Oor dieselfde kam geskeer?

Lizma van Zyl se Jack Russel. (Foto: Verskaf)

Kom ons wees nou eerlik: “respek” en “vertroue” is twee woorde wat nie in die meeste van ons se wetstoepassing-woordeskat opduik nie. Daarvoor is daar net te veel gruwelstories van omkopery, korrupsie, intimidasie, hardhandige optrede en selfs geweld wanneer ons op die pad (en andersins) met die lang arm van die gereg te doen kry.

Ek het self nog nie eerstehandse ondervinding gehad nie, maar, soos hulle sê, elke hond kry sy dag. En myne het aangebreek.

Donderdag 10 Junie was nie vir my ’n goeie dag nie. En ek stel dit sagkens. Dit was dié dag toevallig ’n gedeeltelike sonsverduistering, maar vir my het die héle dag soos een groot verduistering gevoel. En dis hoe ek op die N2-snelweg buite Kaapstad, met ’n selfoon in die hand én ’n hond op my skoot (ore al wapperende by die oop venster uit) afgetrek is.

En dit was nie net een wit motor met flitsende ligte waarvan die sirenes skril begin loei het nie, maar twee! Ek het myself koud geskrik, want ek is op heterdaad betrap. Ek, wat normaalweg selfoon-wetsgehoorsaam is. Geen verskoning of verduideliking kon die feite weerlê nie. Caught in the act. Guilty as (almost) charged.

So trek ek toe maar gedweë van die pad af met ’n hart wat bokspring en ’n mond wat binne sekondes kurkdroog is. Een motor stop reg voor my en die ander knap agter. (En ek registreer steeds van êrens in hierdie angswekkende situasie die verbygaande motoriste se nuuskierige en, hier en daar, ’n paar smalende kyke.)

Om alles te vererger, gaan my dowe, driebeen Jack Russel verwoed aan die blaf vir die twee dreigende figure wat na my motor toe aanstap. Die nagmerrie ontvou nog verder. Die beampte voor begin stadig ’n koeëlvaste baadjie aantrek…

Beampte Nommer 2 staan toe reeds by my venster en al wat ek kan doen, is om my kop in my hande te laat sak en stadig te skud.

Toe ek uiteindelik genoeg moed bymekaarskraap om op te kyk, begroet twee kalm blougroen oë my. Die persoon groet beleefd. En luister geduldig na die Storie van my Ontstellende Dag. En na my verweer dat dit ’n eenmalige gebeurtenis was. En deurentyd wag ek dat iets gaan gebeur. Dat ek sal moet uitklim; dat ek dalk geboei gaan word; dat ek dalk ’n “paar honderd randjies” van êrens sal moet optower.

Maar nee, niks gebeur nie. Verkeersbeampte Wayne van der Westhuizen en sy bevelvoerder (met die koeëlvaste baadjie) laat nié die valbyl val nie. Ek word streng gewaarsku, maar met hoflikheid.

Voor hy groet, vra beampte Wayne waarnatoe ek op pad is en ek sê ek gaan Stellenbosch toe via die korter R300-pad. Met erns in sy oë stel hy voor dat ek maar eerder “langpad” ry want die taxibestuurders skiet in Nyanga. En dis waarnatoe hulle twee eintlik op pad was. Totdat ’n vrou met ’n hond-op-die-skoot-en-’n-selfoon-in-die-hand hulle net daar in hul spore gestuit het.

Toe is hulle vort. Nyanga toe. Waar wie weet wat op hulle gewag het.

Soos hulle wegry, sit ek nog vir ’n paar oomblikke in my kar en skep net asem. Ek weet die twee manne in uniform was haastig en het belangriker dinge gehad om te doen as boete-en-beslagleggingspapierwerk en dis dalk hoekom ek so lig daarvan afgekom het. Maar êrens in my agterkop sê ’n stemmetjie: Hierdie twee geharde wetstoepassers het genade betoon. En respek. Daar was nie ’n greintjie magsbeheptheid te bespeur nie. En dít gee my weer hoop.

Hulle kan nié almal oor dieselfde kam geskeer word nie.

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Verkeersbeamptes (veral sekeres) hou in Pretoria en Bela Bela ook nie van ‘n hond op jou skoot terwyl jy bestuur nie, kamstig ‘n obstruksie (wat van taxi’s wat enige plek stilhou, beeste en bokke op hoofpaaie). Boete R1500. Dit is vir my ‘n erge graad van diskriminasie. Nie almal word oor dieselfde kam geskeer nie. Hond is obstruksie, Klaas se bees is OK.

Ansie

Heeltemal reg. Mens kan nooit almal oor dieselfde kam skeer nie. Daar is baie goeie wetstoepassers – ons lees net nie van hulle nie, want dis nie “nuuswaardig” nie.

Richardt

Vir diegene wat te jonk is om te weet en sommige wat te oud is om te onthou: In die jare 60’s en 70’s toe ek ‘n jongeling in die Kaap was, was die Kaapse ‘Spietkops’ bekend as die Bloubaadjies. Netjies geklee in hul bloupakke, gedas en met blink skoene en uiters beleefd en bedagsaam. Hulle was soos ridders van die hoofpaaie. Mense het na hulle opgekyk, eerbare manne, die helpende hand indien iets langs die pad verkeerd gaan! Die motoris en passasiers se vriend! Hulle was vir niemand ‘n bedreiging nie. Die jongeling met ‘n loodvoet kon dalk ‘n… Lees meer »

Vrijburger

Ek het self sulke ‘positiewe interaksies’ om van te vertel.
Dankie aan die ‘goeie’ wetstoepassers.

Niklaas

Mens hoor ook niemeer aldag van sulke stories nie. Daardie klas wetstoepasser word skaarser.