‘Op en wakker’ sit oemf in RSG-oggendprogram

RSG se ‘Op en wakker’-span. (Foto: Christa Steyn/Bezuidenhout/Maroela Media)

Lede van die media het Vrydagoggend die bekendstelling van Op en wakker, RSG se splinternuwe ontbytprogram, in Auckland Park bygewoon.

Op en wakker het op 4 April afgeskop en is weekoggende van 07:00 tot 09:00 op die lug. Die program spog met aanbieders soos Gustav Greyling, Robbie Kruse, Sue Pyler-Slabbert, Blaine Jones en regisseur André Kunz.

Maroela Media het vroeër berig dat RSG onlangs ʼn paar skuiwe aan sy programaanbod gemaak het.

Volgens Gugu Ntuli, die SAUK se groepbestuurder vir korporatiewe sake en bemarking, bied die nuwe programaanbod, veral die nuwe ontbytprogram, aan RSG die geleentheid om op gelyke voet met ander soortgelyke radiohandelsmerke mee te ding.

Kunz sê hy is opgewonde oor die program en om saam met ʼn bekwame span aanbieders te werk.

“Ek is ongelooflik lief vir die taal en om radio in Afrikaans te doen is wonderlik,” sê Kunz. “Afrikaans is ʼn kleurvolle taal waarmee jy iets op soveel verskillende maniere kan inkleur.

“Al die aanbieders kom met baie ervaring en elkeen bring iets uniek na die span. Hulle ken die medium en daarom is ek opgewonde oor wat hulle met die program gaan regkry.”

Volgens Kunz is die doel om luisteraarbetrokkenheid te bevorder en uiteindelik ʼn program daar te stel wat ook winsgewend is.

“Ons werk daaraan om ʼn gehoor te kweek wat inskakel en lus is om saam te luister. Verder is dit ook belangrik om geleenthede vir luisteraars te skep om aktief betrokke te wees.”

Deur gesprekke met interessante mense en om moeilike onderwerpe met ʼn positiewe ingesteldheid aan te pak, beoog Kunz en sy span om nuwe energie in RSG-luisteraars se oggende te blaas.

“Jy kan ernstige en swaar gesprekke met ʼn glimlag aanpak. ʼn Mens hoef nie oor alles te kla nie. So, luisteraars kan hulself gereedmaak vir ʼn goeie dosis lekker musiek en interessante gesprekke saam met die belangrike goed soos nuus, weer en verkeer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

VannieBaai ·

Nee wat, nie meer my “cup of tea” nie……baie teleurgesteld in die verskuiwings.

Koen ·

Sit dit af of skale om na 702…Ek geniet die nuwe lewe in RSG. Doe so voort, RSG. Enjulle wat so kla. Maklik….SIT DIT AF!!!!

Jack ·

Nee wat.Baie lankal klaar met RSG.Lankal nie meer wat dit was nie.

Neelsie ·

Hoekom meeding? Hy het sy eie unieke karakter gehad met baie aanhangers. Nou word hy maar net nog ‘n ander radiostasie soos al die ander. Ek wag net dat hulle “Kommentaar” op Sondagaand ook wegvat!

Koen ·

Goeiste. Almal moan en kla net die heel dag. Draai weg. Daar is baie van ons wat nie so verstok is nie. Kry vir julle ‘n ander stasie. Radio Pretoria waar die nuus van die dag Jan se landing is. Dis nie asof julle betaal vir RSG nie. Adios.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.