Oom Herrie se kerrie: Nala se ongeluk

food-animals-2082309_1280Die Herries se brakke, Nala en Layla, het die naweek ʼn besoeker gekry: die bokkiehondjie Bambie. ʼn Vriendin van die Herries het die naweek vir haar siek dogter in Johannesburg gaan kuier en Bambie het by ons kom kuier.

Sommer met die grondvatslag heel tuis, wat nie verbasend was nie, want in die somervakansie het sy vir amper twee weke hier kom kuier. Haar mandjie kom ewe saam, maar sy kyk nie eens daarna nie – kom kruip eenvoudig snoesig tussen oom Herrie en Mev. Herrie in.

Soggens vyfuur val sy by Nala en Layla in wanneer oom Herrie die koerant gaan haal. Dis nou nog baie donker daai tyd en al was Bambie nou ook nie ʼn kleur wat maklik wegraak in die donker nie – sy is so klein oom Herrie het haar al ʼn paar keer eenkant van ʼn deur gesoek, dan is sy al lankal anderkant. Oë agter die kop sou dalk help.

Die moeilikheid is dat Bambie sommer loshande deur die duiwelsvurk kan gaan en as plotbrakkie wil ʼn mens haar nie naby die straat hê nie. Boonop kan Layla ook iewers deur die heining kom, want as mens weer sien, draf sy op die sypaadjie. Oom Herrie voel dus omtrent soos ʼn moederhen wat eendeiers uitgebroei het en die stuipe wil kry as haar kleingoed in die water gaan baljaar.

Kosgee is ook nie veel van ʼn probleem nie. Elkeen vreet ʼn rukkie in hul eie bakkie, dan gaan vreet Layla aan Bambie se bakkie, Bambie gaan vreet Nala se kos en Nala vreet Bambie sʼn. Sonder storings. Want ʼn hond glo mos vas die ander het lekkerder kos as hyself gekry.

Met die hoewe was Layla en Nala egter snoep. Naderhand was daar al nege hoewe op een van die banke, wat spesiale dekens op het omdat die honde so graag op hom lê en slaap. Eers na so twee dae kon Bambie ʼn “vakante” hoef in die bek kry sonder dat een van die ander dit grommend kom afvat.

By geleentheid gee Mev. Herrie vir die honde elkeen van daai spesiale droëworsies vir honde en die vreetslag verloop heel vreetsaam. Maar skielik is Nala erg knorrig as Bambie nader kom. Dit blyk Nala probeer onder die jonkmanskas inkom, maar kom duidelik nie by nie. Om ʼn lang storie kort te maak, dit blyk toe ʼn stukkie droëwors te wees. Dis uitgehaal, Nala het gevreet en die vrede herstel.
Maar dis nou maar Nala. As sy iets misvang en dit spring van die neus af, sal dit wel iewers onder iets te lande kom waar sy nie kan bykom nie. Of dit nou haar bal of ʼn lekkerny is, sy bly wat dit betref die ongelukkigste ongeluksbrak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.