Oorlog, siekte, dood: die verhaal van Katja Kowalec is eersdaags ʼn radiodrama

Roelf van Jaarsveld en Katja Kowalec gesels oor haar ervarings. (Foto: Verskaf)

As ʼn vlugteling tydens die Tweede Wêreldoorlog ontmoet ʼn jong Poolse vrou ʼn ontsnapte Suid-Afrikaanse soldaat wat vir die geallieerdes geveg het. Na die oorlog is die plan dat sy haar, saam met haar nuwe man, in Serfontein, in die Vrystaat, sal vestig.

Alvorens die trek na ʼn nuwe land wat nie deur die oorlog uitmekaar geruk is nie, kan plaasvind, word die vrou gevange geneem deur die Russiese owerhede, wat haar na ʼn vergassingskamp toe neem. Op pad daarheen, stop hulle by ʼn ander kamp en ontmoet dié vrou ʼn Russiese soldaat wat staan en sonneblom sade eet. Die soldaat help haar ontsnap.

Die boeiende ware verhaal van die 95-jarige Katja Kowalec, wat in die boek Those Miraculous Sunflower Seeds vasgevang is, sal eersdaags op Nelspruit se luggolwe te hore wees wanneer Radio Laeveld 100.5 FM op 14 Oktober ʼn verwerking van die verhaal as ʼn radiodrama gaan aanbied.

Die Sade van Genade-vervolgverhaal is ʼn pluimpie vir dié radiostasie, omdat dit die gemeenskapsradiostasie se eerste radiodrama is en ʼn volle 50 episodes beslaan.

Oorspronklik sou die verhaal eers net ʼn klankreeks gewees het, wat opnames tussen Roelf van Jaarsveld, ʼn omroeper by Laeveld Radio en Kowalec sou terugspeel, maar Van Jaarsveld verduidelik dat Kowalec se stem so sag is dat dit nie oor die radio gehoor sou kon word nie. “Sy is ʼn absolute ikoon in ons dorp en die storie moes net vertel word. Dit is toe dat die idee van ʼn reeks by my opkom. My vrou het voorgestel dat ek ʼn voorlesing doen, maar ek hou van die produksie van ʼn radiodrama, al die klanke wat ʼn mens maak, al die mense met wie jy werk.”

Van Jaarsveld behartig die vertaling, tekste, regie en redigering van die projek. “Ek het eintlik ʼn lat vir my agterstewe gepluk, maar ek wou en ek het,” spot hy.

Die hoofrol word vertolk deur Kristen Raath, beter bekend as Amorey van 7de Laan. “Die wonderlike ding van haar is, sy kom van Nelspruit af en het hier skoolgegaan. Die hele span van omtrent 90 stemme bestaan uit Laevelders.” Die rol van die Suid-Afrikaanse soldaat word deur Hardus Hartzenberg, ʼn plaaslike sanger, behartig.

Van Jaarsveld vertel verder dat die boek aanvanklik Kowalec se memoires sou wees wat sy met vriende en familie wou deel. “Sy wou hulle van die gruwels van oorlog vertel, dat mense nie eintlik besef wat dit is om in ʼn oorlog te wees nie. Katja het ook vertel hoe die soldaat wat haar help ontsnap het, skoner as die res was – hy was nie dronk nie en hy het nie twak gekou soos die ander nie. Sy sê ook hy het ʼn aura om hom gehad het. Tot vandag toe glo sy die soldaat was eintlik ʼn engel wat die Here gestuur het.”

In Suid-Afrika aangekom, na 21 dae op ʼn skip, moes Kowalec ʼn nuwe uitdaging aanpak. Sy kon nie Afrikaans of Engels praat nie, maar haar man kon Duits praat. Sy vertel ook hoe sy, vrou-alleen na haar man haar gelos het, ʼn suksesvolle klere-ontwerpersbesigheid in die Carlton-sentrum in Johannesburg op die been gebring het. Sy het egter na ʼn besoek aan die Kruger Wildtuin besluit om haar in Nelspruit te vestig.

Hierdie aspekte van haar lewensverhaal maak ook deel uit van die radiodrama, maar die vervolgverhaal vertel nie haar hele storie nie. “Ons wil graag die tweede helfte van haar lewe ook vertolk, maar ons gaan die luisteraars aanpor om ons te druk om die storie verder te vertel.”

Dit sluit talle tragiese gebeurtenisse in, soos Kowalec wat met borskanker gediagnoseer is, haar pa wat selfmoord gepleeg het na hy met kanker gediagnoseer is, haar ma wat onverwags op ʼn oorsese vakansie in Spanje oorlede is en haar dogter wat in ʼn fratsongeluk by ʼn ooievaarstee gesterf het.

“Katja het baie tragiese dinge deurgemaak en sy glo dit is net haar geloof wat haar gedra het. Ons kry almal op een of ander manier sade van genade wat jou laat voortgaan,” sê Van Jaarsveld.

*Sade van Genade gaan ook op Radio Laeveld 100.5 FM se webtuiste geplaas word as mense in ander dele van die land daarna wil luister.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lynne ·

Sjoe!! ‘n Merkwaardige storie wat verdien om vertel te word!

Maria ·

Klink intersant hoe van mense lewens verhale en geskiendenis .

Marthinus Willemse ·

Die Russe het nie “vergassingskampe” gehad nie. Jy het jou dood gewerk in die goelag, of is dood geskiet.

My ma se pa, Marthinus “Buks” Senekal, was stasievoorman op Serfontein in die 1930’s.

Johan ·

‘n Federasie is seker beter as niks maar dis vir my verre van ideaal. Laat ons nou maar eerlik wees, ons verskil te veel van die ander rasse en volke waar tussen ons woon. Ons het rerig niks in gemeen met hulle nie. Dit beteken natuurlik nie dat ons geen goeie bure van hulle kan wees nie. Ek sien ‘n konfederasie as ‘n werkbare alternatief. Die hoof ideaal bly natuurlik ‘n vrye onafhanklike volk. Maar ons grootste probleem is dat ons klein volkie geografies so verspreid is. Dit maak eintlik enige model onwerkbaar !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.