Oorgeplante hart klop al vir 24 jaar

Willie van Aarde.

Susan Maré

Groote Schuur-hospitaal, 10 Januarie 1993. Vier-en-twintig jaar gelede. En op die operasietafel … Willie van Aarde van Paul Roux.

Salig onbewus in ʼn narkotiese slaap weet hy nie in sy borskas is nou net ʼn rooi holte nie. Daar waar die ou hart was. Die pap hart waarmee hy nie verder kon lewe nie is reeds uitgesny. En die nuwe hart, terwyl hy met ʼn hartlongmasjien aan die lewe gehou word, is gereed om dié kosbare lewensholte te vul. ʼn Skenkerhart vir die veeboer wat in 1989 aangewys is as die Landbouskrywersvereniging se Suid-Afrikaanse Boer van die Jaar. ʼn Voorslagboer.

Dié voormalige provinsiale stoeikampioen in die ou Transvaal, soos ook sy vyf ander broers, lê weerloos in die teater. Fiks en vol lewensenergie was hy, maar dit was lank gelede. Later ʼn suksesvolle veeboer met vier plase. En op ʼn dag sê sy hart ná twee groot operasies net hokaai. Net tot hier.

Danksy die skenkerhart van ’n 23-jarige jong man wat in ’n bergklim-ongeluk dood is, het Willie dié kans op lewe gekry. Danksy wêreldgeskiedenis wat in dieselfde Groote Schuur-hospitaal in 1967 gemaak is met die eerste hartoorplanting. En danksy die vordering van die mediese wetenskap daarna op dié gebied.

Vandag, as die 67-jarige Willie terugkyk, kan hy dit nie glo nie. Al was sy gesondheid nooit weer dieselfde sedert sy hartoorplanting nie, en al sluk hy honderde rande se pille elke maand, kan hy diep asemhaal en opkyk na die Oos-Vrystaatse hemelruim met sy skouspelagtige wolke. Hy weet hy lééf as hy die koel bries van die Oos-Vrystaat soggens vroeg aan sy vel voel. Vergeet maar van die twee inspuitings elke dag en sowat twee dosyn pille wat hy moet sluk: “Ek is seker een van die geseëndste mense in hierdie wêreld. Die Here se genade was en is groot.”

Van Paul Roux tot in Groote Schuur? Dit het by rumatiekkoors begin toe hy ʼn kannetjie in standerd vyf was. Eers later uitgevind dié siekte het sy hartkleppe kwaai aangetas. Van skoolgaan vir minstens ʼn jaar was daar nie sprake nie. Hy het buite in hulle woonerf plaas-plaas gesit en speel en juis daar het die droom om eendag te boer, posgevat. ʼn Paar jaar later het die tienerseun se pad met dié van ene Ernst Smit gekruis toe hy na Pretoria se middestad geryloop het en deur Ernst opgelaai is. ʼn Vriendskap het ontstaan en ná sy hoërskoolloopbaan het Willie vir Ernst se pa, Zagie, op sy plaas Montdora naby Senekal begin boer. Dit was Ernst wat Willie gehelp het om op 19 sy eerste plaas, Tryfena, in die distrik Paul Roux te koop. En só het sy droom om te boer ʼn werklikheid geword. Nog drie plase later het ʼn beeldskone meisie sy oog getref. Emmerentzia. Hulle het drie kinders – Gisela en ʼn tweeling, Marika en Jason.

Willie was 36 toe sy hartkleppe begin toegroei het en hy vir sy eerste opehartoperasie moes aantree. Drie jaar later was dit ʼn drievoudige hartomleiding. In 1989 is hy as Suid-Afrika se Boer van die Jaar aangewys. Twee jaar later … ondraaglike rugpyn. Dokters toe, maar slegte nuus.

Ek het verslae weggestap, toe omgedraai en desperaat gevra: ‘Wat van ʼn hartoorplanting?’

“Medies gesproke kon hulle nie meer vir my iets doen nie. Ek was geskok en ontsteld. Ek het verslae weggestap, toe omgedraai en desperaat gevra: ‘Wat van ʼn hartoorplanting?’”

Ná toetse in Groote Schuur-hospitaal was die goeie nuus dat hy wel vir ʼn hartoorplanting kwalifiseer. Die voorwaarde was egter dat hy Kaap toe moes verhuis om naby die hospitaal te wees. In April 1992 het die Van Aardes op Sandbaai by Hermanus in vriende se strandhuis ingetrek. Wagtend op Willie se nuwe hart. Teen November daardie jaar het sy niere begin ingee en het hy op moedverloor se vlakte geleef. Die einde was duidelik nie ver nie. Op Vrydag 8 Januarie is hy ná ʼn hospitaalbesoek huis toe gestuur. Die prognose was baie sleg. Die skok van die prognose was nog nie weg nie toe die telefoon die volgende dag lui: Hy moes dadelik gereed maak vir ʼn moontlike skenkerhart.

En sá het dit dan gebeur. ʼn Godsbelofte (aangepas) uit Esegiël het vir hom waar geword: “Ek sal die siek hart uit jou binneste wegneem en vir jou ʼn nuwe hart gee…” Daar lê hy die aand van 9 Januarie 1993 op die operasietafel, wagtend vir die hart van ʼn onbekende skenker. Bedek met ʼn steriele operasiekleed terwyl hartchirurge oor hom buk. In die teater naby is nog ʼn liggaam op ʼn tafel, dié van sy weldoener, en op ʼn skerm wys dit hy is dood want daar is geen breinaktiwiteit nie. ʼn Masjien laat sy bloed nog pomp en hou sy hart gereed vir iemand anders se lewe. Die hartspan werk vinnig en sekuur. Wat hulle nie weet nie is dat dié pasiënt een van die land se langsoorlewendes met ʼn oorgeplante hart sou word, en een van bitter min in die wêreld. Terwyl hy daar lê en die nuwe hart in die rooi holte ingelê en chirurgies deel gemaak word van sy liggaam, pomp die masjien bloed en suurstof deur sy are.

Teen 03:00 begin die nuwe hart in sy borskas klop. Toe hy sy oë op 10 Januarie oopmaak, is dit ʼn nuwe, óú Willie. Hy en die hart hou van mekaar en eindelik kan hy huis toe gaan. Terug Vrystaat toe. Terug na die sandsteenwêreld van die Oos-Vrystaat. En soos wat die tyd aanstap, word Willie weer sterk. Sandsteensterk in sy gees. Maar sy liggaam steeds broos. Afhanklik. ʼn Nuwe, versigtige lewenswyse. Al is sy liggaam nie meer wat dit was nie, pas hy aan saam met sy geliefdes om die groot wonderwerk te kan beleef. Hy gryp die tweede kans op lewe gul aan.

Vir die skenker se ouers skryf hy later ʼn brief. Hy het die brief by die hospitaal afgegee om vir hulle te gee. Hierin het hy onder meer geskryf dat hulle nie weet in watter mens hulle seun se hart ingesit is nie. Hulle seun se hart is nie meer in sy lyf nie, maar hy, Willie, sal probeer om verantwoordelik genoeg te wees om die skenker se ouers nie teleur te stel nie.

Nuwe hart ten spyt was en is die prys vir hom steeds groot. Die verhaal van sy gesondheid is steeds, in 2017, nie sonder opofferings nie. Hy moes alles wat hy besit het verkoop en vir ander boere gaan werk, totdat dít ook te veel geword het.

En tog, die Here God laat sy kinders nooit in die steek nie. Willie is vergenoegd en prys sy vrou, Emmerentzia, vir haar liefde en ondersteuning deur al die jare. Sy kinders en kleinkinders verryk sy lewe. Hy en Emmerentzia bly in ʼn sandsteenhuis in Lourensstraat 11 in Paul Roux en die blomme en groente in die tuin getuig van gelukkige mense. Teen die sandsteenmuur van ʼn buitegebou staan ʼn ry mielies wat saad skiet. Hiér bly ʼn boer.

Hy weet nie hoe lank hy nog gaan leef nie. Waar hy nou is, is reeds ʼn wonderwerk. Hy weet hy sal nooit weer kan boer nie en dat die pad vorentoe gesondheidsgewys steeds klipperig gaan wees. Baie bulte wat hy nog moet oor.

Maar diep in die nuwe hart is hy steeds daardie taai boerseun van vroeër. Hy het só ver gekom. Twee dosyn jaar met iemand anders se hart

Maar diep in die nuwe hart is hy steeds daardie taai boerseun van vroeër. Hy het só ver gekom. Twee dosyn jaar met iemand anders se hart. Hy is ʼn uitsondering op die reël en besef dankbaar hy leef al jare langer as die skrale vyf wat hulle gedink het hy sou. Willie kyk vorentoe en weet – die God wat hom tot hier gebring het, sal hom en sy geliefdes enduit deursien.

Elke keer wat hy sy asem diep kan intrek om die veld te ruik, die natuur om hom waar te neem en te geniet, weet hy sy geleende tyd is nog nie verby nie. En totdat die geleende tyd eendag verby is, totdat God hom kom haal om huis toe te gaan, tel hy elke dag sy seëninge, gekoester in die liefde van sy geliefdes en vriende.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Yvonne de Bruin ·

Willie ek loof die Here vir die jare wat jy met jou nuwe hart alreeds leef. Jy was en is vir my ‘n wonderlike vriend. Ek sal jou nooit vergeet nie. Emmie en vir jou ook het die Here gedra. Mag Hy julle in die jare vorentoe nog Ryklik saam seën. Liefde Yvonne xxx

Mariane Fourie ·

Dit wil gedoen word. Oom het soooo baie vir ander gedoen en dit is hoekom ons so lief is vir oom. Mag oom nog lank vir ons Van Aardes gespaar word. Emmie, jy en oom Willie moet jul vakansie by die see geniet. .Julle verdien dit.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.