Oom Herrie se kerrie: ’n Kind en sy hond

Foto: Pixabay

“’n Kind moet ’n hond hê,” het ’n mens destyds dikwels gehoor. Maar toe was omstandighede darem baie anders. Die erwe was nie so omhein nie en die honde in ’n woonbuurt was gewoonlik net so maats soos die buurt se kinders.

Dus, as ’n knaap by ’n maat gaan speel, gaan sy hond gewoonlik saam. Daar speel hy ’n hond uit ’n bos met die maat se hond. Soms leer hy die gasheerhond stout dinge, soos om die huismense se kat te probeer vang, want by sy eie huis is daar nie so ’n aardige wese nie. Die plaaslike hond leer sy kuiergas weer om sy nooi se nuwe plantjies uit te grawe.

En hoeveel kinders van destyds kan vertel hoe hul honde in die veld ’n haas geskraap het, en hoe die arme hond vreeslik getjank het as daai haas met sy stert aandui hy gaan links draai, en dan regs swaai. Hond se kind gaan draai doer, tjankend van frustrasie dat hy so ’n kous oor die kop gekry het.

Sjoe, en as oom Donderweer weer die slag in sy erf met die vreeslikste woordeskat aan die swets gaan, dan staan die kinders so halfmaan oorkant die straat. Agter amper elke kind staan ook ’n hond wat so om die bene wantrouig die rumoer betrag. Net Antonie se “boeldokhond” is te lugtig – hy loer tussen Antonie se bene deur. Antonie is nog ’n klein kannetjie, en elke keer dat die hond se kop ruk van ’n nuwe woordebombardement, dan lig klein Antonie se voete van die grond af.

Ja, elke dag het hope goue oomblikke opgelewer, net jammer daar was nog nie selfone met ingeboude kameras en video’s om dit te verewig nie. En honde wat karre jaag! Oom Herrie het soveel keer gewonder wat daai brak nou meen hy met ’n kar gaan doen as hy hom gevang kry?

Sommige honde het fietse ook gejaag. As die fietsryer nie mooi opgepas het nie, kon so ’n brak die ysterperd gou laat neerslaan. Gelukkig was die honde toe agter die fiets, en nie die kind op die fiets aan nie. En dan was daar ’n paar berugte brakke wat as hulle ’n fiets “gevang” het van pure kwaatgeit die bande stukkend gebyt het.

Oom Herrie se kinderhond en beste maat was Piesang. Oor die herkoms was daar onduidelikheid, behalwe dat sy ma die alomgerespekteerde Clara, ’n bruin-en-wit foksterriër was. Piesang het net effe meer lyf as ’n windhond gehad, maar was tog loshande die vinnigste brak in die omgewing. En hy het alles saamgedoen – van veld toe gaan waar hy baie hase baie moeite gegee het om sy kake te ontglip, saam gaan bergklim, saam strand toe gegaan en geswem – tot sy neiging om ander strandgangers se sambrele te gaan merk te erg geword het.

Een Paasfees was hy baie ongewild. Pa Jan het die paaseiers gaan wegsteek, vergesel van Piesang. Toe ons gaan paaseiers soek, kon ons niks kry nie. Pa gaan wys ons, maar daai paaseiers is skoonveld.

Dit word duidelik wat van hulle geword het toe Piesang begin katte skiet en dit pure sjokolade en tinfoelie is

Dit word duidelik wat van hulle geword het toe Piesang begin katte skiet en dit pure sjokolade en tinfoelie is. ’n Ander keer is hy vort met ʼn hele lang stuk wors van waar dit op die swanniebraai gelê en sis het. Toe kom kla die brak nog oor sy bek wat so vreeslik gebrand het.

Nou, in plaas van om snags saam met die hondevriende iemand se grasperk vol landmyne te laat, is die honde net soos hul huismense agter hoë heinings ingeperk. Ja, nou deel hulle die gesinstronke wat so eie aan die stede en dorpe is. En van agter hierdie heinings is die ander honde nie meer speelmaats nie, maar vyande as hulle met hul huismense ʼn wandeling onderneem. Dis ’n getande-uitpakkery dat dit naar is. Soms glip ’n hek wat nie mooi toegemaak is nie oop, en is daar ’n liederlike hondegeveg op straat. En amper elke hond kan behoorlik baklei, want hy is geteel om inbrekers en aanvallers behoorlik te laat les opsê.

 

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elize van Staden ·

Ek het nou baie ver terug gaan draai. Ai hoe verlang ek tog nie na daardie wonderlike ou dae nie. Moenie eers van al my diere vriende van oor die jare praat nie.

Theo Visser ·

‘n Hondelewe is wat ons honde vandag het.Hulle vryheid is ontneem om ook hulle eie pelle te he waar hulle kon gaan kuier.Vroeer toe ons honde lekker kon rondloop het jy min gehoor van honde wat mense aanval.Nou is die sponsdoring wat hy los die grootste sonde !Shame!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.