Oom Arend (95) se visie gee toekoms aan vele jongmense

Die Helpende Hand Studietrust vereer oom Arend met ʼn gedenkalbum. Van links na regs is Yolandi Theron, hoof van administrasie, Arend de Kock, Lizelle van der Klashorst, operasionele hoof, en Mia Wesseloo, fondsbestuurder. (Foto verskaf)

ʼn Toonbeeld van ʼn man van woord en daad is Arend Josias de Kock, wie se visie daarin geslaag het om te sorg dat minstens 83 Afrikaanse studente, tot dusver, in staat gestel is om te kon studeer.

De Kock, oftewel oom Arend soos almal hom noem, is ʼn bekende argitek van Pretoria en vier Woensdag, 31 Augustus sy 95ste verjaardag.

Oom Arend en die Solidariteit Beweging se paadjies loop al jare lank saam. Nie net lewer sy Arend Josias de Kock-trust ʼn groot bydrae tot Solidariteit Helpende Hand se Skooltassie- en Kosblikkie-projek nie, maar het hy ook 13 jaar gelede hande met die Helpende Hand Studietrust (HHS) gevat om studiegeleenthede vir hulpbehoewende Afrikaanse studente moontlik te maak.

“Niks gebeur net bloot toevallig nie. My seun, Hendrik, het destyds sy inspekteur van wiskunde-onderwys, Hennie de Wet, op ʼn vlug raakgeloop en my behoefte om jongmense te help met hom gedeel. Hennie was op daardie tydstip die korporatiewe bestuurder by die Rapportonderwysfonds en hy het my aan die Helpende Hand Studietrust voorgestel wat presies die organisasie was wat reg kon laat geskied aan my wense,” sê oom Arend.

Die Arend J. de Kock Studiefonds, vernoem na sy argitekspraktyk, is toe in 2009 op die been gebring. Die eerste skenking aan die studiefonds was oom Arend se woonhuis in Groenkloof, Pretoria. Sedertdien het die fonds gegroei en staan dit vandag reeds R3,6 miljoen sterk. Dit het tot dusver gehelp om onder andere onderwysers, mediese dokters, ingenieurs, prokureurs en vele meer in die werkplek in te stuur.

“Helpende Hand se studiefondsstruktuur is uniek saamgestel wat kontinuïteit van fondse skep. Bystand in die vorm van rentevrye studielenings word gedoen, wat beteken dat fondse terugvloei van afgestudeerde studente wat dan kan hersirkuleer om nuwe studente mee by te staan. Uiteindelik is daar ʼn byna onophoudelike vloei van fondse waar dieselfde aanvanklike skenking vir baie ander studente kan help,” verduidelik hy.

Die HHS het oom Arend onlangs vereer vir sy onbaatsugtige bydrae tot die toekoms van vele jongmense. Mia Wesseloo, fondsbestuurder van die HHS, het aan hom ʼn gedenkalbum oorhandig waarin al die studente vir hom dankie sê en ook hulde bring aan ʼn man en ʼn familie wat besluit het om ʼn fonds te stig wat ten doel het om die Afrikanergemeenskap by te staan.

Lizelle van der Klashorst, die operasionele hoof van die HHS, sê as deel van Helpende Hand se missie om Afrikaner-armoede te voorkom en te verbreek, is die trust verantwoordelik vir die bestuur en administrasie van meer as 200 studiefondse waarvan die Arend J. de Kock Studiefonds deel vorm.

Die De Kock-familie. Van links na regs is die egpaar Edalice en Rudolph de Kock, Arend de Kock, en die egpaar Hendrik en Elmari de Kock. (Foto verskaf)

“Dit is vir ons ʼn groot voorreg om hierdie fonds te mag bestuur en hierdie diens voort te sit. Dié fonds fokus spesifiek op die ondersteuning van veral hulpbehoewende Afrikaanse studente wat ʼn wil het om te studeer en veral wil kwalifiseer in skaarsvaardighede,” sê sy.

Volgens oom Arend kan hy nou met ʼn geruste hart weet dat die fondse met groot kundigheid bestuur word. Verder weet oom Arend dat studente, veral hulpbehoewende Afrikaanssprekende studente, gehelp word om ʼn kwalifikasie te verwerf en sodoende ʼn bydra as landsburgers in Suid-Afrika te lewer.

Oom Arend se raad aan mense is: “Wees gehoorsaam aan jou lewensroeping. Moenie net ʼn droom of visie hê nie, maar doen ook. Pak sake in vertroue aan en kry die regte vennote. Deur klein te begin, kan ʼn mens op die ou einde ʼn groot verskil maak.”

  • Oom Arend is in 1927 in Port-Elizabeth gebore. Hy studeer argitektuur aan die Universiteit van Pretoria en begin in 1959 sy eie praktyk, die Arend J. de Kock Argiteksfirma. Hy trou met Magdalena Catharina de Kock (néé Hough) op 21 Mei 1955. Vyf kinders, Johan, Hendrik, Rudolph, Francois en Anna-Marie, word uit die huwelik gebore. Hy het nege kleinkinders en sewe agterkleinkinders. Hy geniet tans sy aftrede in Pretoria.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Patch ·

Dankie Oom Arend, u visie stel al vir twee jaar my kind ook in staat om te studeer. Mag u visie nog vele jongmense se drome laat waar word. Mag God u ryklik seën.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.