Op die vergete spoor van Gideon Scheepers

Die spannetjie verkenners. (Foto: Verskaf)

Dis 18 Januarie 2022, presies 120 jaar na baasverkenner Gideon Scheepers se omstrede dood gedurende die Anglo-Boereoorlog, toe ek ʼn verkenningstog na ʼn monument aandurf wat reeds in 1945 tot sy eer opgerig is, maar waarvan weinig mense weet. Dit staan in die Scheepers-familiekerkhof naby Arnot in Mpumalanga versteek. Ek en drie erfenis-vriende pak die tog in vier karre aan. Ons het padaanwysings, foto’s van hoe dit lyk, en byna net soveel vasberadenheid as wat Scheepers self destyds aan die dag gelê het.

Vol moed en vertroue volg ons die padkaart noukeurig. Maar die moed verminder namate die modder vermeerder, want die padkaart neem ons van die snelweg na smal teerpaadjies, dan na breë grondpaaie en eindelik na klipperige sinkplaatstrate met dongas vol reënwater en plaaspaadjies wat in vleiland verander. Sal ons klompie erfenis-entoesiaste wat saam op dié dag hulde aan Scheepers wil bring ons bestemming bereik?

Maar wag, kom ek gee eers ʼn tree terug en verduidelik hoekom ons al hierdie moeite vir Gideon Scheepers doen.

Wie was Gideon Scheepers?

Foto’s van die Gideon Scheepers-monument. (Foto: Verskaf)

Gideon Jacobus Scheepers is op 4 April 1878 in die distrik Middelburg, Transvaal, gebore. Op 16-jarige ouderdom het hy hom by die Staatsartillerie van die ZAR aangesluit, waar hy as heliograaf opgelei is. In die Anglo-Boereoorlog het hy, saam met Jopie Fourie, een van generaal De Wet se baasverkenners geword en op 19-jarige ouderdom is hy as bevelvoerder van die Vrystaatse veldtelegrafie aangestel.

In Maart 1901 is Scheepers tot kommandant bevorder, terwyl hy met ’n klein kommando’tjie van 20 man sy opdragte in die Kaapkolonie met uitmuntende welslae uitgevoer het. Hy het sy take slim en dapper verrig.

’n Ernstige maagkwaal het egter daartoe gelei dat hy mediese hulp moes kry en só deur die Britse mag gevang is.

In Graaff-Reinet het ’n Britse krygsraad besluit dat Gideon nie as offisier van die Boeremagte, wat bloot militêre bevele uitgevoer het, behandel sal word nie. Die krygsraad aanvaar getuienis dat Gideon op verskeie plekke in die Kaapkolonie brande gestig, treine vernietig en nie-blankes tereggestel het. Hy word, ten spyte van talle besware, ter dood veroordeel.

Scheepers se lakonieke opmerking oor sy doodstraf in sy dagboek lui soos volg: “Het ek geweet dat ek so onskuldig gedood sou word, dan sou ek die vyand meer skade aangerig het.”

Op 18 Januarie 1902 is Scheepers in Graaff-Reinet doodgeskiet. Kitchener het die bevel gegee, die vuurpeleton se skote het geklap, Gideon het agteroor geval en is net daar begrawe. Hy was maar ’n jong man van 23 jaar toe hy gesterf het.

Die Britte het sy oorskot op ’n onbekende plek herbegrawe. Gideon se pa, Jacobus, is in 1934 oorlede en sy ma, Sophia, het daarna op haar eie tot haar dood in 1956 na Gideon se oorskot gesoek. Sy was teenwoordig op die dag toe die monument waarna ons nou soek, onthul is, al was sy toe al 85 jaar oud.

Op die monument staan geskrywe: Ter nagedagtenis aan komdt. Gideon Jacobus Scheepers. Die onvergeetlike boereheld. Gebore dist. Middelburg 4 April 1878. Gefusilleer op Graaff-Reinet 18 Januarie 1902. Sy lewe was beminlik. Sy stryd dapper. Sy dood onverdiend. Sy graf onbekend.

Kobus wys sy foto’s van waar Scheepers ter dood veroordeel is, geskiet word en sy monument by Graaff-Reinet. (Foto: Verskaf)

Sy monument bly (vir eers) onbekend

Vir twee ure lank soek ons tussen die mooie mielielande en modderige plaaspaaie van Mpumalanga na Gideon Scheepers se monument. Ons vra plaaswerkers vir rigting en volg ʼn boer se aanwysings by plaashekke in – die monument is net hier naby, belowe hy. Die hoop vlam op!

Kort voor lank val ek egter in vleiland vas sodat my wit Nissan tot op sy dak bruin bespat is soos ek spook om uit te kom. Oom Kobus se bakkie kom tot my redding, maar beland toe self in die modder en ek sleep hóm weer uit. Ons fynkam weer die padkaart, redeneer oor waar ons is en waarheen ons volgende moet gaan. Totdat die opsies – en ons moed en tyd – op raak.

Gideon Scheepers (Foto: Verskaf)

Net soos sy beendere wat nie gevind is nie, vind ons nie presies 120 jaar na sy dood Gideon Scheepers se monument nie. Ons neem ʼn foto by die vuil kar om te wys ons het ons bes probeer en groet mekaar afgehaal.

Ons sal terugkom. Ons sál Gideon Scheepers se monument vind, die aanwysings fyner dokumenteer en meer mense saambring om dit te sien – op ʼn ander dag, wanneer daar minder modder en meer sekerheid oor die bestemming is.

Intussen knaag die vraag aan my: Moet ʼn monument wat só ver versteek is, nie meer toeganklik gemaak word nie? As dit so moeilik is om dit te bereik, selfs vir die mees geesdriftiges, sou dit nie beter wees om dit na ʼn plek te skuif waar meer mense dit kan waardeer nie?

As dit nie gebeur nie, bly dit vir die meeste mense ewe onbekend as die ligging van sy beendere …

DJ Opperman se gedig, “Gebed om die gebeente”, beskryf Gideon Scheepers se ma se soektog na haar seun se finale rusplek roerend:

Gebed om die gebeente

Heer, waar U noordewind die droë dissel rol
en oor die skurwe brakland jaag van Afrika,
maar eindelik teen ʼn doringdraad met pluksels wol
vaswaai terwyl die kraaie en die aasvoëls kla,
laat my ook ná die swerf oor vlaktes heen nou rus
en glo my kind is dood, al hoor ek die berigte
om my krys: “Ek het hom as matroos hier aan die kus…”
“Ek: as stoker op ʼn trein…” “Ek: in vaal-geel ligte
van ʼn steenkooldorp se kroeg nog nou die dag gesien…”
Glo omgekoop! Of hy sou skielik blink gesteentes
smokkel … blink gesteentes! Selfs dan … Nee, miskien
lê hy tog êrens dood; maar, Heer, dan die gebeente,
wys my, gee my die drag gebeente van my skoot
dat ek nie opgejaag deur hierdie land bly swerf
en soek, maar eindelik rus en weet hy het deur lood
onder twee mudsak ongebluste kalk gesterf.

Snags het ek soms gelê en vrees daar sou iets boos
oor hierdie kind nog kom, want in Middelburg se kerk
staan duidelik in die doopregister sy geboorte
nie na die stand van sy gesternte aangemerk.
En, soos wanneer jy tussen vinger en die duim
die wit son rol en skitter in ʼn diamant,
sou hy deur Vrystaat en Transvaal se leiblou ruim
uit spieëls ons stryd laat blits en straal van rant tot rant.
Maar hy móés sterf: die Dood het self hom eers gejag
deur kou riviere van die Kaap, dwarsoor Anysberg
tot in die buitekamer op ʼn plaas, waar hy een nag
in koue sweet moes lê en aan borswater sterf …
toe ʼn tweede jagter hom van tent na trein, van trein
na tent met doringdraad en bajonet bewaak
en met gemete sorg van arts en medisyne
vir ʼn tweede dood, o Heer, stadig gesond kon maak.

En ná die skynverhoor het hulle hom vertel…
voor Graaff-Reinet se sel. O Graaff-Reinet se sel!
Hy was gewone kryger, Heer, en geen rebel.
O Graaff-Reinet se sel … Eségiël! Eségiël!
Vergeef my die gelykenis, Heer: ek weet ʼn hond
as hy versadig is, verag die been en murg
maar bêre dit agter ʼn bossie in die grond
– behoedsaam, en snuffel met die tweede honger terug:
Teen middernag het op bevel ʼn vyf soldate
die kalkwit bondel beendre in die kalkwit doek
met grawe en lanterns in verskeie gate
onder die roosmaryn langs die rivier gaan soek
en herbegrawe… toe U die storm word, Heer; ek weet
U en die vyand het dié nag in die vallei
deur geel geflikker in slagreëns mekaar gemeet
oor wie uiteindelik my kind se lyk sou kry.

Hy moes drie dode sterf, maar hy wat drie maal sterf
die sterf nie meer; hy word nou elke dag gesien
as ʼn matroos, of stoker op ʼn steenkoolwerf,
in myn of tronk, in sirkustent of ʼn kantien –
hy leef in hierdie land nou ewig en altyd!
Maar soveel beendre lê onder die roosmaryn …
Seën, Here, al die bleek gebeente van die stryd –
ek ken as moeder na ʼn halwe eeu van pyn:
een land vol skedels en gebeente, een groot graf
waaroor U noordewind die droë dissel waai
en spruit en krans vul met die afloskrete van
die aasvoëls, van die wildehonde en die kraai
– dat ons as een groot nasie in die gramadoelas
met elke stukkie sinkplaat en met elke wiel,
en wit en bruin en swart foelie agter skoon glas
ewig U sonlig vang en na mekaar toe spieël.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Groen Ghoen ·

Bravo vir julle! Baie mense is dalk onder die verkeerde indruk dat sy graf in Graaff-Reinet is. Nou weet ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.