Oom Herrie se kerrie: Kuga nie ál vurige vuurwa

hear so evil see no Deur Herman Toerien

Jare gelede het ’n vrouekollega van Oom Herrie met haar Duitse motortjie op ’n afgeleë plek gaan staan. Die kar, verduidelik sy toe sy oplaas in die beskawing terug is, het gesies. Vasgebrand weens oorverhitting smaak dit Oom Herrie. Voor die insident het sy die karretjie male sonder tal by die handelaar se werkswinkel gehad, ook net voor sy die lang pad aangedurf het en verseker is die moeilikheid is uitgepluis.

Teen dié tyd was Oom Herrie ook bewus daarvan dat dié modelletjie lief was om te oorverhit. Later het dit geblyk die moeilikheid het begin toe die karretjie plaaslik ’n Suid-Afrikaans-vervaardigde verkoelingstelsel gekry het.

Man of vrou, dis niks lekker om iewers te gaan staan nie.

Oom Herrie het een nag van Pretoria Bloemfontein toe gery, oor Hennenman. ’n Ent voor Hennenman kry Oom Herrie ’n kar wat gaan staan het. Die gesprek loop op ’n dooiepunt uit. Die man wil nie saamry nie, want dan bly sy vrou alleen agter in die kar. Hy wil ook nie dat sy vrou saamry en hy agterbly nie.

Ja, Oom Herrie het seker vreeslik na ’n molesteerder gelyk. Die uiteinde is hulle bly in hul stukkende kar agter, terwyl hulle ’n plan probeer prakseer.

Maar dit laat Oom Herrie dink aan ’n storie wat hy donkiejare gelede iewers gelees het. Die storie speel hom af in die dae van karre met slingers aan die brand kry.

Die gesin kom by ’n drif af op ʼn ander gesin wat duidelik daar gaan piekniek hou het, maar toe hulle weer wou ry, wil die kar nie aan die brand kom nie.

Die hele gestrande gesin is al pootuit soos hulle vergeefs slinger gedraai het.

Die weldoener hou stil en vra of hy kan help. Die gestrande man verduidelik hul lot en hy weet nie of die Samaritaan beter sal vaar nie. Maar hy loer in die kajuit, vroetel, en sê hulle kan maar draai. Skaars begin draai toe trek die rookwolke en die kar is brullend aan die brand (nie letterlik nie).

“Nou wat het jy gemaak?” wil die gedoente se eienaar weet.

“Nee, ek kan nie vir jou sê nie, want dan gaan julle kwaad wees vir ons.”

Verontwaardig sê die man maar hulle is heeltemal te dankbaar vir sulke onbehoorlike gedrag, en wat nou as dit weer gaan gebeur?

Uiteindelik sê die Samaritaan toe maar: “Die kar se sleutel was af.”

“Maar dit lieg jy mos nou!” Die voormalige gestrande gesin is net erg moeilik en lus vir baklei. Die Samaritaan en sy gesin ry al oor die bult, toe gaan die spulletjie by die drif nog gebalde vuis in die lug tekere.

Jare later het iemand, terwyl Oom Herrie by die werk was, sy motorfiets se enjinstop afgesit. Jis, maar Oom Herrie was pootuit, en ’n klomp weldoeners was pootuit teen die tyd dat Oom Herrie agterkom wat gebeur het.

Is dit ook haatspraak om na jouself as ’n aap te verwys?

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ella ·

Dankie vir die binnepret! Almal van ons vang een of ander tyd iets onnosel aan!

julius ·

Dit het met my gebeur met ‘n skelm skakelaar wat ek vir my bakkie ingesit het. Ons gaan doen besigheid in die stad ek vertrou nie die klomp in die parkeer area nie. Sit die skakelaar af en gaan winkels toe. Met die terugkom dorm bedelaars om ons vir ‘n paar sente en ek vergeet van die skelm skakelaar. Glo my ek het myself gevloek tot by die huis terwyl vroulief skelm lag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.