Oom Paul se kleindogter se graf herstel

Quentin Meyer, lid van die FAK-Noord van die Berg-Kultuurnetwerk, en Herman Dirk van Broekhuizen, direkte nasaat van Elsie en Herman Dirk van Broekhuizen, by die herstelde graf. Agter staan Barry Müller, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in Gauteng. (Foto: Verskaf)

Die graf van Elsie Franzina van Broekhuizen (gebore Eloff), ʼn kleindogter van pres. Paul Kruger, is deur die FAK-Noord van die Berg-kultuurnetwerk en AfriForum herstel.

Dié herstelde graf is Vrydag in die Rebeccastraat-begraafplaas in Pretoria-Wes onthul. Herman Dirk van Broekhuizen, ʼn direkte nasaat, het die geleentheid bygewoon.

Lede van die kultuurnetwerk het vroeër vanjaar hulde gebring aan Fanie Eloff, kleinseun van pres. Kruger, en meesterlike beeldhouer wat onder meer die bronsbeeld van genl. Koos de la Rey op sy graf in Lichtenburg gemaak het, deur sy graf skoon te maak in die Rebeccastraat-begraafplaas in Pretoria-Wes.

Daar het hulle afgekom op ’n grafsteen wat in stukke was agter Eloff s’n. Toe hulle onlangs weer Eloff se graf gaan skoonmaak, het hulle besluit om te kyk of hulle dié grafsteen kan herstel.

Weens die gewig van die swaar graniet grafsteenstukke kon hulle dit nie self optel nie en moes hulle hulp inspan. Met die omdraai van die grafsteen het hulle agtergekom dat Eloff se suster, Elsie Fransie van Broekhuizen (gebore Eloff) en haar man, ook Herman Dirk, saam daar begrawe is.

Op Elsie se grafsteen staan geskryf “Moeder van die Moedersbond” en Herman Dirk was in 1896 een van die spelers in die Suid-Afrikaanse nasionale rugbyspan (die naam Springbokke is eers vanaf 1906 gebruik) asook predikant in die Nederduitse Gereformeerde en Hervormde Kerk, ’n volksraadslid en ook adviseur van die Afrikaanse Bybelvertaling in 1933.

Hy was ook ’n Afrikaanse taalstryder wat hom onvermoeid beywer het vir ’n Afrikaanse universiteit in Pretoria. Sy is in 1945 dood en hy in 1953.

Quentin Meyer, lid van die kultuurnetwerk, het dadelik besef dat “hierdie twee belangrike mense in ons erfenis se graf herstel moet word”.

Langs die Van Broekhuizens se gesamentlike graf is nog ’n kleindogter van pres. Kruger, Stephanetta “Nettie” Johanna Paulina Bredell (gebore Eloff), begrawe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.