Oomblikke met God – in volle fokus

memory-2021124_1920Jy spaar jou lewe lank vir jou reis oor die water en uiteindelik is jy bo-op die Eiffeltoring. Jy ruk jou selfoon uit vir ʼn vinnige selfie en hol dan vir die volgende hoogtepunt op jou “bucket list”! Later as jy deur jou foto’s kyk besef jy die kiekie is uit fokus en die toring lyk meer soos die Skewe Toring van Pisa as hierdie 128 jaar oue baken!

Soveel van die oomblikke in ons lewe is soos ʼn uitfokus selfie. Ons was daar en ons het selfs die kamera gehad, maar ons was so haastig op pad na die volgende hoendervleis-hoogtepunt dat al wat ons nou kan wys van ons daar-wees, is ʼn onduidelike, uit-fokus prentjie van ʼn halwe herinnering. Hoekom het ek nie net ʼn paar sekondes langer geneem om regtig daai oomblik te proe en te ruik en te vat en ordentlik te verewig nie?

So hardloop ons van projek na projek en belewenis na belewenis en letterlik bo-oor die mense wat ons pad kruis! “Hoe gaan dit met jou?” “Sleg dankie, en jy”? “Nee ook sleg, dankie!” “Ok baai!”

Jesus gebruik ʼn storie van verlore oomblikke as Hy vir ʼn wetgeleerde verduidelik wie sy naaste is. Die priester en die Leviet het “ver langs” verbygegaan en die oomblik gemis – aspris gemis – op pad na die volgende belangrike geleentheid om vir mense te gaan leer van liefde vir God en sy mense. Dis die Samaritaan wat verder gaan as ʼn bolangse “ag siestog” en stop om sy hande vuil te maak en hierdie man in nood te help!

“Wat moet ek doen om die ewige lewe saam met God te geniet?” vra die wetgeleerde. Jesus antwoord: “Word ʼn medemens vir elkeen met wie jy elke dag te doen het, maak nie saak wie of wat hulle is nie.” (Lukas 10:37 – Boodskap-vertaling)

Ek sien ʼn prentjie van Christene op soek na God se groot en wonderlike roeping vir hulle lewe – met ons kop doer ver vooruit dat ons letterlik bo-oor die man in die pad loop – bo-oor die hier-en-nou-oomblikke, geleenthede en uitnodigings van God om by Hom aan te sluit in dit waarmee Hy besig is!

Daar is die bekende aanhaling wat sê: “Die lewe word nie gemeet aan die hoeveelheid asems wat jy neem nie, maar aan die hoeveelheid oomblikke wat jou asem wegneem!

Neem net ʼn paar sekondes langer om die oomblik dieper in te asem, die mens hier voor jou en hier by jou regtig te sien en daarmee saam God se roepstem of soms fluisterstem te hoor wat sê dat hierdie die einste oomblik is waar Hy jou wil inspan vir sy werk!

As ons in ons kop so op ons selfie gefokus is, is die asem-wegslaan en by-God-aansluit-oomblikke uit fokus. Moet dit nie mis nie.

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.