Oom Herrie se kerrie: Genoeg vrywilligers om ’n vroueslaner reg te sien

neighbors-156089_640Herman Toerien

Een van die goeie dinge wat AfriForum ook vir ons woonbuurt aan die gang gekry het, is ’n veiligheidstruktuur wat werk. Heel anders as in die dae toe dit nog hoofsaaklik ’n maandelikse vergadering met die polisie was, en die meeste meenthuiskomplekse se veiligheidsverteenwoordigers nie eens gebodder het om op te daag nie.

Nou het die veiligheidstruktuur benewens patrollies ook nog ’n WhatsApp-groep. Almal wat deel van die groep is, weet taamlik gou wat aangaan – van verkeersknope en ongelukke tot iemand wat ontydig lawaai maak en huismoles.

Gisteraand laat weet een hy sien hoe ’n man ʼn vrou op die grond slaan en skop, maar hy kan die polisie glad nie in die hande kry nie. Wil iemand nie kom help nie? Die heel eerste reaksie is van ’n vrou. Sy weeg, seg sy, 110 kg en kan sy maar vir die man kom verduidelik? Die reaksie is oorweldigend en ’n mens roep ’n Middeleeuse beeld op van ’n gemeenskap wat met lanterns, stokke en hooivurke opruk om ’n moeilikheidmaker in die gemeenskap te gaan regsien. Darem so ’n bietjie anders deesdae – dié keer met selfoonflitse, pikstele, tuinvurke, pepersproei en skokstokke.

Oom Herrie is in Johannesburg gebore – in Braamfontein, om presies te wees. Maar dit was nie soos vandag nie. Braamfontein was arm, en ook later gesloop. Maar die mense daar was baie uiteenlopend. Pa-Jan het daar beland weens die gerieflike afstand van die universiteit waar hy werk gekry het. Ma-Johanna se neef, later ’n bekende oogarts, was daar, want hy kon by daai einste universiteit spesialiseer. En saam het hulle sakke vol stories oor die destydse Braamfontein gehad.

Des te meer omdat dit ook die dae van die nou legendariese zeffers was.

Oom Jurie (ma se neef) het graag vertel van die petalje wat hul jong predikant, die latere minister Punt Janson, beleef het. Punt was van universiteitsdae af ’n groot sport, en tref toe dié arm gemeente as sy eerste.

Die kerkraad besin oor ’n geldinsamelingsprojek. In die gemeente bly ook ’n afgetrede bokser, wat ’n slag of wat te veel teen die kop geslaan is. ’n Skyngeveg tussen hom en die dominee is net die ding, besluit die kerkraad.

So gesê, so gemaak. Die bokser vergeet egter alles van skyn toe die kok lui en hy gaan pleister die dominee. Die klok word inderhaas gelui. Met elke ronde duur dit bietjie langer voor die bokser vergeet dis skyn, en dat die dominee eintlik moet wen. In die proses lyk dit of die dominee ’n vreeslike “kambêk” maak.

Dis te veel vir sommige se vlees en bloed. Naderhand is van die tantes op hul stoele, sommige met babas in die een arm, die ander word vuis gemaak en in die lug geswaai: “M*&r hom, dominee, d*nder hom, dominee!” word dit uitgegil.

Naderhand is van die tantes op hul stoele, sommige met babas in die een arm, die ander word vuis gemaak en in die lug geswaai: “M*&r hom, dominee, d*nder hom, dominee!”

Pa-Jan was diaken in die woonstelgebou waarin ons gewoon het. Onder die besoekpunte was ’n paartjie wat baie liefies was as hulle nugter was, maar vreeslik baklei het as die bottel saamgekuier het. Een aand kuier die ouderling daar (by Pa-Jan-hulle) toe daar ’n rumoer by die paartjie uitbreek. Hulle gaan kyk, en sien ’n hele groep mans voor die paartjie se oop woonsteldeur. Hulle gaan loer ook. Die paartjie is lekker gekletter, die vroutjie poedelkaal.

“Trek aan vir jou!” skree die man en gooi klere in haar rigting. “Ek trek g’n voor vreemde mans aan nie!” skree sy terug en slinger die klere weer na die groeiende skare nuuskierige agies by die deur.

Dis nog ʼn hele ent van die einde van die maand en die leë bottels ook al verkoop, toe ’n klassieke zeffer besef sy en sy gesin se geldjies tot die einde van die maand is op. Einde ten laaste gaan hy na ’n vriend: “Ek sê, tjomma, hoe lykit met ’n las daar? Tot die einde van die maand, ek sê.”

“Jis, sorrie, my tjom, ek is self brouk, ek sê. Maar wat van die pônsjop en daai baaik waarin jy die gate in die eksôs gemaak het?”

“Die pônshôp?! Lyk ek vir jou soos ’n f&^%ken myner?”

“Hei, ek’s ʼn myner, ek sê!”

Buurmanskap kan ook baie heg wees. “Hei, buurman, as jou skoonma weer in die aand kaalgat in die kombuisdeur staan en na buite p*s, kom k*ts ek van naargeit in jou f*&ken jaart. Jy moenie saans so lank in die badkamer tittewyt dat die ou lydie dit nie meer kan hou nie, ek sê.”

Een persoon wat nie sommer sal inmeng as ’n man ’n vrou aanrand nie, is een van oom Herrie se voormalige base, oom Danie Nel. Jare tevore het hy in die ambassade in Londen gewerk, en saans gaan draf.

Oom Danie is ’n groot, fris man wat dit ook taamlik ver in judo gebring het.

Een aand so met die drawwery hoor hy ’n vrou gil (oom Herrie is nie ’n kenner van Londense en Engelse spreektale om te weet waarop die uitspraak dui nie).

“Help, help, soembôdie is moerderieng me!” gil die vrou onophoudelik. Oom Danie hardloop op die gille af, en dis pure stegies. Oplaas kry hy die twee in ’n doodloopstegie met asdromme op mekaar gepak. Hy gryp die man van die vrou af en slinger hom tussen die asdromme in, wat kletterend die man toeval. Maar die man trek nog deur die lug, toe skree die vrou: “Help, help, soembôdie is moerderieng me hoesbind!” Oom Danie sê hy is net so vinnig daar weg as wat hy aangekom het, en hou hom sedertdien taamlik doof vir hulpgeroepe.

Maar gelukkig, so het oom Herrie gisteraand agtergekom, die gemeenskap gee om en het nog ’n ridderlike ingesteldheid teenoor vroue in nood.

Maar gelukkig, so het oom Herrie gisteraand agtergekom, die gemeenskap gee om en het nog ’n ridderlike ingesteldheid teenoor vroue in nood. En tot tyd en wyl oom Herrie weens die chemobehandeling nie self veel kan vermag nie, sal hy maar die vrou van 110 kg se assistent wees so met die verduidelikslag.

As die vroue, soos gisteraand s’n, nie net die pad vat en weier om klagtes by die polisie te lê nie. En ’n dag of wat later weer terug by die man is, en weer aangerand word, en weer weier om ʼn klag te lê …

&

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

John ·

Katinka soek hoeka weer vir ‘n lekker draaiboek vir ‘n moewiese oorspronklike Afrikaanse fliek wat ons stresvlakke bietjie sal laat duik. Hoe lyk dit Herman?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.