Orania-skool samel duisende rande in met mielieprojek

Roy Blumenthal se spuitdienste borg Orania CVO-skool se spilpuntprojek. Dit is borge soos hierdie wat die skool se geldinsamelingsprojekte moontlik maak. (Foto: Verskaf.)

Orania se Christelik-Volkseie (CVO)-skool, ʼn private skool in dié dorp in die Noord-Kaap met sowat 360 leerlinge, het vanjaar meer as R800 000 met die skool se jaarlikse mielieprojek ingesamel. Dit is vanjaar die sesde jaar dat dié projek deur boere van die omgewing om Orania aangebied word.

Die mielieprojek is ʼn kompetisie waar saaiboere ʼn hektaar, of halwe hektaar, van hulle mielie-oes reeds met aanplanting aan die skool skenk. Die boere oes dan self die mielies, maar die aantal ton mielies wat geoes word, word by elke boer gemeet voordat dit na die koöperasie se silo’s geneem word. Daar word vier wenners aangewys met ʼn eerste prys vir die een hektaar-mielieboer en ʼn prys vir die halwe hektaar-mielieboer. Vanjaar was daar ook ʼn springmieliekompetisie, wat ook ʼn hele hektaar- en ʼn halwe hektaar-kategorie gehad het.

Die CVO-skool in Orania se mieliekomitee bedryf ‘n spilpuntprojek waar daar elke seisoen mielies of koring geplant word om ekstra inkomste vir die skool te verdien. Die koring is geplant en die skool is baie opgewonde en dankbaar. (Foto: Verskaf.)

Meer as tien bekende landboumaatskappye tree as borge van die projek op en Pioneer was vanjaar se hoofborg. Boere wat deelneem aan die kompetisie kan groot pryse wen met ʼn totale prysgeld van bykans R200 000 wat jaarliks op die spel is. Die skool skenk ook uit die inkomste van die projek R50 000 aan ouetehuise op Orania en Hopetown.

Een van die groot saaiboere in die Bo-Karoo, Deon Joubert, was die wenner van vanjaar se een hektaar-kompetisie. Frans Wiid was die wenner van die halwe hektaar-kompetisie. In die nuwe springmielie-afdeling was Ryno en Jacques Verster die wenners van die een hektaar-kompetisie en Eden Wiid die wenner van die halwe hektaar.

Die geld wat die skool deur die projek insamel, word gebruik om sportgeriewe te ontwikkel. Die afgelope paar jaar is vier netbalbane en twee tennisbane gebou, met twee rugbyvelde wat tans beplan word. Die projek was die idee van vier boere wat almal kinders in die skool het. Loutjie Steyn, Danie van Wyk, Cobus Nel en Riaan de Wet het intussen ook ʼn spilpuntprojek vir die skool begin met boere wat grond en waterregte beskikbaar gestel het en borge wat saad, kunsmis en gif beskikbaar stel om jaarliks ʼn mielie- en koringaanplanting vir die skool te doen wat nog R200 000 se inkomste inbring.

Die afgelope paar jaar is vier netbalbane en twee tennisbane gebou, met twee rugbyvelde wat tans beplan word met die CVO-skool se mielieprojek in Orania. (Foto: Verskaf.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Adam Adriaan ·

‘n Boer maak altyd en het atyd ‘n plan!! mooi so!!

Diva ·

Kyk nou net die samewerking tussen boere….. Wens dit kan orals so werk….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.