Oor besoektyd en bejaardes

Foto ter illustrasie. (Foto: Lizma van Zyl/Verskaf)

Die fyn ou tannie met die vriendelike gesiggie het geslaap toe ek weer by haar saal inloer. Ek wou ʼn paar stukkies waatlemoen aflewer en vinnig gesels, maar haar post-operasie-slaap was diep.

Ek het haar die vorige dag ontmoet terwyl ek gewag het vir ʼn vriendin van my om na haar voetoperasie uit die teater te kom. Ek het op en af in die lang gang gestap om die tyd om te kry toe die eensame figuurtjie in die hoekbed my oog vang.

ʼn Hospitaal is nie ʼn vrolike plek nie en wanneer iemand boonop tydens besoektyd sonder kind of kraai lê en daar nie eers ʼn bossie blomme op die bedkassie is nie, is die hospitaalprentjie sommer net treurig.

Met die naderstap glimlag haar plooigesiggie van oor tot oor en groet sy my soos ʼn ou bekende. Sy vang my wel ʼn bietjie onkant met haar vraag of daar optogte is… Ek stel haar gerus dat alles, sover ek weet, kalm in Kaapstad is maar sy lyk glad nie oortuig nie. Maar net so vinnig verander sy die onderwerp en kwetter vrolik oor die gawe verpleegsters. Ek sien egter dat die lewendige oë kort-kort deur toe spring so asof sy hoop ʼn dogter of kleinkind se gesig verskyn.

ʼn Verpleegster stap ʼn paar minute later in om te sê my vriendin is terug in haar saal en dis tyd om te groet. Ek wens die tannie beterskap toe, maar so met die omdraai vra sy in ʼn dun stemmetjie: “Kom jy terug?”

Hierdie ontmoeting het my hartseer gemaak, want hoeveel mense is daar nie wat stoksielalleen deur die trauma van ʼn operasie moet gaan nie. Niemand en niks om na uit te sien wanneer besoektyd aanbreek nie. En ons grysaards is dikwels die “vergetenes”. Met die wegry by die hospitaal het ek ook gedink aan die ou oom in ʼn klerewinkel so ʼn paar dae gelede. Hy het by die toonbank gestaan en vir sy stapskoene probeer betaal, maar die masjien het sy kaart twee keer verwerp. Hy het geweldig angstig geword en hoewel die winkelassistente beleefd was, was daar geen deernis nie. Hulle het hom bloot “bank toe” gestuur om te gaan hoor wat aan die gang is. Kop onderstebo het hy gevra dat hulle asseblief sy skoene vir hom moet hou.

Die ouderdom boesem vrees in, ondanks soveel mense se gerusstelling dat “die beste nog voorlê”.

Ja, dalk as jy gesond is, ʼn geldjie in die bank en goeie vriende of familie het. Daar is onlangs berig dat slegs 7,2% van afgetredenes in Suid-Afrika “finansieel goed voorbereid” voel. Hoe dit ook al sy: oudword is ʼn pad wat ons almal gaan stap en kenners sê ons het ʼn keuse: leef in die skadu van angs en vrees óf betree die nuwe seisoen met lig en hoop. Mense wat positief is oor ouer word, geniet blykbaar beter gesondheid soos die jare aanstap en is ook meer sosiaal. En blykbaar gaan ons wees presies wie ons dink ons gaan wees.

John Lennon se lewe is op net 40 kortgeknip, maar ek glo hy was in die kol toe hy gesê het:

Count your age by friends, not years. Count your life by smiles, not tears”.

Intussen hoop ek daardie tannie in die hospitaaljurkie het ʼn besoeker gekry en dat die oom sy stapskoene al lekker inloop.

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elma ·

Siestog, hoe groot jammerte het ek nou in my hart. My eie ma was n klompie jare ernstig siek in die hospitaal. Met besoektye het n groot groep van ons elke keer opgedaag. 4 Kinders en 4 kleinkinders en my pa. Die een suster het nogal opgemerk dat soveel mense wat kom kuier, nie n alledaagse gebeurtenis is nie. Vandag voel ek groot dankbaarheid in my hart dat ons as familie mekaar nie versaak nie. Aan al die “vergetenes” in ons samelewing, ek hoop dat mense soos Lizma oor julle pad gestuur word!

Wielspore ·

Beslis nie ‘n maklike onderwerp, my skoonma woon omtrent 24 jaar by ons nadat my skoonpa oorlede is en sy nie finasieel en emosioneel op haar eie kon bly. Gedurende hierdie tydperk was sy deel van ons gesin, sy is by alle aktiviteite ingesluit. Ten spyte daarvan het sy nog steeds van my sleg gepraat by haar familie. Sy was nog altyd die slagoffer van een of ander situasie en het geroem op jammer kry en dit tot haar voordeel gebruik. Ek tree oor 4 jaar af en ek en my vrou kan net nie meer vir haar sorg, ons het voorsiening gemaak vir ons aftrede en daar is nie plek vir ‘n derde wiel. Skoonma is 80 jaar oud, het demensie en het voltydse sorg nodig, sy loop met ‘n raam. Sy ontvang R2000 Sassa geld elke maand, ons het tot op hede baie geld op haar gesondheid en welstand spandeer. Haar ander kinders, een ouer en een jonger wil nie na haar omsien. Ongelukkig kan ons haar nou net in ‘n versorgings oord sit en ek glo dat sy ‘n beter lewe daar sal ervaar tussen die ander ouer mense.

Hendrik ·

Met groot groot dankbaarheid is dit beskik dat daar n baie mooi gesinsverhouding is. My raad is deurgans nie moontlik nie maar belet jou kinders om vroeg kinders te he, want dit is my kleinkinders wat my vreugde laat ken te lag en te lewe al is hul baie ver van my af.
Ja my hart gaan uit na ons mense in die huise van bejaardes. Sien hul dikwels. In daai alleenstilte is ons VADER tog teenwoordig.

Vonny ·

So baie kinders gooi hul ouers weg.

Lees die 10 gebooie!

N artikel na aan my hart

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.