Oos Wes Afrikaans bes: WAT vereer dié treffende handelsname

Kaptein Karnuffel Cabernet Sauvignon (Foto: Villion Family Wines/Facebook)

Die Woordeboek vir die Afrikaanse taal (WAT) het onlangs die wenners van vanjaar se treffendste Afrikaanse handelsnaam bekendgemaak.

Moer Op Als (geurmiddel) het die meeste stemme gekry, terwyl Koer (ʼn aanlyn afspraakklub) en Oep ve Koep (ʼn restaurant op Paternoster) die naaswenners was.

“Vanjaar se kompetisie het ʼn hele oes kreatiewe handelsmerke opgelewer,” het dr. Willem Botha, uitvoerende direkteur en hoofredakteur van die WAT, in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê.

“Ondernemings begin nou besef dat Afrikaans kommersiële waarde het en dat handelsname nie meer Engels hoef te wees om te bestaan nie. Afrikaans is skielik weer in die mode en dit is wonderlik.”

Finaliste in die toptien was:

  • Boggom – velskoene
  • Gegrond – koffieroostery
  • Kaptein Karnuffel Cabernet Sauvignon – wyn
  • Kardoesie – plaasstal
  • OEPS, ook bekend as Ons Eie ProduksieS – ʼn produksiemaatskappy
  • Proux – tuisbakkery
  • Sagkuns – komberse en serpe van merinowol

“Om eerlik te wees, ek was baie onseker of mense die naam sou aanvaar of verwerp. Daar was aanvanklik gemengde gevoelens oor ons handelsnaam, aangesien mense dit as ʼn vloekwoord beskou,” sê Neels Kleynhans, braai-entrepreneur en stigter van Moer Op Als.

“Wie nie waag nie, wen nie,” sê Kleynhans. “Ek het ʼn kans gewaag en toe wen ons sowaar vanjaar se treffendste handelsnaamkompetisie.”

Koer is vroeër vanjaar deur die akteur en entrepreneur Armand Aucamp bekendgestel. Aucamp het in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel hy het besef daar is ʼn behoefte onder Afrikaanssprekers om in hul moedertaal na ʼn pasmaat te soek, wat ook met jou in jou moedertaal kan kommunikeer.

Aucamp en sy span wou ʼn kenmerkende naam hê wat onmiddellik ʼn spesifieke gevoel by mense skep.

“Ons het met verskeie naamopsies vorendag gekom wat met liefde en afsprake te doen het, maar het uiteindelik besluit om te fokus op wat in die volksmond lê,” sê hy.

“Wat sou eg Afrikaans, nostalgies en tog modern wees? Van vlerksleep tot vry, van liefdesduifies tot vere regskud, alle paaie het egter na Koer gelei: dit is kort, rol lekker van die tong af en is omskrywend van wat die app bied.”

Sanita van der Merwe, eienaar van Oep vi Koep, vertel dat dié winkel se naam deur ʼn plaaslike sakeman gekies is.

“Pas ná die winkel opgeknap is, het ons ʼn swartbord buite geplaas om aan te kondig dat die winkel weer oop is: Oop vir Koop,” vertel Van der Merwe. “ʼn Gesiene en gesoute sakeman van die Weskus, Johan Carosini, het daarlangs gekom en ons aangespreek omdat Weskussers nie van oop en koop praat nie, maar eerder van oep en koep.”

Van der Merwe sê die naam is ʼn tongknoper vir oorsese besoekers, maar hulle hou vol om Oep vi Koep met trots te gebruik en geniet dit om dié naam te verduidelik.

(Foto: Oep ve Koep/Facebook)

Eienaars van ondernemings of produkte met Afrikaanse handelsname kon hul ondernemings vir die kompetisie inskryf. Benewens bogenoemde ondernemings het hierdie Afrikaanse handelsmerke ook op vanjaar se kortlys gepryk:

  • Afrikaans – wyn
  • Baie Goeters – funksiebeplanners
  • Ben Bullebak Merlot – wyn
  • Brandman – brandrissiesmeer
  • Gatskop Vellies – velskoene
  • Jan Kan Plaasstal – plaasstal
  • Jan Rosyntjie – varsproduktewinkel
  • Kaalfööt – byderwetse skoene
  • Karmenaadjie – restaurant
  • Knip – haarsalon
  • Kwaai Lappies – materiaalwinkel
  • Liefelint – lint vir almal wat lief is vir lint
  • Lyftaal – skoonheidskundiges
  • Manna Restaurant – restaurant
  • Mondvol – koffiewinkel
  • Opgejikkel – kuns uit herwonne plastiek
  • Petal’je – blommewinkel
  • Seepglad – afleweringsdiens
  • Toggekry – landbouhandelaar
  • Vabond – gesoute spesialiteitsvleis
  • Vat dit kop toe – haarkapper

Vorige wenners sluit in “SKEP”, ʼn argiteksfirma in Stellenbosch, “Respek en Eiers”, ’n koffiewinkel in Pretoria, en “Platsak”, ʼn vulstasie en winkel in Witrivier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Santie Gildenhuys ·

Baie geluk aan die wenners van die absoluut kreatiewe Afrikaans handelsmerkname! Die kompetisie was voorwaar straf. Ek het die artikel met sy vernuwende inhoud behoorlik opgeslurp! Lank lewe ons veelseggende taal- Afrikaans!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.