Op soek na ’n mooi nuwe hoed

Candice Jacobs van Malmesbury se kreatiewe hoedskeppings verras en verstom elke keer. (Foto verskaf)

Ragfyn blomme, verskillende soorte kant, die aantal rante per hoed – in die weke voor Paasfees was Candice Jacobs van Malmesbury se dae gevul met besluite oor presies hoe kreatief sy 50 hoede kan maak vir meisies en hul moeders vir hul voorstelling in die kerk. Sarie Marais-Nell vertel.

Om ʼn hoedemaker te wees in ʼn land waar materiaal slegs van drie fabrieke af bestel kan word, vra meer as voorafbeplanning. Dit vra ook ʼn gesonde skoot wysheid en kreatiwiteit voordat sy materiale soos krinolien, sinamay, lint, kant en sjiffon kan omtower tot ʼn pragtige skepping.

Jy het ook mensekennis nodig, want soms is die kliënt self onseker oor watter keuse sy moet maak. Vir die 38-jarige Candice Jacobs is raadgee, nuwe idees ontwikkel en tussendeur ook ʼn oog op die kostes hou, alles deel van haar gewone werksdag.

“My hoedmakery het so agt, nege jaar gelede begin toe ek moeg geraak het daarvoor om pal te moet soek na ʼn mooi nuwe hoed,” vertel sy. “Ek en my man Saul het uit die Kaap uit Caledon toe getrek vir sy werk en daar was niemand by wie ek ʼn hoed vir kerk kon koop nie.

“Toe ons nog later na die dorpie Greyton trek, was hoedsoek ʼn veel groter uitdaging.”

Candice het ʼn hoedmaak-kursus gevolg en dit het nuwe wêrelde vir haar oopgemaak. “In daardie tyd het ek vir die Theewaterskloof Munisipaliteit as ʼn senior klerk in finansies gewerk; nog vroeër het ek vir Stad Kaapstad as ʼn senior klerk in die water en sanitasie-departement gewerk.”

Aanvanklik het sy na-ure vir haarself en naburige vroue hoede gemaak, maar vandat Candice uit haar werk bedank en net op hoede maak begin fokus het, was sy nog nooit spyt nie.

(Foto verskaf)

Haar verbeeldingryke skeppings is nie haar enigste leerkurwe nie. “Ek het geleer om te alle tye kalm te bly en alle mense met respek te behandel; om almal dieselfde te hanteer. Konsekwentheid is die wagwoord.”

Terwyl die gesin later verhuis het na Clanwilliam en twee jaar later Malmesbury toe, het Candice aangehou hoede maak en orals beleef sy dieselfde probleem: “Mense koop dikwels ʼn splinternuwe hoed, wat ek vir myself gemaak het, as’t ware van my kop af.”

Vanjaar was die kombinasie van baie hoede maak en haar gesondheid amper te erg: Terwyl die bestellings vir persoonlike, treffende hoede instroom, begin sy borsprobleme ontwikkel. “Ek het op 30 kanker gekry, dit het tot ʼn borsverwydering gelei. My silikoonbors van agt jaar gelede het begin lek en met al die baie bestellings vir Paasfees-hoede moes die herstel-operasie eers wag.”

Terwyl haar hande in die weke voor Paasfees besig bly met meer as 50 hoede se blomme, lint en afronding, het haar gedagtes gedurig in baie rigtings gehardloop: die harde werk om die regte materiale en ondersteuningsdraad te vind; planne maak rondom elke hoed; stres oor te min ure in elke dag; die borsoperasie wat voorlê; haar skoolgaande seun en dogter wat Ma se hulp benodig.

“My dogter is so ʼn plain jane, sy het net so twee ou hoedjies waarmee sy tevrede is.”

Om seker te maak dat sy twee tot drie hoede per dag skep sodat almal Paassondag kan mooi lyk, het Candice onlangs ʼn assistent opgelei om te help. En ja, daar is beslis modeneigings wat hoede betref:

“Die kant op die rante is nou gróót. Hoe meer rante, hoe deftiger, en ongelukkig ook duurder. Ek en Faith maak meeste van die versierings, soos strikke en blomme, self.”

‘n Assistent-naaldwerker help om die skeppings aanmekaar te werk. (Foto verskaf)

Soos vroue graag maak, vertel kliënte gereeld vir Candice meer storietjies as net die bestelling: waarom hulle sekere voor- of afkeure het; vorige teleurstellings met hoedmakers. Sy beleef soms hoe gawe donateurs hul beursies leegmaak sodat behoeftige dogters ook ʼn pragtige hoed kan dra.

“Jy kry vroue wat ʼn bestelling plaas en onverwags van plan verander, of vir my sê ‘ek weet nie wat om te kies nie, verras jy my maar’. Sulke tye oorval die twyfel my, want hoe moet ek weet wat is haar geaardheid? Dan vra ek: ‘Moet ek dit nederig hou of moet dit ʼn wow-hoed wees’?”

Hoewel dinge nou gejaagd gaan, is Candice dankbaar die Covid-spanninge is minder. “Van Oktober af het die kerkbedrywighede weer normaal geraak en het die hoedbedryf omtrent ontplof. Ongelukkig het baie hoedwinkels tydens inperkings gevou; in sommige gevalle was dit enkelma’s sonder ander bronne van inkomste wat hul besighede moes sluit.”

Wat kos ʼn mooi nuwe hoed, wonder diegene wat nie gewoonlik hoede dra nie.

“Pryse wissel van R350 tot R700, veral as daar meer as een rant en baie versierings is,” vertel die vrou wat gereeld soek vir nuwe hoed-idees. “Vir nuwe inspirasie soek ek op die internet en selfs die Britse koninklikes is ʼn lekker bron van idees. Dikwels kom my inspirasie onverwags – wanneer ek besig raak met ʼn hoed voel dit gereeld of ek weggevoer word, dan is ek in my eie wêreld en wanneer ʼn volgende persoon daardie styl wil hê, kan ek amper nie onthou hoe het ek dit gemaak nie.

“My raad vir entrepreneurs is om altyd uit te hou en deursettingsvermoë te hê, al gaan dit met benoudheid gepaard.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.