Oom Herrie se kerrie: Pasop! Hier kom die Bliksembende

piggy-bank-1246949_1280Dis weer tyd vir die minister van geen finansies om sy verkleiningsrede te lewer. Ja, arme minister Gordhan moet maniere vind om die land se behoeftes, en ’n klomp hoë koppe se grypsug, by die feit uit te bring dat die eendjie wat die goue eiers lê met radikale ekonomiese VAT en uitdeel daarmee heen is. Sonder om nog skuld te maak.

Daar sal dus nie weer so ’n rumoer in die parleboendoe wees nie. Die meeste lede sal verys van bekommernis sit oor waar Gordhan oral vet van die ribbetjies gaan afsny. En die ander gaan sit en planne maak hoe om van Gordhan ontslae te raak sodat die Tesourie se boom ook leeggeskraap kan word.

G’n wonder nie die honde van die parlementêre dorpie het hul eie parlement, die parlewoef begin. Meestal beteken ’n sitting ’n lêing, so in die sonnetjie, en as dit te warm word, in die koelte. Dis net wanneer die hôrriebel Woefema onder die hoofbrak, die boeldokhond hôrriebel Zupta, invlieg, dat die speaker, die hôrriebel madame Voertsek, moet wakker word, en ’n ruk lank die opbou na ’n lekker groot hondegeveg moet probeer beheer. Dis ’n vreeslike gegrom (met onwelvoeglike gromme tussenin), en hare wat iets vreesliks opblaas.

Party, soos die hôrriebel Basterbrak, lyk te snaaks. Sy bloedlyne, toe sy voorouers nog straatbrakke was, het so gekruis dat sy hare op die snaaksste plekke gaan regop staan. Hier by sy nek lyk dit of hy vlerke kry, en halfpad met sy stert af, swel ’n kol rond. Amper soos die poedel, die hôrriebel Fyntjiesblaf wat gereeld met die skeerslag wriemel, en half misgeskeer raak.

Net voor die spul met hul tande onder mekaar invlieg, sal die hôrriebel madame Voertsek haar spesiale eenheid bokserhonde inroep om die vrede te herstel. Dié eenheid, in die handel en wandel bekend as die Bliksembende, verwyder dan die groot opstokers, met die hôrriebel comrade Woefema heel vooraan. Die hare waai behoorlik wanneer die spulletjie uitgegooi word.

Dit word dan gevolg deur ’n lang slaapsessie terwyl die hôrriebel Zupta sy onderdane ’n gat in die kop probeer praat oor hoe goed dit eintlik met hulle gaan, asook met die honde doer ver wat hulle verteenwoordig.

Hierna gaan lê die hôrriebel Zupta op sy rug sodat sy medetrogvreters sy pens kan kom krap. Die Bliksembende keer dat die ander grommend naby genoeg kom om ’n hap of twee in te kry.

Die verskil tussen ’n parleboendoe en ’n parlewoef? Die parleboendoe tref ’n mens in ’n piesangrepubliek aan, en ’n parlewoef in ’n biefgeur epolrepubliek.
Hê, hê, hê, hêêê!

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ella ·

Dankie Herman vir die perspektief! Ek luister juis nou na die begroting. Betaal gaan ons betaal…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.