Oom Herrie se kerrie: “Es die parra”

book-436507_1920“Kleinbrakrivier”, so beduie die omie wat die predikant voorstel wat dié Sondag die diens uit die strooidakkerkie met opslaanmure lei, “is vir baie inwoners hul permanente adres. Neem nou maar vir ds. Fourie hier … hoeveel beroepe het hy nie al aangeneem nie, maar elke Desember is hy hier by sy vaste adres.”

Sedertdien het Oom Herrie se “permanente adres” na Onrusrivier verskuif.

Onrus is, of was, ’n regte kultuurparadys … die tuiste van die skrywer Jan Rabie en sy skilderesvrou, Marjorie Wallace, Uys Krige, en selfs Breyten Breytenbach het ’n band gehad met sy ouers wat daar gewoon het. En dis maar enkeles.

Ma Johanna het juis haar plasie langs die rivier by die skrywer Jack Cope gekoop. Dié plasie bevat die grootste melkhoutlaning in private besit.

Ja, en Oom Herrie het as jong man ’n slag by Jan Rabie gekuier, en moes van sy seewierjellie eet.

Hoe dit gesmaak het, weet Oom Herrie regtig nie. Dit net in die mond gesit, die oë toegemaak, en groot gesluk.

Oom Herrie se idee is nie om Onrus en Kleinbrak teen mekaar af te speel nie. Kleinbrak se see en branders wen by verre – by Kleinbrak is die water darem so dat ʼn mens dieper as enkeldiep kan inkom, en die branders bied soms die bestes van “bodysurf-materiaal”.

Maar vanoggend wonder Oom Herrie: Het Kleinbrak darem ook bekende skrywers en skilders opgelewer?

Maar vanoggend wonder Oom Herrie: Het Kleinbrak darem ook bekende skrywers en skilders opgelewer?

En Oom Herrie weet regtig nie. Die bekendste skrywer waarvan Oom Herrie weet is Petro Hansen, wat sulke mooi rubrieke en lafenis vir die siel vir Netwerk 24 skryf.

Ja, Oom Herrie glo onse land en mense het sulke skrywers broodnodig. En sy is ʼn digter ook.

Oom Herrie het self hier en daar ’n ding gepubliseer, soos Die reine waarheid en ander liegstories, maar skryf gewoonlik nuuskommentare wat maar swaarmoedig kan wees en baie lesers warm om die kraag maak. En vir die radio ruimtenuus.

Dan is daar nog Ma Johanna se niggie van Pretoria.

Om redes wat aanstons sal blyk noem oom Herrie liefs nie haar naam nie.

Sy het kinderboeke geskryf. Een dag kom Oom Herrie daar, en sy het net beleef wat skrywers die meeste vrees: om ʼn manuskrip van die uitgewers terug te kry. Hulle soek rym en jambes en alliterasie en assonansie. Sy wil die manuskrip weggooi.

Oom Herrie, toe nog baie jonk, gryp ’n pen en nie lank nie rym die spulletjie, en daar is heerlike assonansie, alliterasie en jambes. Sy stuur weer in, en die keer word dit aanvaar.

Sy kry haar eie eksemplaar van die uitgewers, juis toe Oom Herrie weer ’n draai maak. Sy is ontsteld oor hoe die prente, insluitend die voorblad s’n lyk.

Sy gaan wys die boek vir die huishulp.

“Es die parra,” meen die huishulp, maar eintlik is dit veronderstel om ’n meisie op ʼn fiets te wees.

Kleinbrak se kultuur lê dalk meer in die mooi name wat inwoners vir hul strandhuise uitgedink word, soos Voetjieshang. Kraaines was nog ’n bekende wat Oom Herrie onthou. Een Desember het die wind en weer egter gesorg dat dit Raaines geword het, en sommer so gebly.

Die volgende Desember was nog net Anes oor en dis dadelik weer na Kraaines verander.

Oom Herrie se enkele pogings tot visvang (of liewer hengel) sou weens die kraaineste ’n naam soos &%$^! kon oplewer, maar Pa Jan het besluit dis Verreblik.

En nou, na byna 40 jaar, rus Pa se as permanent by die bruggie in die paadjie wat hy self van Verreblik na die see gebou het. Sy suster, tannie SC, rus langs hom, en Ma Johanna se plekkie is saam voorberei. Die vase waarin die as is, is deur Pa Jan se kleinseun wat hy nooit geken nie en sy naam dra gemaak.

Rus lekker Pa, so by Pa se permanente adres.

 

 

 

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ella ·

Soos altyd briljant geskryf. Weemoed, ‘n lag met ‘n traan, en kosbare herinneringe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.