Oom Herrie se kerrie: Ma se vier lewens in een leeftyd

Foto: Pixabay

Dis Moedersdag.

Vroeg volgende jaar, as ma die lewe hou, word sy 90.

Lewe?

Die afgelope ongeveer ’n dekade leef ma asof anderkant ’n donker venster. Soms, aan die begin, was die spreekwoordelike venster op ’n skrefie oop en kon ons spoortjies van ma sien en ervaar soos wat sy was.

Soos wat sy was voor demensie in haar lewe kom nesskop het.

Voor sy na die sentrum geneem is, het ma ’n baie vol lewe gelei, en het sy ’n ekstra leeftyd uit haar geliefde Eldorado, haar plasie buite Onrusrivier, gehaal. Eintlik dink ek ma Johanna het soveel lewe uit die lewe gehaal soos vier gewone mense sou sukkel om te doen. Miskien omdat sy as skoolkind ’n jaar uit die skool verloor het weens rumatiekkoors dat sy so uitgehaal het om ’n vol lewe te lei – van die kerk tot die huis waar sy tuisteskepper en “tuinwerker” was, tot die tennisbaan, die operahuis en die binnekant van ’n klaskamer.

van die kerk tot die huis waar sy tuisteskepper en “tuinwerker” was, tot die tennisbaan, die operahuis en die binnekant van ’n klaskamer

Vanjaar is dit veertig jaar sedert pa Jan haar ontval het – sy nog nie vyftig nie, maar kon byna ’n kwarteeu se gelukkige huwelikslewe saam met pa Jan koester.

Saam met pa Jan was sy ook ’n paar jaar lank lid van Bloemfontein se korps van mooi mense. Beskeie lede van dié korps, en afwesig van groot opskoppe en kitsch-oorhandigings. Die operahuis was werklik, want pa Jan was nie net ’n ongelooflike kenner van klassieke musiek nie, hy was baie lief daarvoor en hy het min geleenthede laat verbygaan om in kore te sing.

Haar lewe is soos handomkeer verander toe pa oorlede is.

’n Taamlike kortstondige huwelik met pa se  neef, die Afrikaanse digter/skrywer Barend Toerien, bring haar nie net weer op haar voete nie. ’n Besoek aan hul plasie buite Kerhonsen, so 160 kilometer noord van New York, was ’n plesier, want ma het weer begin leef, en was weer vas op haar voete. In Suid-Afrika skaf sy en Barend saam Eldorado aan, en nou onlangs het ek nog ’n waterblommetjie verdwaald in die rivier gesien – ’n erfenis van Barend wat soveel waterblommetjies gevestig het dat ek genoeg kon oes vir ’n hele paar waterblommetjiegeregte. ’n Paar vloede het byna korte mette met die waterblommetjies gemaak, en juis daarom my aangename verassing om nog ’n plantjie te kry – wat ook net daar op sy plek gebly het.

Danksy Barend se kontakte skuur ma skouer met Onrus se skrywers en kunstenaars, en ek self eet een aand by Jan Rabie van sy eens befaamde seewierjellie.

Later is ma en Barend geskei, en nog ’n nuwe lewe het vir ma begin. Sy het as toergids in Stellenbosch se dorpsmuseum begin werk, en van daar kuratrise van die Paarl se dorpsmuseum geword. Dit kon sy word danksy kwalifikasies wat sy alles ná haar troue behaal het. As student het sy ’n diploma in huishoudkunde verwerf, maar as jong getroude in Stellenbosch het sy ’n BA en daarna ’n Honneurs in volkekunde deur Unisa behaal.

Toe pa Jan die stigtersdepartementshoof van Kovsies se nuwe mediese skool se departement anatomie geword het, het sy buitemuurs vir kunsgeskiedenis ingeskryf. Toe ek my BA-graad behaal, kry ma haar Honneurs in kunsgeskiedenis.

Maar nie lank as kuratrise in die Paarl nie, het haar laaste skof op eie bene aangebreek toe sy permanent op Eldorado gaan woon het.

Daar het sy harder gewerk as wat ek gedink het ’n mens kon werk. Vakansies, wat ek kon bykom, het ek reguit Eldorado toe geskiet, en my ook byna oor ’n mik gewerk om ma se las ligter te maak. So het dit gebly, al het ek besef selfs al sou ek die onmoontlike vermag, sal dit nog steeds nietig wees teen wat sy doen – sy het immers die elemente op haar gehad wat veroorsaak dat ’n oomblik se stilsit maak dat die natuur alles weer teruggryp – en nog sommer so ietsie ekstra ook.

Ma mag weens mediese redes lankal nie meer kruiwa gestoot het nie, maar as mens weer sien, kom sy met ’n skotteltjie klippe verby wat sy op een plek uitgegrawe het, en weer op ’n ander gaan pak het. Uit haar tuin het die lekkerste vars groente gekom.

En kort-kort sou ’n welmenende persoon my of my broer of suster eenkant roep en ernstig aanspreek oor ons toelaat dat ma so alleen op Eldorado woon, en nie in ’n ouetehuis nie. Selfs ná my broer en sy gesin in die woonhuis gaan woon, en ma die kothuis betrek het.

Ons kon ons haar nie indink weg van Eldorado nie. Sy was nog so volkome by. By haar leer ken ek Niekie van den Berg se program “Kommentaar” op RSG. Daarna mis ek dit nie sonder ’n goeie rede nie, en dié program skep ’n kameraderie wat toe ook vroulief Joan insluit.

By haar leer ken ek Niekie van den Berg se program “Kommentaar” op RSG

Nie dat ma nie voorsorg getref het nie. Sy het gou vir haar ’n woonstelletjie in ’n aftree-oord in Hermanus gekoop, en dit word steeds aan iemand anders verhuur.

Ons het almal gevoel dit is haar lewe op Eldorado wat haar so aan die gang hou.

En toe slaan die demensie toe. Eers byna onopmerklik, maar toe raak dit onvermydelik dat sy in die sentrum moet gaan woon. Teen die tyd dat ek die voorreg gehad het om self ’n paneellid van “Kommentaar” te word, het sy nie meer van haar gunstelingprogram geweet nie – en dalk ook nie meer wie ek is nie. Toe ek kanker kry, het my broer gesê, was dit nie duidelik of sy die nuus geregistreer het nie.

Nou is sy al lank aan ’n rolstoel gebonde. Heeltemal van ander afhanklik vir alles.

Met watter emosies is ’n mens veronderstel om so ’n Moedersdag te vier? Durf ’n mens hoop dat die tyd wat sy en pa Jan van mekaar weg is, nie meer te lank sal wees nie?

Nee, ek weet nie, behalwe dat daar baie buitengewone herinneringe is om te koester.

En te weet vroulief Joan is ’n moeder duisend.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Leonie Gerber Burmeister ·

My kommentaar sluit aan by die sinnetjie ..”durf n mens hoop…”
Ek wil glo dat dit beter is vir die persoon met gevorderde dementia om ogies toe te maak en saggies weg te raak…eerder as die blootstelling aan potensiele ongeduld van direkte “caretakers” soos mens dikwels op sosiale media mee ontstel word. Ek aanvaar dat persone met gevorderde dementia ook nie noodwendig “maklike” pasiente is nie en dat dit maklik n hewige argument kan veroorsaak waar n koppige pasient se weiering tot sekere prosedures tot uitermatige weersin by n “caretaker”kan ophoop. So wens elke nugtere ouerwordende seker om die vernederende toestand van dementia met n vroeer dood vry te spring? En dis waar ek van opinie is jy durf wel hoop jou geliefde met dementia mag eerder deur n ander natuurlike oorsaak verlos word van die byt van dementia. Sterkte aan almal wat vandag met een of ander skuldgevoel worstel oor n geliefde wat net nie meer teenwoordig is soos dit was nie. Dit verg yster denke om bokant die vlak van emosionele watertrap te bly ten aanskoue van n geliefde se intellektuele en emosionele o dergaan. Met liefde.

Johann Basson ·

Beste Herman,

Baie dankie vir hierdie aangrypende stuk wat jy met ons deel.

Deur my genealogiese studies die afgelope 10 jaar het ek terdeë besef hoe kortstondig hierdie lewe eintlik is en tweedens het die studies my tot nederigheid getemper.

Kan elke leser pen wat is die roeping in hul lewens? Waartoe voel hulle geroepe?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.