Oom Jakkie vertrek op fietsrit vir erfenis

Die groep fietsryer vertrek saam met oom Jakkie Woensdagoggend by die Voortrekkermonument. (Foto: Verskaf)

Oom Jakkie van der Colff, wat vanjaar 80 jaar oud geword het, het Woensdagoggend op sy fietsrytog na die Bloedrivier-erfenisterrein vertrek.

Hy en vier ander vriende en familie pak die meer as 450 km-rit aan na KwaZulu-Natal om geld in te samel vir dié erfenisterrein wat onder finansiële druk weens die Covid-19-pandemie is.

Van der Colff het die oggend saam met sy seun Jaco, kleinseun Tihan, vriend Pieter Janse van Rensburg en Teresa Coetzee, ʼn bekende in fietsrykringe, by die Voortrekkermonument weggespring.

Hulle is met groot entoesiasme deur ’n groep Voortrekkers afgesien, wat die Geloftekamp by die monument bywoon.

“Ons sien baie uit daarna. Ons het gekyk op die weervoorspelling en ons gaan reën kry. Ons gaan wind van agter kry en dis 100%, ek hou baie daarvan,” sê Van der Colff.

Tihan (links) is oom Jakkie (regs) se kleinseun wat fiets saam met sy oupa gaan trap. (Foto: Verskaf)

Hoewel dit vir pret is, bloei oom Jakkie se hart vir sy erfenis.

“Dit is om die Erfenisstigting, en meer spesifiek die Bloedrivier-erfenisterrein, wyer bekend te stel, en dan natuurlik om fondse te werf vir hulle, want natuurlik in hierdie tyd gaan dit finansieel maar druk. En ons wil graag help dat dit bietjie verligting bring.”

Hy sê die deurnagrit is nie so erg nie.

“Die moeilikste is die bulte, maar die afdraande is die lekkerste. Weet jy, deur die nag ry, is nie so sleg nie. Ons het ligte op die fiets, so ons sal sien, maar dit hang ook af van hoe die weer gaan wees.”

Jakkie van der Colff saam met sy vrou Marie. (Foto: Verskaf)

Sy kleinseun Tihan sien daarna uit om tyd saam met sy oupa te kan deurbring.

“Ek sien baie uit om bietjie tyd te spandeer saam met my oupa en sommer net fietsry in die algemeen, en ek dink die grootste uitdaging gaan maar die min slaap wees,” sê Tihan.

Van der Colff en sy fietsry-geselskap beoog om môre op 16 Desember voor 12:00 by die Bloedrivier-erfenisterrein aan te kom om Geloftedag op die geskiedkundige terrein te kan spandeer waar die Slag van Bloedrivier in 1838 plaasgevind het.

Dit is ook vanjaar die vyftigste herdenking van die walaer wat op die terrein opgerig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.