Onverwagse helpers bring hoop vir SA

Neville Manchu saam met die twee mans wat hom gehelp het (Foto: Facebook)

Twee onverwagse helpers het onlangs weer opnuut hoop vir talle Suid-Afrikaners gebring toe hulle ʼn jongman langs die pad gehelp het wat ʼn pap band gekry het.

Neville Manchu (24), die man wie se motor ʼn pap band gekry het, het Vrydag ʼn inskrywing op Facebook oor dié voorval gemaak. Dié inskrywing het sedertdien al meer as 15 000 “likes” gekry en is meer as 6 000 keer gedeel. Kommentaar stroom in van sosialemediagebruikers wat hoopvol voel oor Suid-Afrika omdat twee mense van verskillende generasies, agtergronde en ras nie geskroom het om vir Manchu te help nie.

Manchu vertel aan Maroela Media hy was op pad van Potchefstroom af Bethlehem toe vir die vakansie toe hy sowat 15 km van Parys af ʼn pap band gekry het.

“Ek het ʼn bakkie by iemand geleen vir die reis, want daar was baie goed wat ek huis toe moes vat. Ek dink die bakkie was te vol gelaai en die band was van die begin af nie styf genoeg gepomp nie, so toe kry ek pap band. Ek was so opgewonde om huis toe te gaan dat ek nie die bakkie behoorlik nagegaan het voordat ek gery het nie,” het hy aan Maroela Media gesê.

Manchu moes noodgedwonge van die pad aftrek, maar het tot sy skok agtergekom dat hy nie die regte toerusting gehad het om sy band om te ruil nie.

“Ek het probeer om mense wat verby ry te stop om my te help. Ek het vir ʼn uur lank probeer, maar niemand wou vir my stop nie.”

Nadat Manchu talle motors verby hom sien ry het, het een uiteindelik vir hom omgedraai.

“Daardie twee ooms het eers verby my gery, maar toe omgedraai om my te kom help. Ek was só bly,” het hy gesê.

Manchu het gesê die twee mans het hul eie toerusting gebruik om die band om te ruil. Hul pogings is egter gekniehalter toe hulle agterkom dat hulle nie die noodwiel onder die bakkie kon uithaal nie.

“Wil jy weet wat het die twee ooms toe gedoen? Hulle het Parys toe gery en vir my ʼn tweedehandse band gaan koop! Hulle het vir my ʼn band gekoop en nie ʼn sent terug verwag nie. Ek was stomgeslaan, ek was in verwondering oor wie en wat God is,” het Manchu gesê.

“Hulle het nogal lank gevat om terug te kom van Parys af, en ek het naderhand begin dink hulle gaan nie weer terugkom nie. Ek was baie moedeloos. Maar toe ek hulle sien aankom, was ek verskriklik bly en baie opgewonde.”

Manchu sê hy is steeds stomgeslaan oor die twee mans se goedhartigheid.

“Hulle hoef nie te gestop het nie, hulle het sekerlik ook goed gehad wat hulle moes doen daardie dag. Maar hulle het besluit om my te help, én hulle het nie ʼn sent terug verwag nie,” sê hy.

“Vir my is dit net so mooi bewys van wie God is. Ek het baie wit vriende, so ek weet reeds dat wit mense liefdevolle mense is. Maar ek wou dit op Facebook plaas om die persepsie daar buite te verander. Daar is baie mense wat dink wit mense en veral boere, is rassisties. Maar ek wou net wys nie alle wit mense is só nie, en ek wil net probeer om daardie denkwyse te verander,” het hy gesê.

Manchu sê het daarna sonder enige verdere probleme in Bethlehem aangekom en vir sy familie vertel wat gebeur het.

“Ek het nie eens die mans se nommer gekry nie, maar ek is so dankbaar vir hulle. Alle eer aan God, want Hy is die enigste een wat die lewens en perspektiewe van mense kan verander.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

39 Kommentare

Rooikop ·

Dit wil gedoen wees ………….. Wel done aan die twee wit mans vir die hulp ………….

Sien, ons whities is nie so sleg en rassisties nie …………

Pensioenaris ·

Dis n mooi gebaar. Net jammer mens is nie meer veilig om te stop en te help nie. Wou al baie help, maar het dit oor dink.

coreen ·

Dankie Manchu … maak mens bly om so storie te lees… en wat n pragtige foto met tot die hond in (“,)..

vis ·

‘n slaggie brokkie goeie nuus. Gee daai twee ooms ‘n bells of dalk ‘n branna en coke vanaand in die local kroeg

Lindie ·

Maak my amper weer trots voel om n Suid Afrikaaner te wees!

Hoc est bellum ·

Respek het twee kante. Hulle was bereid om hom te help en hy noem hulle ‘Ooms’. Bly om te sien dat mense baie goed oor die weg kom sonder politici se hulp. Hamba kahle, Neville! Hamba kahle, Ooms!

Agie ·

Baie dankie aan daai twee boere harte

Dade spreek baie beter as woorde

Trots op julle

Gertryda ·

Laat my dink in die vroee 2000 kry ek n pap wiel op mooirivier pad
Blanke boere sê hul te haastig om ons te help. N ou swart man stop en hy en sy twee kleinkinders ruil band vir my om. Die mes sny beide kante toe

Swoosh ·

Ek mag seker nou hiervoor voor die vuur’peloton geplaas word…

Maar ek dink ons as Afrikaanse blankes moet sommer nou uit ons pad gaan om goed hartig en vriendelik te wees… die politisie wil ons juis die herrie in maak sodat ons ongeskik en haaks is… en dit dan gebruik om ons as rassisties uit te kruit…

Kom ons verras hulle met goeie dade en goed hartige gebare soos die, en oorspoel die media hiermee… soos hulle die media oorspoel met die kleinste rassistiese nuus wat hulle hulle smetterige kloue op kan le

Anna Patat ·

Kom ons doen presies dít Swoosh!
Daar is mense, veral sommige in hoë posisies, wat die meerheid burgers in hierdie land se onderlinge goeie verhoudinge wil kaap.
Vriendelike dade praat harder as bose woorde. Ons almal verlang so daarna.
SA, ek weet ons kan!

Zelda Boshoff ·

Dis nou n fantastiese voorstel. In Namibia waar ek vandaan kom werk dit so. Dis hoekom mense daar nie so sleg van mekaar praat soos ons hier nie. Ook is hul grondonteiening met vergoeding en net van boere wat oorsee sit met meer as een plaas. Groot verskil as mens goeie dade doen sonder om daaroor te praat. Laat ander daaroor praat en hul harte verander.

kolla ·

Begin by die supermark en vulstasie. Groet met ‘n glimlag op jou gesig. Jy sal verbaas wees oor die reaksie.

Sue ·

Baie dankie julle dat julle ‘n mede Suid-Afrikaner in nood gehelp het. Dankie ook aan Manchu dat jy hierdie goeie storie met ons gedeel het.

mc ·

Dood natuurlik, dis wie ons is, niks snaaks daaraan nie, maar die politiek saai onmin en verwydering en haat die hele wêreld vol.

sus ·

Hy is reg!!! en ja, ons kan almal in harmonie in hierdie mooi land van ons leef!!!

Kapenaar ·

Daar is duisende mense in hierdie land wat mekaar wil help en bystaan. Die kriminele elemente is baie in die minderheid, en hoe vinniger hulle uitgeskakel word, hoe gouer sal ons vrede in SA beleef.

MTSteyn ·

Die amptelike misdaad statistiek van SA (soos uitgereik deur SAPD en Stats SA) toon dat die kriminele element aansienlik groter is as wat meeste dink of wil voorgee, en baie sleg vertoon in vergelyking met ander derde wereld lande. 2,1 miljoen misdade gepleeg in 2018, met die erkenning dat die meeste misdaad in SA nie aangemeld word nie.

SA is ‘n misdaadparadys, en voorkeur bestemming vir misdadigers van die buiteland.

Blankes reik elke dag in hulle duisende die hand van barmhartigeheid uit na hulle werkers en kollegas, maar dit is ongelukkig meestal ‘n eenrigting aksie wat dikwels met hoon of agterdog begroet word.

JHK ·

Nou as ons seker gemaak het die bakkie is padwaardig en reg, dan sou die nie gebeur het nie, sonder om n onbekende bakkie nategaan, jy weet hys vol, die bande nie reggepomp nie, klim jy nogsteeds op die pad en stel mense se lewens in gevaar.

CS ·

Ek stem met Swooch, kom ons oordonder die negatiewe met positiewe dade. Daar is hoop as ons wil saam werk, sien dit in die akntoor opset hier in JHB, geen rassse spanning. Doen moeite om mekaar te verstaan. Politici is die groot probleem.

Heidi ·

Stem saam. Ek glo in elk geval die oorgrote meerderheid SA ners het meer goed as kwadebedoelings. Politici maak roekelose en onverantwoordelike stellings vir politieke gewin.

Swaeltjie ·

Net jammer dis ‘n uitsondering en nie die reël nie. Een swaeltjie maak nie ‘n somer nie.

kolla ·

My ondervinding is dat dit nie ‘n uitsondering is nie. Ek moet bysê dat die kanse groter is dat ‘n swart man jou gaan help as ‘n wit man, volgens my ondervinding in elk geval.

MTSteyn ·

Goeie daad, wat dan deur die massamedia baie lugtyd gegee word om ‘n skynbeeld te skets van wat kwansuis op ‘n daaglikse basis in SA gebeur. Dit word dan opgevolg met die gebruiklike kommentaar en nog meer voorbeelde van medemenslikheid tussen verskillemde rasse.

Soortgelyk; in Europa word daar op Europeers se gevoel van self-haat en liefde vir die vreemdeling deur die massa media gespeel om massa instromings moontlik te maak.

Die feit is, vir ‘n tydelike ‘vrede’ om in Suid-Afrika moontlik te wees, sal minderhede, veral Afrikaners met sy unieke taal en kultuur, volledig moet verdwyn. Uniekheid en uitskietende gedrag sal nie, en kan nie geduld word nie. Homogene volke = grootste kans op interne vrede.

Binnekort word daar weer op grond van ras in Suid-Afrika gestem, en is die mede mensliheid en versoenende gedra en respek vir mekaar se kulture lankal vergete. Politici vertroebel geensins verhoudings nie; politici omvorm bloot hulle beleid en uitsprake op dit wat reeds in die samelewing ‘n werklikheid is, en verseker dus sodoende stemme. Ek ken nie ‘n gesoute politikus wat iets kwyt sal raak waardeur hy sy ondersteuningsbasis sal verklein nie. Hierdie ouens se dit wat sy ondersteuners wil hoor.

kolla ·

Wat is die Afrikaner se “unieke” kultuur? Ek gaan lank wag vir hierdie antwoord….

Tank ·

Ag @Andre, jy swaai ook seker elke kans wat jy kry “bring die doodstraf terug” rond. Malema en taxis word rondgegooi soos van riebeek en apartheid.

George ·

Baie goed om te lees, maar ek kan almal verseker daar is daagliks derduisende goeie dade wat wel gedoen word en geen haan kraai daaroor nie. Neem van my kinderdae af op die plase ook. Bly deesdae in ‘n aftreeoord en sien daagliks wat inwoners alles vir hul werkers doen op verskillende maniere.

Klink lekker! ·

Als wat julle hier se, klink dit baie lekker om so te lewe met vrede en vriendelikheid! Ongelukkig het dit al vantevore gebeur dat wanneer iemand (blank) iemand anders (nie-blank) probeer help soos bv n saamry geleentheid tot in die dorp, dan word jou keel sommer af gesny! Die vriendelik groet met n glimlag kan gedoen word, maar dinge kon dalk anders uitgedraai het met die boere. Gelukkig het dit nie maar hulle is dun gesaai, hoe gaan jy weet wie jy kan help en wie nie?

Rooijan ·

Elke een moet van nou af vir mense langs die die pad stop.Kom ons kyk hoeveel “mooi verhale” dit gaan oplewer.

Krummel ·

Ek se al baie lank, die politici sweep die mense op die grondvlak op. Ek kom baie goed oor die weg met 95% van my kollegas. Inteendeel hulle is mal oor my, ons maak gedurig grappies onder mekaar. Ramaphosa en sy makkers beduiwel al hierdie goeie betrekkinge.

Peter Holmes ·

Ek het jare gelede twee keer met motors gaan staan ver van enige dorpe. In beide gevalle het swart mans by by gestop en gehelp. Wit mense het almal verby gery.

ChrisE ·

Daar is nog baie welwillentheid onder Suid Afrikaners. Ek is seker bevoorreg om dit te ondervind. Ek dink ek is “bekend” in die area waar ons woon. Ek kan oral by diensstasies stop en die manne draf dadelik nader. Ek ry nogal baie rond en oral word daar vir my voorrang gegee om by die verkeersvloei in te val. Dit is gewoonlik ‘n swart persoon of taxi bestuurder. Ek het een dag deur ‘n groot kruising gery en het die taxi bestuurder wat van voor af gekom het kliphard vir my geskree Hello boetie. Weet nie of hy my gekoggel het nie. Ek ervaar dit daagliks. Ons almal se gesindhede moet op standaard kom.

Natascha ·

Ja wys net, as daar n wil is is daar n weg. Ons is nie rassisties nie, of altans die meeste van ons, maar jul mense en veral die jonges wat nie eens gebore was in die apartheidsjare is so haatlik teenoor ons. Onthou haat word aangeleer en dit begin by jou huis. Leer die kinders van vroeg af om ander en hulself lief te he en te respekteer en moenie hul leer om te haat nie. Dit begin by ons ouer huise.
Liefde kan oorwin as almal en ek bedoel ALMAL hul kinders leer om hulself Lief te he en te Respekteer en so dan ook ander te behandel met Liefde en respek.

JJ ·

Jy’t wetend n onpadwaardige voertuig op die pad gesit, jy’t wetend met bande gery wat nie gepomp is nie, jy plaas ander se lewens in gevaar agv selfsugtigheid. Niks moois aan dit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.