Ooievaar besig by skool

Van links na regs: Corstiaan Vermaak, Gerrit Jacobs, Fanie van Wyk, Schalk Wessels en Ferdi Redelinghuys. (Foto: Verskaf)

Van links na regs: Corstiaan Vermaak, Gerrit Jacobs, Fanie van Wyk, Schalk Wessels en Ferdi Redelinghuys. (Foto: Verskaf)

Die ooievaar het vroeër vanjaar ʼn hele rits draaie by die Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria gemaak met vyf werknemers wat binne ʼn paar maande elkeen ʼn pienkvoet ryker geword het.

Dit gons op sosiale media sedert die skool ʼn skattige foto van dié jong pa’s, elkeen met ʼn baba op die skoot, gedeel het.

Ferdi Redelinghuys, ʼn biologieonderwyser vir gr. 9- tot 12-leerders, vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media die babas is almal enkele maande uitmekaar gebore. Schalk Wessels, wat Engels aanbied, se dogtertjie, Carmi, het einde Maart eerste haar opwagting gemaak.

Daarna is Redelinghuys se dogtertjie, Jua, en Corstiaan Vermaak, ʼn wiskundeonderwyser, se dogtertjie, Nienke, in April gebore. Gerrit Jacobs, ʼn wetenskaponderwyser, se seuntjie, Daniël, is einde Junie gebore en Fanie van Wyk, wat die skool se IT behartig, se dogtertjie, Abby, is begin Julie gebore.

“Ja, hulle is four jills and a jack,” skerts Redelinghuys oor die vier dogtertjies en een seuntjie.

Hy vertel die groep het toevallig die een ná die ander uitgevind hulle word saam pa. “Drie van ons het vir die eerste keer pa geword. Ek en Schalk het een pouse gesels en ek vertel hom toe van my vrou wat swanger is en dat ons vir ons eerste skandering gegaan het die dag.

Van links na regs: Corstiaan Vermaak, Gerrit Jacobs, Fanie van Wyk, Ferdi Redelinghuys en Schalk Wessels. (Foto: Facebook)

Van links na regs: Corstiaan Vermaak, Gerrit Jacobs, Fanie van Wyk, Ferdi Redelinghuys en Schalk Wessels. (Foto: Facebook)

“Hy vertel my toe sy vrou is óók swanger, en hulle is net so twee weke voor ons. Nie lank daarna nie het ons gehoor Corstiaan se vrou verwag ook nog ʼn dogtertjie. So het ons die een ná die ander ‘uitgekom’.”

Hy vertel laggend hulle het, veral vroeg ná die geboorte van die babas, op die skoolstoepe staaltjies en raad onder mekaar uitgedeel. “Drie van ons se babas het refluks gehad, so ons het baie raad daaroor uitgeruil.

“Ek en my gesin woon in Waverley in die Moot en daar is ʼn tannie met die naam Anna Cronjé. Sy was omtrent die groep se “baby whisperer”, want ons het almal met ons babas na haar toe gegaan.”

Al vyf babas is deur middel van ʼn keisersnit in die lewe gebring. “Gelukkig is ons al vyf mans, anders was daar nou ʼn skool wat in ʼn penarie sou wees met vyf vroue wat almal met kraamverlof moes gaan,” lag hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Hallelujah ·

Dis nou vandag net’n mooi storie – vyf doggies en een seuna en al die pa’s werk by een skool saam. Dis net te cute. Goeie storie vir die dag. God seen julle almal.

CG ·

Baie geluk, manne! Hierdie bevestig Solidariteit se demografiesyfers. Ons het ‘n 2,1 nodig, manne! Rond dit sommer af na 3! Geniet dit!

Corne ·

Haha, amper gedog dis kinders waarna verwys word, sjoe gelukkig nie.

Tammy ·

Pragtig!! Ek is met reg trots op julle oulike manne met die oulike kindertjies!!!!

Laurika ·

Ek dink iemand moet die drinkwater by daai skool laat toets! Baie geluk aan al die trotse pappas!

Lourens ·

My seun was in April 18, en HY was as baba by Tannie Anna Cronje!Maroela kan gerus ‘n artikel oor haar doen.

Paulie ·

Dis nou vreeslik oulik, maar hulle moet liefs al daai dogtertjies na die meisieskool in Bloemfontein stuur en nié na die een oorkant die straat nie.

Griet ·

Ag Paulie, moet nou nie lelik wees nie, toe? Dit is so ‘n pragtige storie, moet dit nie bederf nie…..

Daar is NIKS fout met enige van daardie twee skole, nie wat nie ook by die skool in BFN of enige ander AFRIKAANSE skool verkeerd sal wees nie. Beide is AFRIKAANSE, GOED GEDISIPLINEERDE skole wat kinders uit alle vlakke van die samelewing opvoed. As jou dogter of jy nie gelukkig was daar nie, is dit julle besigheid.

Vader weet waar ons as Afrikaners oor tien jaar gaan wees as ons (as AFRIKANERS) so aanhou om ons EIE af te kraak en te verkleineer. Die ge-agte Gauteng-minister van onderwys sal vinniger sy doel bereik om van Afrikaanse skole ontslae te raak as wat hy beplan het……

Ek sê maar net.

IK ·

Dis nou wat gebeur a.g.v. ledigheid! Veels geluk met die woelwaters!

JAN ·

Pragtig die moderne Pa’s wat kinders help grootmaak.
Oievaar? Aikona — ‘n
baie kleiner voëltjie!

Sue ·

Tannie Anna Cronjé het ons ook 16 jaar gelede raad gegee oor ons jongeling se voeding en roetine. En hy is ook ‘n Affie ;-)

Maggie Pringle ·

Watter pragtige storie. Baie trots op die Onderwysers. Baie geluk.

Abel ·

Lekker om weer sulke mooi stories te lees, baie gelukkig aan die 5 pappas en mammas. Dis tog alte lekker om ouers te wees en beslis ñ groot voorreg en eer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.