Oorlewingstuine kan hongerpyne stil

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Markus Spiske/Unsplash.)

Die algehele inperking het uiteenlopende gevolge. Terwyl sommiges veilig in hul huise kan bly met genoeg om aan hul behoeftes te voorsien, sukkel miljoene Suid-Afrikaners om bloot te oorleef. Dit is juis om dié rede dat Arina Duvenhage, eienaar van die Garden of Eden-tuinskool, die oorlewingstuineprojek begin het.

Haar projek kry tans groot aftrek, sowat 1 300 mense het reeds by haar aangesluit en die ledetal groei daagliks. Die idee is om daagliks aan lede via sosiale media stap-vir-stap-instruksies te stuur om met dit wat hulle in en om hul huis het, ’n  eenvoudige tuin te begin. Die doel hiermee is om vir hul gesinne te kan sorg, maar ook bietjie meer te plant om vir ander in nood ook van hul oeste te kan gee.

“Daar is mense van so ver as Namibië, Israel en Australië, wat deelneem,” sê sy.

Sy stuur daagliks voor 10:00 ’n eenvoudige opdrag. Dit begin by hoe om grond voor te berei, dan kompos te maak, hoe om saad te saai en ook wat om te gebruik om in te plant.

“So is ons dag vir dag besig om aan ons tuine te werk met die doel om ons gesin te voed, maar ook iemand anders wat sukkel, te help.”

Sy meen saad mag nog wetlik verkoop word en daar is nog saad is sommige winkels beskikbaar.

Oorlewingstuine, volgens Duvenhage, is ’n projek wat in die eerste twee weke van die afsondering by haar opgekom het. Soos baie Suid-Afrikaners moes sy haar eie besigheid se deure summier met die aanvangs van die afsonderingstydperk sluit. Garden of Eden-tuinskool is ’n suksesvolle kleinsakeonderneming wat tans sewe gesinne onderhou.

“Vir die eerste twee weke het ek net stilgeraak voor God en gesoek na antwoorde,” sê sy. Sy glo die Heilige gees het haar hierin gelei en die inspirasie vir die projek gegee. Duvenhage meen die koronavirus is tans ons grootste uitdaging, maar die oorlewing van miljoene mense ná die inperking, staar ons nog in die gesig.

“As jy ’n lappie grond het of selfs potte, enige ongebruikte houers in jou huis, raak kreatief en begin iets plant. Ons as ’n nasie kan saamstaan en tydens die afsondering iets doen om mense in die moeilike tye wat nog kom, te kan help.”

Gemeenskapstuine

Duvenhage het drie jaar terug by die Kerk-in-Suid-gemeente in Centurion betrokke geraak en 35 mense opgelei om ’n gemeenskapstuin op die kerk se terrein te begin.  Vyftien van dié groep gemeentelede het die projek verder gevat en werk een keer per week in die tuin.

“Die groep bring hul kosblikke en koffieflesse, en dan spit, skoffel en plant hulle saam,” sê sy. “Die gemeenskapstuin verskaf tans genoeg voedsel aan die kerk se voedselskema wat daagliks ’n bord kos aan tientalle behoeftige kinders in die omgewing voorsien.”

Duvenhage het ook onlangs versoeke van ander gemeentes ontvang om ook so ’n gemeenskapstuin te begin.

“Ek beplan om ná die inperking ’n landwye toer te reël waarby kerke betrokke kan raak. Dit kan selfs ’n projek wees wat ’n groep vriende kan aanpak.”

Duvenhage se droom is om eendag ’n boek saam te stel wat die sukses van gemeenskapstuine ten toon te stel.

“Hoe lekker sal dit nie wees om eendag die projek se naam te kan verander na “Oorwinningstuine” nie! Ek sal graag wil sien hoe sulke projekte landwyd suksesverhale kan wees, waar mense nie meer net oorleef nie, maar uiteindelik oorwin.”

Intussen word Lonehill Media, wat Die Tuinier-tydskrif uitgee, ook soos talle ander mediahuise erg geraak deur die inperking.

“Ons kon nie ons Mei-uitgawe druk nie, en dit het innoverende denke geverg om nie net ons titelhandelsmerke in gedagte te hou nie, maar ook om ’n advertensie-inkomste in te bring. Met dit in gedagte, het ons ʼn tuinmaakgids geskep om gratis af te laai. Dit word ondersteun deur daaglikse video’s op ons YouTube-kanaal vir elke dag van die afsondering,” sê Jonathan Gouws, van Die Tuinier-tydskrif.

Volgens Gouws wys die gratis gids jou hoe om produktief en skeppend in die tuin besig te bly.

“Dit is die tyd om jou tuin werklik baas te raak. Leer hoe om nuwe plante van saad of steggies te kweek, ʼn wennerkomposstelsel te maak, te hergebruik wat jy reeds het, of om ʼn groentelappie te begin. Wys sommer jou kinders ook hoe dit gedoen word!”

Mense wat wil deelneem aan Duvenhage se oorlewingstuineprojek kan hul naam en van stuur na 082 331 5434 of Duvenhage se Facebook-bladsy, genaamd Medisinale organiese groentetuine, besoek. Daar word artikels daagliks gelaai oor verskillende tuinmaakwenke. “Ek is juis besig met ’n artikel oor hoe jy ’n potmengsel kan maak met goed soos blare, groengrassnysels, grond uit jou tuin, koerantuitknipsels, koffiemoer, teesakkies en eierdoppe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Michael 1 ·

Dit is n uitstekende inisiatief ,maar dit behels werk en daarom sal ons dit nie doen nie want ons kry grants vir alles alhoewel ons regering bankrot is is ons nie gepla wat hulle sal die wat werk meer belas of nog geld leen iewers

Nicolene ·

Ek het onlangs verby ‘n plakkerskamp gery. Daar was twee huisies wat ek kon sien wat bome en tuine gehad het ten spyte van die feit dat daar genoeg plek is om groot groentetuine aan te lê. Dis asof die wíl om self die leisels te neem, nie daar is nie. Huisgesinne kon nou spinasie, tamaties en groenmielies geëet het. En drie tot vyf hoenders per gesin sou darem sorg vir eiers. As daar water is kan ‘n gesin ‘n tuin aanlê. Hierdie inisiatief is ongelooflik.

Alexz ·

Dit het my altyd laat wonder dat in S.A die hiuserwe so groot is, en dan word daar net gras geplant. Sekerlik is daar altyd ñ 6m x 10m ruimte vir kos verbouing? Vir jare plant ek geelwortels, spinasie, stoelboontjies, tamaties en uie. Buiten die uie, kan die ander genoemde groentes gevries word vir latere gebruik. Ja, dit verg moeite en sweet, en is elke druppel sweet werd!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.