Skakel: https://mpembed.com/show/?m=wBF1vLQiK8h&mpu=257

  1. Melrose-huis – Pretoria

Skakel:  https://my.matterport.com/show/?m=AgJcfCqCbj2

  1. President Steyn-standbeeld – Kovsie-kampus, Bloemfontein

Skakel: https://mpembed.com/show/m=4KQUSkBbr88&mpu=257

  1. SALM-lugmagmuseum – Pretoria

Skakel: https://my.matterport.com/show/?m=RbHvrVn6DfF

  1. !Khwa ttu San Museum – Yzerfontein

Skakel: https://my.matterport.com/show/?m=P2kiXmhxAd8

  1. Nelson Mandela-standbeeld – Uniegebou, Pretoria

Skakel: https://my.matterport.com/show/?m=J4EBVNJg66F

Hier is ʼn paar stap-vir-stap-riglyne om die virtuele ruimte baas te raak:

  • Om die gebou te verken, klik op die wit sirkels op die vloer om na die volgende posisie te beweeg. Dit is soos Google Street View, net binne die gebou. Deur die muis of die raakskerm te gebruik, kan daar van elke posisie in die rondte gedraai word om ‘n 360˚-beeld te kry voor jy na die volgende posisie beweeg.
  • Die vloerplanfunksie gee jou die opsie om verskillende vlakke se vloerplanne te sien.
  • Met die pophuisfunksie kan jy die gebou as ‘n geheel verken. Jy kan die hele gebou in die rondte draai en van alle hoeke af verken.
  • Gekleurde inligtingspunte (“dots”) is beskikbaar in die model. Die inligtingspunte bied ekstra inligting, dokumente, verslae en selfs foto’s en video’s. Hierdie inligtingspunte gee die besoeker ook toegang tot aanlynwinkels of besprekingsplatforms. Mens kan byvoorbeeld toegangskaartjies na die Voortrekkermonument koop, sowel as aankope by hulle aanlynwinkel doen vanaf die inligtingspunte in die 3D-toer.
  • Die speelfunksie neem die kyker op ‘n virtuele deurstaptoer.
  • Daar is ook ‘n meetapparaatfunksie wat die besoeker kan gebruik om afmetings te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.