Oom Herrie se kerrie: Wat is die lekkerste eetding ter wêreld?

Foto: Pixabay

Voor oom Herrie sommer die ooglopende, biltong, by verstek laat wen op die vraag wat die lekkerste eetgoed ter wêreld is, gaan oom Herrie eers ’n paar ander opsies in die bord gooi om solank aan te peusel.

Die eerste ding wat oom Herrie wil noem is regte, egte magwenjas. Dis ’n kleiner soort vetkoek sonder ʼn gat in die middel. In oom Herrie se dae het amptenare wye draaie gery om magwenjas vir die gesin by ’n bejaarde swart vrou buite Dewetsdorp te gaan koop. Hoeveel van dié lekkernye ooit die huis gehaal het, weet oom Herrie nou nie. Maar dis nie al nie. As ’n mens dan by ’n plattelandse tuisnywerheid ’n flessie makataankonfyt kon raakloop… dis lekkerder as lekker so in skywe gesny en met genoeg sous op daai magwenja.

En vir diegene wat nou nie weet wat ’n makataan is nie – taffies. Die ou naam is deesdae haatspraak, maar dis ’n soort waatlemoen wat nie sommer rou geëet kan word nie. Nee, nie ’n karkoer nie, stjoepid.

Maar hoekom oom Herrie vanoggend hieraan dink… Oom Herrie het skielik weer nostalgies geraak oor die pakkies liefde wat ouma Joey altoos die land vol gestuur het terwyl sy nog vrou alleen op die plaas Pieringkop buite Slabberts gewoon het. Hier het sy perskes en kwepers gedroog vir perske- en kweperrolletjies. Dan was daar ook ander droë vrugte. En sodra sy ’n boksie vol het, het sy haar ore oopgehou vir geleenthede. Dit was vir haar een dogter in Johannesburg, haar kleinkinders die land vol, ’n afgetrede dominee en sy vrou en vele meer.

En as daar ’n pakkie liefde by die Herries aangeland het, is hy so tydsaam as moontlik verorber om die lekkerte so lank as moontlik te laat hou. Maar nou rus ouma Joey al lankal daar buite Bethlehem na sy in die negentig geword het.

Nou die dag wou oom Herrie se stiefsus, Janna, wat ’n gebore en getoë Amerikaner is, weet of oom Herrie weet waar sy regte, egte Cape Gooseberry-konfyt kan bestel? Ook sy is nostalgies en onthou haar pa, die bekende Afrikaanse digter en skrywer, wyle Barend J. Toerien, het gereeld flessies hiervan gehad. Uit Suid-Afrika gekry. Die Herries moes toe eers die woordeboek nadersleep om te kyk waffer soort van ding Cape Gooseberries is, en dis toe appelliefies.

Die Herries moes toe eers die woordeboek nadersleep om te kyk waffer soort van ding Cape Gooseberries is, en dis toe appelliefies

En oom Herrie onthou uit sy kinderdae het sy ouma Toerien, as sy ’n tert gebak het, altyd ook ’n laag appelliefiekonfyt ingewerk. Lekker verby, maar dit voel soos dekades laas wat oom Herrie daarvan gehoor het, laat staan nog ’n blik te kope gekry het. Mev. Herrie het gaan kyk en sowaar ’n blik in die winkelrak gesien.

Intussen het Janna toe wel ’n blik van die regte konfyt gekry (in die VSA is dit maklik om Europese appelliefies te kry – ’n heel onverwante soort bessie wat ook heel anders proe). Janna het ’n blik van die regte soort uit Peru gekry, van waar dit oorspronklik kom.

Met die hormoonbehandeling wat oom Herrie vir die een soort kanker kry, kry oom Herrie ook nou gereeld belustings vir die een of ander kossoort of gereg – omtrent soos ’n swanger vrou. (En af en toe ʼn ligte gloed ook). En met die kortisoonbehandeling wat saam met die chemo vir die ander kanker kom, is daar periodes van groot hongerte en lus. Snags is daar liederlike strooptogte op die kombuis.

So pak ’n verskriklike lus vir daai sous wat ’n mens oor braaivleispap gooi oom Herrie beet. Gooi dit oor als, en is veral lekker oor vis. Maar toe kom die lus vir pap daarmee saam, en daai lus het nog nie verdamp nie.

So tussenin kry oom Herrie die grootste lus vir ’n Wimpy-ontbyt, maar omstandighede is nou nie so om iets daaraan te doen nie. Maar versadiging aan groenmielies, sommer so in die mikrogolf gaargemaak, breek ook nie aan nie. As die pitte in is, word die stronk nog deur die sous onder in die bord getrek en die stronk “leeggesuig.” Ai.

En dan is daar natuurlik biltong. Mev. Herrie het in ’n stadium gereeld ’n pakkie biltong gekoop, maar sy moes dit later sommer met die aankomslag tuis in drie bakke verdeel, anders eet een spaarsamig om dit so lank as moontlik te laat hou, en ’n ander “score” juis weer op die stadige eters.

Oom Herrie het grootgeword met gereelde voorraad blesbokbiltong, en later rooibok ook. Beesbiltong was ’n bietjie meer van ’n rariteit, maar as ons gesin by oom Japie Brits en tannie Max in hul huisie by die Bakke gaan kuier het, het oom Japie gereeld in ’n stadium hom verskoon, en met ’n stuk beesbiltong teruggekeer. Na hy gaan sit het, bring hy tydsaam sy knipmes na vore, en begin skyfies afkerf. Dié stukkies word so met die hand uitgedeel. Lekker verby. Maar net ’n paar snytjies, dan word die knipmes toegevou, en die biltong gaan bêre.

Lekker verby. Maar net ’n paar snytjies, dan word die knipmes toegevou, en die biltong gaan bêre

Dan was daar natuurlik ’n slag of wat volstruisbiltong wat na binne gestuur is. Met ’n toer deur Namibië is ’n stuk koedoebiltong so suinig, suinig verorber. En dan die skaarser biltonge wat oom Herrie al te ete gekry het, haaibiltong en ja, kolhaasbiltong.

So ’n geluk soos neef Matie gehad het, was oom Herrie nog nie beskore nie. Matie woon ’n wyksvergadering by, en toe die formele deel verby is, skuif die ouderling ’n skuifdeur oop. Hy het pas van ’n jagtog in Namibië teruggekeer. En daar kreun die tafel onder verskillende soorte biltong. Tot vandag toe is Matie vreeslik lief vir wyksvergaderings…

Nou moet ek ook sê min dinge kan lekkerder wees as die droëwors wat oorlede tannie Alida gemaak het. Dikker as ’n man se duim, en ook so hard dit moes skyfies gesny word. So elke nou en dan loop oom Herrie ’n stukkie droëwors raak wat amper soos tannie Alida s’n smaak, maar nie heeltemal nie.

Maar seker die lekkerste lekker ete was kabeljou met ’n meesterlike sous in ’n Duitse eetplek in Swakopmund. Ver lekkerder as die kreef ’n paar dae vroeër in Lüderitz.

Groot hongerte en vreemde luste is nie al wat die kankerbehandeling doen nie. Oom Herrie span ook gereeld die jong osse in, en voel veral simpel as hy pas een van Mev. Herrie se smullekker geregte in het. Nou die dag voor ete, en voor die Cheetahs se wedstryd teen die Crusaders, was dit weer sulke tyd. Na die jong osse ingespan is, gaan skep oom Herrie en sê vir mev. Herrie hy het nou sommer by voorbaat katte geskiet nog voor die wedstryd begin het.

Maar die bloedtoetstelllings lyk nou goed, en as alles goed gaan is daar net een hormooninspuiting en drie chemosessies voor. Dan, hopelik, sal die jong osse rustig kan bly wei (tot hulle ook dalk biltong word), en oom Herrie weer kan weglê aan Mev. Herrie se heerlike geregte sonder die gevaar van so ’n vreeslike glips. Soos die Here wil.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

humor ·

Alles so waar. Maar ook interessant is sekere kosse net op gepaste tyd die lekkerste. Soos melkkos met regte egte plaasbotter en kaneel in. Nie poerkaneel maar pypkaneel. As dit laat namiddag heerlik gereen het, veral in Namibie, dan is pannekoek op sy lekkerste veral as mens nog kan beleef jy bly in Suidwes. En wat van n bottlel Ou Bruin merrie, Vissermanne sal weet as dit bibberkoud is veral so met die son se sak. En wat van galjoen op die kole, veral so langs jou tent op Torrabaai is. Sekere plekke en tye speel n belangrike rol aan die smaak van kos.

Grassie ·

‘n Lekker vet skaapribbetjie, Herman. Lekker oor die kole gebraai, goed gaar maar nie gebrand nie, Met ‘n soetigheidjie daarby – ‘n tros lekker soet hanepootdruiwe wat uit die yskas kom. Word ook afgesluk met ‘n bietjie hoendervoet uit ‘n bottel. As ek dit wegsit kry ek soms ‘n Dopperagtige bekommernis – dit is so lekker dat dit sonde moet wees.
Ek is bly dit gaan beter met jou.

Johann cb ·

Dankie vir die lekker lees en lag Oom Herrie. Hoe lus ek nou ‘n klam stuk beesbiltong! En ek is nie eens siek nie…
Sterkte met die laaste chemo. Ek glo die uitslag sal 100% gunstig wees!

M. Schoeman ·

Oom Herrie ek het nou lekker gelees dankie. Dit is so goed geskryf.

Hannah ·

Ai toggie Herman… so gaan soek ek toe nou na die lekkerny magwenjas….. Chef Lesogo het ‘n “blog” wat hy doen met die mooiste foto van die lekkerte! Ek het nog nooit daarvan gehoor nie – nou jeuk ek om die te probeer – ek het NET vanoggend vetkoek gemaak van die oorskietdeeg van Saterdagaand se heerlike pizzas wat my liewe man gemaak het – alte lekker gewees! Chef Lesogo spel dit “magwinya” Vir diegene wat die resep soek – asook om die mooie foto te bewonder…. https://lesdachef.wordpress.com/2013/02/17/my-magwinya-recipe/

Anni ·

Ek is alweer op ‘n dieet oom Herrie so alles is vir my buitengewoon en besonders lekker. Ek skryf net om vir oom te sê ek bid vir oom se beterskap. Dankie vir al die leersame artikels, die keurige taalgebruik en interessanthede. Sterkte met die pad vorentoe, oom loop hom tot dusver baie mooi al is hy moeilik.

Leana ·

Wat ‘n lekkerte om te lees. Raak ek nou lus vir pap en kaiings… Sterkte met alles en ons glo dat al die ou siektes hul wyk sal neem. Mooi dag!

Wern ·

Die vrystaters kan BAIE lekker kos maak! Mag oom Herrie baie gou gesond word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.