Oom Herrie se kerrie: Die dubbele Saterdag

Foto: Pixabay

As ’n reël wikkel oom Herrie maar soggens baie vroeg – dis die stilste tyd om iets soos ’n nuuskommentaar se navorsing te doen en te skryf. Terselfdertyd kry mev. Herrie welverdiende rus. So af en toe sal iemand bitter vroeg bel, en dan is ’n man se gedagtegang versteur. Veral as dit ’n verkeerde nommer was.

Maar selfs op Saterdae en Sondae is laatlê hom nie sommer beskore nie – tensy ’n mens plassies en hondebolle in die huis wil opruim. Nee, Nala en Leyla moet maar liefs vroeg kans kry om hul dinge buite te gaan doen.

Maar dis nie asof laatlê, veral in die winter, nie af en toe lekker is nie.

So word oom Herrie een oggend baie vroeg “wakker”. Dis nog so ’n gedagtegeselsery oor of oom Herrie sal opstaan, of nog ’n bietjie warm lê, toe besef hy dis Saterdag. En nie alleen is dit Saterdag nie, dis ’n dubbele Saterdag!

Nee, oom Herrie weet nie in watter stadium van die “gedinkery” hy aan die slaap geraak het nie, want toe hy weer wakker word, is dit Dinsdag en die Saterdag lê nog wyd. En oom Herrie had g’n benul wat vir ’n ding ’n dubbele Saterdag sou wees waaroor hy so ’n uur of wat tevore so opgetrek was nie.

Dis eers ’n maand of wat later, met die Paaslangnaweek, wat oom Herrie besef wat ’n dubbele Saterdag dalk kan beteken. Dis nou as die Vrydag ook ’n vakansiedag is. Nie dat Oom Herrie Goeie Vrydag as ’n tweede Saterdag reken nie, maar daar is ander vakansiedae wat af en toe op Vrydae val.

Met dié dat hul oudste nou ’n plaasbestuurder naby die Paarl is, dink oom Herrie ook terug aan die dae toe die Herries nog op Stellenbosch gewoon het, en ma Johanna se broer buite Bloemfontein geboer het. In die winter is dit nog pure nag op Stellenbosch, dan bel oom Nico van die plaas af. Hy is dan baie verbaas om pa Jan so deur die slaap te kry, want in die Vrystaat is dit al toeka lig en oom Nico het al ’n slag van die lande af teruggekom.

En somers het ons kannetjies nog hier by half nege saans krieket in die straat gespeel, so laat gaan die son dan onder

Ja, daar in die Kaap word dit veral in die winters laat lig, en die skole se wintertyd is amper ’n uur later as die somertyd. En somers het ons kannetjies nog hier by half nege saans krieket in die straat gespeel, so laat gaan die son dan onder.

In die meeste plekke kan ’n mens al jare lank nie meer op straat speel nie. Wanneer laas het iemand byvoorbeeld ’n komp kaskarre by ’n skuins straat sien afjaag?

Of hoe ver mag die kleingoed met hul fietse ry? Dis net te gevaarlik.

Die laaste wat oom Herrie self as kind “veilig” op straat kon doen, was om saam met maats ’n tou op twee plekke oor die pad te span, sodat dit soos ’n gatsometer lyk. So word die haastige motoriste wat strate so onveilig vir kinders gemaak het, darem minstens skrik gemaak. Maar dit moes ook end kry toe dit een dag blyk dat daar anderkant die draai in die straat ’n régte gatsometer was terwyl ons effens laer af in die straat ’n fop-gatsometer “bedryf” het.

Dis egter nie net die mense wat nou grootliks as voetgangers en fietsryers wegbly van die strate af nie. Die ommuurde heinings hou die honde ook in. Wanneer laas het iemand ’n hond met ’n groot gejuig die straat sien afhol om ’n kar te probeer vang? Waar die buurt se honde in die dae voor die omheinings nog lekker met mekaar gespeel het, en iemand soggens die “voorreg” gehad het om ’n vreeslike klomp “landmyne” van sy grasperk af te skep, is dit ’n aardigheid om te sien hoe die honde mekaar nou deur die heinings wil gryp. Binne die erwe gaan die honde erg tekere en pak vreeslik tande uit. Op die sypaadjie spook die wandelaar met ’n gedierte aan ’n ketting wat ewe-eens die liederlikste geluide maak en so kwaai as moontlik probeer lyk. Ou Pumba, wat meer as vyftig kilogram geweeg het, het oom Herrie al ’n paar keer platgetrek.

Dis nie net die mens se psige wat verander met die stygende misdaad en die fort-wonings waarin ons gedwing word nie. ’n Hondelewe is ook nie meer wat dit was nie.

So dikwels weet ons so min van ons naaste bure en as daar fout kom, soos ’n inbraak, is dit ’n geskarrel om die buurmense van die teenspoed by hul huise te laat weet.

Op ’n dag hou ’n meubellorrie voor ’n huis stil, en die “werkers” dra die huis dolleeg. Die bure wat dit sien, dink niks daarvan nie. “O, die bure trek.” Toe die “getrekte” bure na die vakansie tuis kom, staan hul huis dolleeg. En hulle moes boonop verneem die bure rondom het gesien hoe die huis leeggedra word. Met die AfriForum-buurtwag gaan dit darem baie beter, want mense rapporteer enige iets verdags, en daar is patrolliemense wat gaan ondersoek instel.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae