Oos-Randse organisasie voed hongeres met kospakkies

Die Tweede Kans-organisasie het vandeesweek minderbevoorregtes in Danville, Pretoria, met kospakkies gehelp. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Die Tweede Kans-liefdadigheidsorganisasie het vandeesweek na Danville uitgereik, waar kospakkies, worsbroodjies, koeldranke en lekkergoed aan minderbevoorregte gesinne in dié Pretoriase voorstad by die NG Kerk Wespoort uitgedeel is.

Danie Lamprecht, stigter van die organisasie, en sy vrou, Charmaine, is aan die stuur van sake by Tweede Kans. Dié organisasie is in Brakpan aan die Oos-Rand gesetel.

Lamprecht vertel die organisasie is gebore uit die kosnood van sy eie familie, maar het later uitgebrei na ander gebiede reg oor die land waar behoeftige mense van voedsel voorsien moet word.

“Die organisasie het reeds in 2015 ontstaan, maar weens die pandemie en die nood wat daaruit gespruit het, met byvoorbeeld meer mense wat by hulle werke afgedank is, het ons las die afgelope twee jaar swaarder geraak,” sê Lamprecht aan Maroela Media.

“Ons het begin deur eers net ons eie familie te help, maar dit het mettertyd op my vrou se hart gedruk om ander mense ook te help. Vandaar het ons die organisasie wettiglik laat registreer en intussen het ons al sowat 21 000 mense landswyd met kospakkies bygestaan.”

Die kospakkies word op ʼn weeklikse basis uitgedeel en ʼn kospakkie beloop R250 per gesin. Kontantdonasies van die publiek word ook vir brandstof aangewend om te reis na die gebiede waar die kospakkies uitgedeel word.

Die organisasie het ook worsbroodjies, lekkergoed en koeldranke aan gesinne in Danville uitgedeel. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Die organisasie verkies kontantskenkings waarmee hulle dan self die kospakkies se inhoud, soos meel en mieliemeel, aankoop.

“Aangesien ons weens geldelike druk nie altyd almal kan help nie, identifiseer ons via sosiale media behoeftige gebiede en gesinne en deel na gelang daarvan die kospakkies uit. Ons hoofdoel is om kospakkies aan behoeftiges te voorsien, maar verskaf ook soms ander items soos skoolbenodigdhede.”

Elke kospakkie bevat dieselfde items, soos mieliemeel, Maltabella-pap, pasta, rys, kookolie, teesakkies en bruinsuiker.

“Omdat die meerderheid van die mense wat ons bystaan nie yskaste besit nie, kan ons nie bederfbare produkte uitdeel nie. Dit is ook hoekom ons hoofsaaklik vra vir kontantskenkings van die publiek, sodat ons self die kospakkies se inhoud kan aankoop en die pakkies saamstel,” verduidelik Lamprecht.

Om die Tweede Kans-organisasie geldelik by te staan of ʼn ander skenking te maak, besoek die webwerf of die amptelike Facebook-bladsy.

Danie Lamprecht, stigter van Tweede Kans, vertel meer oor dié liefdadigheidsorganisasie en hoe die publiek betrokke kan raak:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

AW ·

Mag Julle van Krag tot Krag Gaan !!!

Ek soos ander MM leesers gee, soos wat ons kan bekostig, Tog die waarheid is dat die behoefte is oneindig Groot, en Julle maak ongeag n Verskil.

Kokerboom ·

Mooi gebaar dankie. Nie volhoubaar op lang termyn en werkskepping bly ‘n prioriteit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.