Oos-Kaapse museum hou kunstenaar lewend

Ros Turner is sedert 2011 die kuratrise by die museum. Sy verwonder haar daaroor dat Battiss se werke 39 jaar na sy dood, steeds tot soveel mense spreek. (Foto: Verskaf)

Deur Sarie Marais-Nell

Walter Battiss boei steeds 39 jaar na sy dood.

ʼn Besoek aan die Walter Battiss-kunsmuseum in Somerset-Oos raak vinnig ʼn meervoudige kultuurervaring, want terwyl Battiss se groot verskeidenheid kunswerke beïndruk, is die 200 jaar oue gebou waarin dit uitgestal word, asook die museum se kleurvolle kuratrise, merkwaardig.

Walter Battiss is in 1906 in Somerset-Oos gebore. Sy ouers het ʼn hotel uit ʼn dubbelverdiepinggebou wat in 1818 gebou is bedryf – dieselfde plek waar ʼn groot hoeveelheid Battiss-werke sedert 1981 uitgestal word. As afgetrede professor in kuns kon Battiss die museumopening in 1981 bywoon. Hy het hierdie geleentheid aangegryp om ʼn groot hoeveelheid items uit sy kleurryke loopbaan aan die museum te skenk, om herhaaldelik deur die laning akkerbome wat sy voorsate in die aangrensende Beaufortstraat geplant het te stap, én sy geliefde waterval diep in die Boschberg te besoek.

Hy is kort daarna oorlede.

“Toe ek in 2006 as toerismebeampte by die munisipaliteit begin werk het, het ek nie veel van hom as skilder geweet nie,” bieg Ros Turner (76). “Maar toe ons die toerismekantoor in 2011 na die Walter Battiss-museum verskuif, het ek gesorg dat ek meer oor hom uitvind deur navorsing en onderhoude met mense wat hom geken het.”

Deesdae gesels Ros met gesag oor hierdie kunstenaar wat beskou word as een van Suid-Afrika se beste waterverfskilders en skrywer van nege boeke.

“Dit is wonderlik om te sien hoe hier mense instap wat min van Battiss weet en wanneer hulle uitstap hulle in vervoering is oor sy werk en lewensuitkyk. Daardie metamorfose boei my – 39 jaar na sy dood gryp hy stééds mense aan.”

Ros Montey was ʼn jong verpleegster in Australië toe sy die Oos-Kaapse boer, Neil Turner, ontmoet het. Hy het Australië vir navorsing oor wolskape en -skeerdery besoek. Die paartjie is daar getroud en het met hul eersteling na Neil se heimat, ʼn familieboerdery buite Somerset-Oos, teruggekeer.

“My skoonma het my vreeslik jammer gekry toe ek as 22-jarige hier aanland, só ver van my familie af.”

Met haar positiewe geaardheid het Ros gesorg dat sy goed in haar nuwe omgewing aanpas. “Daar was beslis probleme soos kultuurverskille, maar afstande was nie een daarvan nie. My verpleegwerk in Blackall in Queensland het my geleer wat afgeleë regtig beteken. Ingelegde groenvye was ʼn groter skok as Oos-Kaapse afstande.”

Sy het ingespring en veral tydens skeertyd haar plek volgestaan. “Terwyl Neil en sy broers saamgeboer het, was my verantwoordelikheid die bestuur van die skeerders en wolklassery. My pa was in die lugmag; ek het nie op ʼn Australiese plaas grootgeword nie. Ná ʼn klompie seisoene van saam met Suid-Afrikaanse skeerders skeer en sweet, het ek aan internasionale skeer- en wolklaskompetisies deelgeneem en heel goed gevaar.”

Drie dogters en ʼn seun later, wou Ros Afrikaans aanleer. “Ons kinders het hulle ore vir my aksent toegedruk en gepleit dat ek eerder net Engels moet praat. Gevolglik praat ek steeds nie Afrikaans nie.” Terwyl hul kinders kleintyd tuisonderrig by Ros gekry het, moes hulle later by Kingswood College op Grahamstad kosskool bywoon: “Ek is steeds spyt ek moes die kinders so vroeg laat gaan.”

Sarah-Jane Jordaan van De Doorns het onlangs die museum besoek omdat haar oupa, Stephen Jackson, ‘n leerder van Walter Battiss by die Pretoria Seuns Hoërskool was. Battiss en Jackson het saam rotskuns ondersoek en bestudeer. Rotskuns het juis ‘n groot wending in Battiss se kuns meegebring. (Foto: Verskaf)

In tipiese Ros-styl pak sy alles met oorgawe aan. As sy bewusmaking van die museum aanpak, reël sy ʼn Battiss-verjaardagpartytjie in postuum: “Om ʼn Karoo-partytjie vir 6 Januarie te reël is moeilik en warm – pleks het sy ma beter beplan,” kla sy speels. Dogtertjies het in klere opgedaag wat Battiss se liefde vir die Glen Avon-waterval uitbeeld toe hy geskryf het: My mother is a butterfly, my father a waterfall – verwysend na die endemiese skoenlappers by die 90 m-hoë waterval.

(Foto: Verskaf)

Wanneer Ros ʼn vriendin se verjaardagpartytjie bywoon, sorg sy vir iets interessants soos ʼn eenhoringkoek én ingeligte praatjie oor Eenhorings: bestaan dit regtig in Suid-Afrika? By die museum gedy sy met verdere interessante vertellings oor die dorp se geskiedenis.

In 2017 het Ros dit haar missie gemaak dat Somerset-Oos se inwoners aan die herdenkingsprogram van die 1917-tragedie rondom die sink van SS Mendi, die troepeskip, deelneem. “139 Oos-Kapenaars, waaronder twee Somerset-Oos manne, is tydens hierdie seeramp dood. Daar is op internasionale vlak honderdjarige herdenkings gehou. Op die oorlogsmonument in ons hoofstraat staan hierdie twee se name saam met ander soldate se name geskryf – hoe kon ons dit ignoreer?”

Ros was eers tevrede toe munisipale raadslede instem om ʼn geskeduleerde vergadering tydelik te verdaag om die herdenking by te woon en blomkranse by die herdenkingsmonument te lê.

Vanuit die Battiss-museum reël Ros ook die dorp se boekklub. Sy hou daarvan om ingelig en fiks te bly, saam met ʼn gesonde leefstyl. Toe sy egter vroeg vanjaar val en haar bekkenbeen breek, was die skok groot. “Ek spring soggens ekstra vroeg vir spinning klasse op en woeps! Daar lê ek wekelank op my rug!”

In hierdie tyd het sy weer die waarde van vriendskap besef toe vriende die museum beman en die hele dubbelverdiepingmuseum help skoonmaak het.

Al het dit haar met verganklikheid gekonfronteer, bly sy ʼn aartsoptimis. “Ek is so dankbaar vir die museum in my lewe. Hoe kan ek tuisbly as ʼn mens sulke interessante besoekers hier kan ontmoet?”

Die kunstenaar Walter Battiss. (Foto: Verskaf)

Met terugskoue onthou sy Battiss se laaste besoek aan Somerset-Oos, en dan ook professor Jakes Gerwel – wat ʼn historiese huis naby die museum gekoop het – en sy vrou en dié se susters se museumbesoeke: “Altyd op ʼn Donderdag, deftig aangetrek en afgerond met bypassende hoede. Prof Gerwel se weduwee het sy huis, die Paulethuis, aan die Jakes Gerwel Stigting vir die ontwikkeling van kultuurprojekte geskenk.

“Almal wat die Paulethuis se amptelike opening in September 2019 bygewoon het, praat steeds daaroor. Alles was keurig, met drie Gill College-studente se optrede saam met die Soweto String Quartet.”

“Van Battiss se verbeeldingseiland, Fook Island, tot ons dorp se kleurryke geskiedenis – ek het so ʼn interessante lewe hier. Ek wil nog elke dag werk – I would like to die with my boots on.”

  • Die Walter Battiss Foundation is in 2018 gestig; ʼn niewinsgewende organisasie om die museum se standhoudendheid te verseker, wat weens Covid-19 ʼn groeiende uitdaging is.
  • Loer gerus op verskeie webwerwe vir meer inligting oor Walter Battiss, of stuur ʼn e-pos aan [email protected].
  • Die skrywer het Ros Turner tydens ʼn maandlange skryfwegbreek in Paulethuis ontmoet as deel van PEN Afrikaans en die Jakes Gerwel Stigting se inisiatief ter kultuurbevordering in Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elmarie ·

Ros klink na MY tipe mens! Bly iemand is so aangevuur om Battiss se nalanenskap so mooi te bewaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.