Op soek na die ware Paul Kruger

(Foto: Verskaf)

Oom Paul, soos hy wyd bekend is, was nog altyd vir my ʼn enigma – ietwat misterieus. Wie was dié man, met sy manel en pluiskeil? Volgens die historikus, Jaap Steyn, was Paul Kruger ʼn eenvoudige man wat oor ʼn merkwaardige intellek, fenomenale geheue, ingebore juridiese vermoë, welsprekendheid en sin vir waardigheid beskik het.

Daar is al soveel oor hom gesê – meestal goed, maar ook sleg. Hoe kry ʼn mens ʼn greep op iemand meer as ʼn honderd jaar na sy dood? Daar is al soveel oor hom geskryf, maar wat glo ʼn mens? Dis hierdie vrae wat my op ʼn Saterdagoggend na sy huis dryf.

Wat word ʼn mens wys uit ʼn woning?

In die ou Kerkstraat, vandag WF Nkomostraat, staan sy ampswoning, effens ongemaklik naby aan die besige straat en stadskern. Nommer 59 – die huis van president Paul Kruger, hoof van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) in die stormagtige jare van Britse imperialisme.

(Foto: Verskaf)

 

Hier word die verskillende aspekte van sy lewe uitgebeeld – Kruger die staatsman, wat wêreldwye respek geniet het; Kruger die gelowige, wat al sy doen en late op sy geloofsoortuiging gegrond het; en Kruger die familieman, wat sestien kinders saam met sy vrou Gezina gehad het.

Op ʼn toer deur die terrein staan ek eerste by sy treinwa stil. Daardie regeringskantoor op wiele wat hom tydens die Anglo-Boereoorlog uit Britse hande gehou het. Dan verken ek ʼn lokaal met inligting en oorspronklike meubelstukke uit die tydperk daarna, toe hy in Europa balling was.

Ek stap deur sy huis, wat in 1884 vir hom gebou is kort nadat hy tot president verkies is. Hy het hier gewoon totdat hy landuit moes vlug en tant Gezina het in hierdie huis gesterf. Die huis was vir ʼn ruk nog in die familie, omdat dit aan sy skoonseun Frikkie Eloff bemaak is. Daarna is dit as die eerste moedersbond ingerig en as losieshuis gebruik, voordat dit as museum ingerig is.

Die huis is opgeknap en getrou aan sy era gemeubileer. Ons toergids vertel dat Kruger se nasate gevra is hoe die huis oorspronklik gelyk het en waar watter meubels gestaan het. Ek verkyk my aan die smal bed waarop albei van hulle moes pas en glimlag vir die ou telefoon in die gang – ewe gepas was hul telefoonnommer bloot “1”. Ek verwonder my aan hoe die lig deur die loodglasvenster val – was dit vir hulle net so mooi? Was tant Gezina ook dankbaar soos ek vandag is vir die koelte van haar ontvangslokaal, terwyl die Pretoriase somerson buite bak?

Op die groot voorstoep maak ek my oë ʼn oomblik toe en dink my in hoe Kruger met sonsopkoms reeds daar sit, koffie in die hand, pyp in die mond. Hier het hy gaste ontvang, van die belangrikste tot die geringste. Op hierdie einste stoep waar ek nou staan, een van die geringes. Watter woorde is hier gewissel, watter kennis, wysheid, en droefheid is teenoor hierdie mure geopper?

Hulde aan ʼn held van sy tyd

Terwyl ek nog oor al hierdie vrae tob, bereik ek die lokaal waar huldeblyke aan hom uitgestal word. Daar is geskenke van elke kleur en geur, en uit elke uithoek van die wêreld aan hom gestuur – van ʼn ossewa tot kunswerke, beeldhouwerk en trofees.

Wat my egter die diepste tref, is die getuienisse oor hom wat op plakkate pryk. Die woorde van sy tydgenote lok my aan. Dis hier waar ek antwoorde op my vrae kry – woorde uit die monde van mense wat hom persoonlik geken het, wat nie op boeke en menings staat maak nie. Die opregte waarnemings van sy kollegas en vriende.

Een so ʼn getuienis kom van die destydse staatsekretaris dr. WJ Leyds. Kruger het ʼn hoë dunk van Leyds gehad. Hy was een van die min amptenare wat baie nou saam met Kruger gewerk het en die volgende beskrywings van die president se karakter getuig van hul besondere verhouding:

“Ek het al talle kere gesê dat, onder die talle hoogs bekwame mense wat ek in my lewe leer ken het, was daar niemand wat hom in natuurlike vermoë oorskry het nie. In my lang lewe en my ryk ervaring het ek baie mense van karakter en vermoë ontmoet, maar ek sal niemand bo Kruger kan plaas nie. Hy was nie geleerd nie, maar tog het hy so baie geweet. Sy kolossale geheue het almal anders oorskadu. Hy was ʼn skerp waarnemer, diep, versiende en oopkop. Hy was ook altyd gereed om vermoëns in ander te identifiseer en sy eie tekortkominge te erken.

“Niemand anders het hom beter as ek geken nie. Vir byna vyftien jaar het ek op ʼn daaglikse basis saam met hom gewerk. Wat my die diepste getref het, was sy waardigheid. Mettertyd het hy bekend geword vir sy goeie raad, in oorlogtyd en aan die kerkraad en die Volksraad.

“Hy was natuurlik nie ʼn geleerde man nie, maar tog het hy ʼn grondige kennis van baie dinge gehad. Dit was sy manier om met toe oë te sit en luister na wette en memorandums wat aan hom voorgelees word, en jare later kon hy nog die fynste besonderhede en afwykings onthou, want sy geheue was verstommend. Hy was ook nie bekrompe nie, maar eerder geneig om liberaal te dink – ʼn ontwikkelde man, beide in politiek en geloofskwessies.

“Daar is mense wat met die gawe van die hart beïndruk; ander weer met die talent van hul intellek. Kruger het albei gawes gehad.”

Op sy beurt het Jan Smuts hom ʼn eerbare en opregte mens genoem, deur en deur. “Sy adellikheid en onskuld was nie blote vertoon nie, maar gewortel in die diep onsigbare diens aan die verlede. Paul Kruger was ʼn mistikus, sy innerlike lewe saam met God was in alle opsigte opreg en nederig en sy aksies na buite was blote uitdrukking van daardie dieper lewe van die siel. ʼn Meer onskuldige, opregte en eerlike karakter het ek nog nie in my lewe ontmoet nie.”

Dié woorde bevestig sy waardigheid

Toe ek by die hekkie van Kerkstraat 59 uitstap, terug in die hede in, is dit met ʼn rustigheid in my hart: Paul Kruger is waardig van die lof wat hom besing word. Bo en behalwe die woorde van sy tydgenote wat hierdie besef by my tuisgebring het, is dit sy eie woorde wat my oortuig. In die laaste brief wat hy vir Louis Botha geskryf het voor sy dood, staan daar:

“Wie vir hom ʼn toekoms wil skep, mag die verlede nie uit die oog verloor nie. Daarom: soek in die verlede al wat goed en mooi was wat daarin ontdek kan word, vorm daarna u ideaal en probeer om vir die toekoms daardie ideaal te verwesenlik. Dit is waar: veel van wat opgebou is, is tans vernietig, verniel, geval. Maar met eenheid van sin en eenheid van kragte kan weer opgerig word wat daar tans terneer lê. Dit stem my eweneens tot dankbaarheid om te sien dat dié eenheid, dié eendrag by u regeer.”

My hart bevestig sy woorde, wat vandag steeds resoneer: Amen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Delia ·

Hoekom hhet hy SA verlaat in ballingskap. Het gaan google, maar kry dit nie

Harry ·

Was bang die Engelse vang hom, hy het die oorlog begin maar was te bang om dit deur te sien tot die einde. Gelukkig was daar mense soos President Steyn en Koos de la Rey wat agter gebly het om Kruger se oorlog vir hom te probeer wen.

Lourens CFG ·

Harry, duidelik het jy nie geskiedenis gehad op skool nie, óf dit gedruip.
Sy manne was bang die Engelse vang hom, en gebruik om dan om boere te laat oorgee, en hulle het hom gedruk om in ballingskap te gaan.
Dan ook was hy al oud en sieklik.

Jack ·

Nadat die Boere die konvensionele oorlog verloor het en die Britte Pretoria ingeneem het, het dit duidelik geword dat hulle Paul Kruger graag in die hande wou kry om die Guerilla oorlog te beeindig. Dit sou rampspoedig vir die Boere gewees het as Paul Kruger in Britse hande sou val. Daarom is hy na Europa gestuur op uitnodiging van die Nederlandse Koningin, way dan ook ‘n oorlogskip gestuur het om hom in Lourenzo Marques te gaan haal. Hy kon dan sommer ook die Boere se saak in Europa stel. Die Europeers was die beoere en Oom Paul baie goedgesind, maar was bang om militere steun te verleen, Die Britte en veral die Britse pers het oom Paul verguis omdat hy so ‘n groot inspirasie vir die Boere was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.