Oom Herrie se kerrie: Só kry vrou man sover om sleurwerkie te doen

inspuitingMev. Herrie vertel van kennisse, albei reeds saliger, waar die vrou haar man gevra het om die wasmasjien reg te maak. Die man sê “ja” en daarby bly dit. Ook ná die volgende vra-slag, en die volgende, tot dit in ’n neulery oorgaan, maar wasmasjien regmaak – aikôna.

Op ’n dag gesels die vrou met haar aanvallige buurvrou wat oorkant die straat woon, en wat presies dieselfde masjien het. Hulle laat die twee wasmasjiene omruil, en terwyl die man sy middagete geniet, bel die buurvrou en vra of hy nie na haar wasmasjien wil kom kyk wat water lek nie. Die man los sy ete net daar half geëet en gaan maak sy eie wasmasjien by die buurvrou met die perdebylyfie reg!

Die man los sy ete net daar half geëet en gaan maak sy eie wasmasjien by die buurvrou met die perdebylyfie reg!

Hy is jare lank hieroor gespot.
Die aanloop tot die storie is dat Oom Herrie weer vir ’n inspuiting moes gaan, en, nou ja, Oom Herrie het nog nie die man ontmoet wat sommer vrywillig aan hom laat spuit nie. Mev. Herrie vertel ’n vriendin, en dié vertel haar man het by geleentheid sy vinger raakgesaag. Hy moes ’n inspuiting kry, maar het allerlei slim stories oor hoekom dit onnodig is.

Een dag, toe die vinger al ’n lewe op sy eie het en hard klop om onder die pleisters uit te kom, gesels die vrou met die buurvrou. Ook baie aanvallig.

Buurvrou se man is ’n ortopeed en die twee vroue spreek af dat die dokter en sy vrou later die dag vir ’n drankie sal oorkom. Daar gekom, wil die ortopeed die wond sien, en sê dadelik hy sal sy buurman met die naald moet bykom. Met die aanvallige buurvrou teenwoordig “is dit geen probleem nie”.

Jare gelede was Oom Herrie se broer in die polisie in Johannesburg. Een aand moet hulle ’n man wat in ’n ongeluk betrokke was, maar op die oog af heel nugter was, distriksgeneesheer toe neem om bloed te trek.

“Ek het die man vreeslik jammer gekry,” vertel Boet Nico. “Ons moes die distriksgeneesheer by sy huis opklop, en die dokter was stormdronk. Hy het die arme man vreeslik strompelend genader, spuit in die lug. Die arme man se oë was so groot soos pierings.”

Op die oomblik is daar ’n woeste gebrom oor die regering van Noordwes wat ’n R6 miljoen se standbeeld van pres. Jacob Zuma by Goot-Marico wil oprig.

Op die oomblik is daar ’n woeste gebrom oor die regering van Noordwes wat ’n R6 miljoen se standbeeld van pres. Jacob Zuma by Goot-Marico wil oprig. Die beeld gaan ses meter hoog wees. Enige goeie kunstenaar bestudeer eers die eienskappe van die persoon wat hy in brons gaan verewig, sodat daardie eienskappe ook vasgevang gaan word.

So verstaan Oom Herrie die eerste ding wat gedoen gaan word, is dat die standbeeld met ’n stortkop toegerus gaan wees, anders gaan omtrent niemand weet wie uitgebeeld is nie. Die ore, meen oom Herrie, moet soos Nala s’n lyk. As sy aandag skenk lyk dit omtrent of sy lang donkie-ore het, maar as sy nie wil hoor nie, trek sy dit plat. Die versiende blik van die standbeeld simboliseer glo die blik wat die tesourie van die president kry.

Natuurlik is die president (se standbeeld) se vingers lank, maar oom Herrie verstaan nie hoekom nie.

Natuurlik is die president (se standbeeld) se vingers lank, maar oom Herrie verstaan nie hoekom nie. Die standbeeld is ook in tradisionele drag getooi. Die lendekleedjie voorlangs is taamlik groot, want niemand wil sien dat ’n lelike ding sy kop daar uitsteek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ella ·

Dankie vir die Kerrie, Herrie! Begin die Maandag sommer met binnepret!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.