Oom Herrie se kerrie: Tel (soms) die woorde

Foto: Pixabay

Herman Toerien

Baie jare gelede het oom Herrie nog gedink hy kon predikant word, maar die Grieks het Grieks gebly. Met die Hebreeus het dit darem ’n aks en ’n wat beter gegaan.

In die klas was ’n heel gemoedelike student wat al ’n jaar of wat vroeër in die Hebreeuse klas beland, maar vasgehaak het. Skynbaar het sy pa gesê hy betaal net vir sy spruit se studie as dit vir predikant leer is. Die arme knaap kon nie eens die Hebreeuse skrif baasraak nie.

Die volgende jaar is hy steeds in die eerstejaarsklas vir Hebreeus. In die koshuis is hy oom Herrie se senior. Een aand laat is daar ’n vreeslike geskreeu van bande buite, en toe ’n slag. Omtrent almal in die koshuis gaan kyk, en dit blyk die einste knaap het tot by die koshuis se afdraai na sy parkeerterrein gejaag, voor hy rem aangeslaan en ingedraai het. Die Volla het dit nie gemaak nie en ’n padpredikant op die oorkantste sypaadjie omgery. Die Volla staan vreemd neus in die lug teen die gevalle padpredikant.

“Dis nou môre se wharries,” kondig hy aan nadat hy die petalje so betrag het.

Die volgende dag ontdek hy behoorlik sy ryding so teen die paal, en het g’n benul oor hoe dit daar gekom het nie …

Maar, so verneem oom Herrie, het dit met die Hebreeus bietjie beter begin gaan. Tog beland hy in ’n yslike verleentheid, wat niks met sy kennis of onkunde te make gehad het nie. Hy neem ’n meisie saam na die Hebreeuse klas – ’n meisie wat nie self Hebreeus neem nie. Die prof vra die studente so op die lys af om paradigmas met verskillende woorde te voltooi. Gelukkig ken hy die paradigma wat die prof van hom verlang, maar een van die verbuigings is “bek*k”, en daai woord bly dit, al probeer mens die Hebreeus nou ook van links na regs lees. Kom die knaap by die gewraakte woord, sê hy “bekiek”. Die dosent, sonder om eens op te kyk, stop hom net daar – dis verkeerd, en hy moet weer begin. Die volgende slag is dit “bekoek”, maar so binnensmonds soos hy kon, die dosent laat hom weer voor begin. Hy ken die regte woord, maar sien nie kans daarvoor voor die meisie nie. Elke keer word hy rooier, voor die dosent opkyk en die verleentheid bemerk.

Ja, so kan een woord in een taal ’n heel ander betekenis in ’n ander hê, soos die Nederlandse woord “vaak” wat “dikwels” beteken. En dis nog steeds vir oom Herrie komies as die Israeli’s en die Palestyne mekaar, aldus die Nederlandse koerante, met “raketten” bestook (eintlik vuurpyle en mortiere).

Die een is De Wit, die ander De Bruyn, en die vulstasie-eienaar Swart. ’n Vreemdeling hou stil, en stap nader en stel hom voor as Van Rooyen

’n Misverstand is soms baie gou. So verneem oom Herrie die week van drie manne wat voor ’n vulstasie op Wesselsbron gesels. Die een is De Wit, die ander De Bruyn, en die vulstasie-eienaar Swart. ’n Vreemdeling hou stil, en stap nader en stel hom voor as Van Rooyen. Die drie stel hulself ook bekend – Van Rooyen dog hulle skeer die gek met hom, en vererg hom en ry vort. Wat hy wou weet, weet g’n niemand nou nie.

Langenhoven het vanslewe oor die vlieg geskryf, en geskryf dit moes eintlik ’n sit genoem word. Want dit sit net, en as dit vlieg, is dit om weer te gaan sit. Nou betrag oom Herrie vir Nala en Leyla so … hulle is dalk eerder lê’s as wat hulle honde is. As die woord “stap” geuiter word, kry hulle lewe en gaan kruip iewers weg. Dit was nie altyd so nie, maar albei het ’n ding teen ry. En die maklikste manier om hulle in die kar te kry vir ’n rit veearts toe, was om die loopkettings voor te rinkel. Maar ná so ’n slag of twee was hulle genoeg uitgevang, en nou, wanneer oom Herrie ’n entjie gaan stap, is dit net hy en sy twee krukke. Maar oom Herrie hoop regtig hulle sal weer stapbaar word, want as als verloop soos nou, sal oom Herrie oor ’n paar maande weer sy kragte kan begin herwin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Koos1 ·

Herman, wees net bly dat Palestyne nie katte genoem word nie. Die hollandse vertaling is BAIE vreemd vir ons in Afrikaans!
In Afrikaans sal dit vir ons lees soos ‘n baie slegte tennis spel…….. amper so sleg soos die Bulls speel!

Dirk ·

Ja die verskillende vertalings na ons eie taal en dan ook somtyds ons kombuis vertaling weer het al vele in die sop laat beland. Dit herinner my aan n staaltjie van n eg Afrikaanse jong man wat in Den Haag was vir n stuk werk en toe een aand aan sy nuwe Hollandse vriende vertel het hoe hy sy oupa moes help pik smeer aan die familie vissers skuit. Dit was nou vir jou n affere tot hy uitvind wat pik nou eintlik beteken in die Hollandse taal. Groete oom Herman en voorspoed met die tog.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.