Oorlewingsverhale is sterre teen ’n donker hemelruim

(Foto: Warren Wong/Unsplash.)

Raak die gemiddelde mens net tydens pandemies vindingryk en behulpsaam, wonder Sarie Marais-Nell. Allermins: In moeilike tye is inspirerende oorlewingsverhale soos helder sterre teen ’n donker hemelruim.

Ek verwonder my gereeld aan mense wat iets merkwaardig uit hul moeilikhede skep. Al gebeur dit midde-in situasies waarin hulle nooit sou verkies het om te wees nie; al vra dit vele probeer-en-trefslae. Met ’n vasberadenheid soos Julia Roberts as enkelma in Erin Brockovich.

Nog voordat Suid-Afrikaners ingeperk is, hou Italianers musiekuitvoerings op hul balkonne, versier kinderkuns Britse vensters en moedig televisiestasies gesinne aan om video-oproepe na omroepers te maak. Toe ons afsonderingstyd inskop, raak ma’s kreatief met verbyryverjaardae en -ooievaarstees, verjaardagvieringe waar bure weerskante van hul tuinmure kuier en aanlyn kuiers as oorlewingsmeganismes.

Skaars is almal op hok gejaag, of elke tegnologiegestremde persoon kan zoom, videovergaderings hou en virtuele toere na internasionale museums en wildtuine geniet. Terwyl Denemarke inrymusiekkonserte hou, begin kind en kraai aanlyn studeer.

Later gryp ons almal Werkersdag uitbundig aan toe duisende mense as atlete ontpop en begin draf, stap en fietsry. Moontlik het Tekkie Town-eienaars hulself tevrede op die skouer geklop; hulself wysgemaak hulle het darem nie té sleg gedoen die laaste jare nie, Steinhoff-relletjies ten spyt.

Terwyl Suid-Afrikaners hul bes doen om ingehoktheid en onbeplande finansiële beperkinge dapper te hanteer, maak ekstra stressors ons emosionele veerkragtigheid óp. Want geen mens is gerat om tuis te bly wanneer jou kind doer ver siek raak, in ’n ongeluk beland of kraam nie.

Spar Palm Grove (Foto: Facebook)

As oorlewingsmeganisme spits ek my ore vir verhale van mense wat hoë hekkies oorkom en in kanniedoodstyl deur hul moeilikhede groei.

Soos mense wat sopkombuise oprig en boere wat vragte vars produkte na tehuise en verhongerdes aanry.

Soos winkeleienaars wat in ware Ubuntu-gees sommige rakke leegmaak sodat plaaslike klein besighede hul produkte daar kan bemark. En ’n Kaapse Spar wat daardie produkte wat buurwinkels verkoop, tydelik van hul rakke verwyder. Sodat bure ook ’n bestaan kan maak.

Stephen Fry’s Fantastical Ties verwys na die Britse akteur en komediant wat sy aanhangers tydens inperking opvrolik met Instagram-inskrywings oor sy interessantste en belaglikste dasse. By elke dasfoto vertel hy kleurvol oor die ontwerper daarvan en vir watter geleentheid dit gemaak is. Al koes sommige ontwerpers vir Fry se beskrywings. En al beskuldig hulle hom gemoedelik dat sy liggaam enige ontwerperstuk laat lyk soos ’n goiingsak wat teen ’n heining vasgewaai het.

Met sy droë, skerp humorsin moedig hy ons aan om ons aandag soms te fokus op iets anders, weg van dié irritasies wat ingehoktheid noodwendig saampiekel.

Mary Mac se Memory Bears wat sy maak uit mense se klere. (Foto: Mary Mac se Facebook-blad.)

Mary MacInnes is ’n 22-jarige Skotse student met ouwêreldse wysheid. Daarom kon sy selektiewe doofheid toepas toe ’n snedige onderwyseres haar aanraai om nie haar £23-inskrywingsgeld vir universiteit “so te mors” nie. “Jy sal tog nooit graad vang nie.”

Dít nadat Mary op 16 die Junior Entrepreneur van die Jaar-prys gewen het vir haar unieke handgemaakte teddiebere.

Sy maak individuele bere uit kledingstukke van ’n geliefde wat gesterf het. Sy bestudeer elke oorledene se lewensverhaal, foto’s en kledingstukke aandagtig voordat sy fyn detail soos ’n kenmerkende knoop, wenkbrou, bril of motto op die beer aanbring. ’n Kundige sakkie of opening binne die teddie kan die oorledene se as of juweliersware berg. Hierdie teddies help elke ontvanger daarvan met die rouproses.

Nadat Mary op 15 so ’n beertjie vir ’n vriendin gemaak het, is Memory Bears gebore – ’n projek wat sy sedertdien met skool- en universiteitstudies moes kombineer.

Hoewel sy graag in trourokke wil spesialiseer, moes sy pas ’n universiteitsjaar afstaan om die groot hoeveelheid bestellings vir herdenkingsbere af te werk. Haar 2020-dagboek is volbespreek.

Op haar Facebook-blad Mary Mac lees ons dikwels ’n stukkie detail oor haar jongste bere. Omdat daar soveel emosie in die projek ingaan, kontak ek haar, waarna sy my vrae só beantwoord:

Dit neem vyf tot ses uur om ’n beer te beplan en rofweg te voltooi. Die emosionele bagasie rondom die sterwensverhale bly egter haar grootste uitdaging.

“Kliënte vertel dikwels baie hartseer sterwensverhale. Wanneer die bondeltjies klere hier opdaag, raak ek hartseer, want kledingstukke is so persoonlik.

“Dit raak baie moeilik as selfdood, moorde of kanker by jongmense ter sprake kom.

“Een 37-jarige pa was vreeslik angstig; sy dogtertjies móés hul bere vir Kersfees kry. Toe ek besef dis sy eie kledingstukke, dat hy voor Kersfees van kanker sou sterf, het ek heeltyd gehuil terwyl ek die beertjies sny.

“Dan herinner ek myself aanhoudend dat ek ’n diens lewer. Ek leer geleidelik om verby hierdie emosies te werk; om nie betrokke te raak in emosionele tennisboodskappe met kliënte nie. Ek stuur my simpatie, vra of hulle hulp benodig met verwysing vir terapie, en beweeg aan. Anders verdwyn my kreatiwiteit.

“Ek besef heeltyd ek moet op my naaldwerk fokus, want dan kan ek nuwe lewe in hierdie kledingstukke blaas; slegs dán kan elke beer ’n positiewe bydrae in hul rouproses lewer. Ek mag nie vasval in Tranedal nie.”

Mary werk tans kosteloos aan beertjies vir families van verpleegsters van haar streek wat weens Covid-19 sterf.

“Ná my aanvanklike ontsteltenis doen ek wat ek altyd doen; ek gaan na my happy place en doen naaldwerk. Ek fokus doelbewus op die positiewe, omdat ek wéét hierdie viering van iemand se lewe maak ’n groot verskil.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae