Op ’n bergfiets van Kaapstad na Pretoria vir liefdadigheid

Die fietsyers by hul 40ste kilometer (Foto: Hendrik Steytler)

Drie bergfietsgeesdriftiges begin vandag aan die 1 700 km tussen Kaapstad en Pretoria ry om R1 miljoen in te samel vir Jacaranda FM se Good Morning Angels.

Dié “Miles for a Million Tour” word deur Hendrik Steytler, Deon Brink en Ivor Potgieter gery en hulle sal verskeie dorpe op hul pad besoek. Hulle sal die roete voltooi by Jacaranda FM en Tracker se jaarlikse Off the Beat ʼn Track- geleentheid op 13 April.

Steytler, Brink en Potgieter sal Woensdag van die Commodore Hotel by die V&A Waterfront vertrek, waarna hulle deur onder meer Wellington, Ceres, Fraserburg, Brits, Petrusville, Luckhoff, Koffiefontein, Bothaville, Parys, Sandton en dan uiteindelik Irene, waar die rit tot ʼn einde sal kom, sal ry.

Die geld wat ingesamel word, sal gebruik word om Good Morning Angels te help om spesiale projekte vir kwesbare mense aan te pak.

Jacaranda se Good Morning Angels is ʼn program wat deur Martin Bester aangebied word en is al langer as ʼn dekade op die lug.

Dié program help alledaagse mense wat in kwesbare situasies is. Individue, ondernemings, organisasies en bekendes het al miljoene rande ingesamel vir mense wat dit nodig het; hetsy vir ʼn lewensveranderende operasie, vir ʼn skool wat deur ʼn tragedie getref is, ʼn huis wat herbou moet word of ʼn familie wat ʼn finansiële hupstoot nodig het.

Hendrik Steytler, Deon Brink en Ivor Potgieter (Foto: Hendrik Steytler)

Dianne Broodryk van Good Morning Angels het gesê Steytler het haar verlede jaar kom spreek omdat hulle ʼn projek vir ʼn goeie doel wou aanpak.

“Hy het al vantevore soortgelyke dinge aangepak, maar nog nooit vir so lank nie, en dié keer wou hulle ʼn projek met ʼn doel daaraan koppel. Hulle wou voel dat hulle energie, krag, pyn en smart vir ʼn goeie doel gaan, en hulle wou dit vir Good Morning Angels doen. Daaroor is ons natuurlik baie bly,” het sy gesê.

Broodryk het gesê die geld wat ingesamel word, sal ʼn verkil in talle mense se lewe kan maak, omdat die program elke week van die jaar op die lug is.

“Mense stuur verskriklik baie e-posse oor mense wat hulp nodig het. Ek kry sowat 200 versoeke per dag. Daar is soveel mense wat behoeftig is. Die nood is soveel groter as waarmee ons kan help, maar ons doen wat ons kan en ons help wie ons kan.

“Partykeer is die nood net té groot vir ʼn borg om te hanteer, en as ons dan meer geld het, is die las ligter en kan ons van ons kant af meer bydra om mense te help. Só sorg ons dat ons altyd kan help en meer mense kan bystaan,” het sy gesê.

Vir meer inligting of om dié projek finansieel te ondersteun, klik hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dikwiel ·

Ons club het n paar jaar terug dieselfde roete aangepak net in Maart , Ons het 200 km dag voltooi en dit was glad nie maklik om 7-8 ure n dag op n fiets in 40 grade Celsius deur die Karoo te trap , Onvergeetlike ondervinding gewees ons het by R500 000 ingesamel vir n skool aan die Oos Rand vir gestremde Kinders .

Vra net ·

My kommentaar oor die fout in roete is verwyder??? Brits is in Noordwes. Die moet seker Britstown wees. Daars n groot kilometer verskil tussen die twee plekke.
Sterkte aan die trappers.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.