Orgaanskenking is die geskenk wat lewens red

Tersia Smith saam met haar hele familie. (Foto: Verskaf.)

Augustusmaand is orgaanskenkingsbewustheidsmaand. Vir almal wat nie geskrik het vir hierdie lang woord met só ’n diep betekenis nie, vertel Tersia Smit (65) haar verhaal van oorlewing danksy ’n 16-jarige sterwende meisie se familie se besluit om haar organe vir siek mense te skenk. Sarie Marais-Nell berig.

Chronies naar, altyd moeg, ’n liggaam wat verklik dat sy ná elke swangerskap sieker raak, die vretende wete dat haar 12-jarige boetie ook aan hierdie siekte dood is – dis die pad wat Tersia Smit van Mokopane (voorheen Potgietersrus) gestap het.

“Teen die tyd wat my dokter verklaar het ek is terminaal siek, hy kan niks meer vir my chroniese lewersklerose doen nie, was my lewensgehalte reeds daarmee heen. Ek was lewensmoeg, my maag en bene was opgeswel weens opgegaarde liggaamsvloeistowwe, my vel het gejeuk van oortollige gal, en die wit van my oë geel. Ek het dit gelate aanvaar, geglo dis my tyd om te sterf.”

Tersia en haar man, Ken, wat die finale uitspraak oor haar lewe nie wou aanvaar nie. (Foto: Verskaf.)

Dit was 15 jaar gelede. Gelukkig wou Tersia se man, Ken, hierdie finale uitspraak geensins aanvaar nie.

“Ken het my na ander dokters geneem vir verdere opinies, totdat professor Ernest Song van die Wits Donald Gordon Mediese Sentrum (WDGMC) vir ons ’n klein ligpuntjie hoop gebied het: Indien daar betyds ’n skenkerlewer opdaag, sal die oorplantingspan onder prof. Song en sy kollega, prof. Russell Britz, dit in my oorplant. En indien ek sou instem, sal ek ’n proefkonyn wees, het hy verduidelik, want leweroorplantings was in 2005 nog net in ’n eksperimentele fase.

“Daar is soveel bepalings oor die gewig, lewergrootte en bloedgroep van die skenker en ontvanger wat moet ooreenstem, dat ’n beskikbare lewer (iemand moet eers sterf) binne die kort tydjie wat ek nog kon lewe, eintlik net ’n wonderwerk sou wees.”

’n Wonderwerk is presies wat Tersia nege weke later beleef het, toe sy op 4 Julie 2005 ’n oproep ontvang: ’n 16-jarige meisie se lewer is beskikbaar vir ’n oorplantingsoperasie die volgende dag.

“Tussen siek voel en twyfel en vrees – omdat daar geen waarborg vir sukses is nie – ry ons die 250 km Johannesburg toe. Ek het níks gehad om te verloor nie; ons drie kinders het my alreeds kom ‘groet’.”

Ken het haar heeltyd aangemoedig om te veg vir haar gesondheid, om vas te klou aan hierdie nuwe kans op lewe. Sy sou eers later hoor dat hy elke oomblik van die 10 uur lange operasie op die vloer voor die teaterdeur gesit en wag het.

Al was die eerste twee jaar ná die operasie geen maklike roete nie, en al moet sy lewenslank medikasie gebruik wat keer dat haar liggaam die oorgeplante lewer verwerp, kan Tersia as eerste vroulike leweroorplantingspasiënt in Suid-Afrika uiteindelik weer goeie gesondheid geniet.

“Dit alles te danke aan ’n onbaatsugtige familie wat ingestem het tot orgaanskenking. Ten spyte van hul eie hartseer het hulle my lewe gered.”

Sy kon geleidelik weer haar plek volstaan op hul mooi Bosveldplaas waar haar man en seun met Bonsmaras, skape en wild boer en ’n melkfabriek behartig. Sy kon haar kinders sien trou, haar kleinkinders leer ken en bederf.

Deesdae beywer Tersia haar daarvoor om mense in te lig oor die belangrikheid daarvan om as orgaanskenker te registreer.

“Aanlyn registrasie is gratis en maklik! Praat daaroor met jou familie; niemand van ons kan voorsien wanneer ’n sterfdatum aanbreek nie. Wanneer families hartseer en geskok is, hoef hulle nie te twyfel nie, dan wéét hulle jy is bereid om jou organe vir iemand wat dit nodig het, te skenk.”

Tersia in aksie by die swembad. Sy het al talle medaljes ontvang by sportbyeenkomste vir pasiënte wat oorplantings ontvang het. (Foto: Verskaf.)

Sy raak bekommerd oor mistastings en bygelowe oor orgaanskenking, die vrese dat ’n skenkerliggaam dalk sleg behandel word.

“Gaan lees deur die webwerwe en glo gerus elke woord – skenkersliggame word met kundigheid en eer behandel en breindoodverklarings voordat iemand se lewensondersteuningsmasjien afgeskakel word, word met uiterste omsigtigheid deur kundiges geneem.”

Uit dankbaarheid vir haar nuwe lewensgehalte, het sy hard aan haar fiksheid begin werk en weer begin swem. Tersia het voorheen provinsiale kleure in swem verwerf.

“Pasiënte soos ek wat oorplantings ontvang het, kan registreer by die SA Oorplantingspele-vereniging (Satsa – South African Transplant Sports Association) en deelneem aan verskillende sportbyeenkomste. Atlete wat vir nasionale kleure kwalifiseer, kan aan die Wêreldoorplantingspele deelneem.”

(Foto: Verskaf.)

In 2011, met haar eerste deelname aan ’n Wêreldspele in Swede, het sy drie silwermedaljes vir Suid-Afrika losgeswem. By die 2013- Internasionale Oorplantingspele in Durban verower sy weer drie silwermedaljes, met haar grootste prestasie die goue medalje en wêreldrekord in die 50 m-rugslag.

Hoewel sy gekwalifiseer het om aan die 2015-byeenkoms in Argentinië deel te neem, moes sy dit weens twee groot obstruksie-operasies misloop.

Vandat sy op internasionale vlak in die 50 m- en 100 m-vryslag, die 50 m-borsslag en die 50 m- en 100 m-rugslag begin deelneem het, gaan nuwe wêrelde vir haar oop.

“Die Wêreldspele is ’n unieke soort byeenkoms. Dit vind elke tweede jaar plaas en hier raak mense uit verskillende agtergronde groot vriende, al kompeteer ons straf teen mekaar! Ons vertel vir mekaar verhale van suksesvolle oorplantings en ons raak saam hartseer oor die kritieke tekort aan orgaanskenkers.”

As ambassadeur van die Satsa wéét die 65-jarige Tersia wat dit beteken om ’n nuwe kans te kry.

“Mens waardeer nou die lewe opnuut en leef elke oomblik voluit. Daar gaan geen dag verby sonder dat ek dankie sê vir hierdie groot voorreg nie.

“Om te kan asemhaal, te kan sien en hoor – dít is my lewensvreugde!”

  • Enigeen met goeie gesondheid en sonder tekens van kanker, hepatitis, diabetes of vigs kan ’n orgaanskenker word.
  • Skakel die Orgaanskenkerstigting by 0800 226 611 of besoek odf.org.za vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Toffie ·

Ek is ‘n orgaanskenker, hulle kan alles vat wat nog in werkende toestand is. Ek wil in elk geval veras word, so hoekom nie my organe gee vir iemand wat dit kan gebruik voordat dit in elk geval tot as verbrand gaan word nie is my sienswyse.

Niklaas ·

Die dame is geseend. Ook om so ‘n omgee-man en kinders te hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.