Organisasie wil oorlogsveterane help

(Foto: parabat.org.za)

Die Parabat Veterane Organisasie (PVO) is al drie jaar oud, met takke reg oor Suid-Afrika en beplan om binnekort nóg ʼn tak in die Oos-Vrystaat op die been bring.

Die PVO is ʼn organisasie wat emosionele, finansiële en mediese hulp bied vir oorlogsveterane, veral valskermsoldate.

“Die PVO is in 2015 gestig sodat ons as oorlogsveterane bymekaar kan kom, en mekaar kan ondersteun,” het Jannie Kotze, lidmaatskapbeampte van die PVO aan Maroela Media gesê.

“Ons kom so een keer per maand bymekaar en dan braai ons en gesels oor die oorlogdae. Maar nie net oor daardie tyd nie, ons gesels ook oor nou en die probleme wat die ouens nou het. Ons was almal in die oorlog gewees, oorlog is nie ʼn mooi ding nie en baie ouens sit nog met emosionele probleme,” het hy gesê.

Die PVO samel ook geld in vir oorlogsveterane wat nou finansiële probleme ondervind, of wat sukkel om werk te kry.

“In die organisasie probeer ons mekaar help en bystaan. Ons is regtig ʼn hegte broederskap, so ons wil mekaar help. Wanneer daar iemand is wat sukkel om werk te kry, en daar is iemand wat ook in die organisasie is wat werk het om aan te bied, help hulle mekaar só,” het Kotze gesê.

Daar is reeds ongeveer sewe PVO-takke in die land, en nou wil hulle ook een in die Oos-Vrystaat onder leiding van Johan Cronje tot stand bring.

Cronje het gesê dié bymekaarkom-geleenthede bied vir die oudsoldate emosionele ondersteuning wat ander mense nie altyd verstaan nie.

“As jong ouens word ons geleer hoe om oorlog te maak, maar niemand leer ons hoe om dan weer aan te pas by die normale samelewing nie. Ons kan ook nie altyd met ons vroue daaroor praat nie, want hulle was nie daar nie. Dit is amper asof dit ʼn ander wêreld was. Dit is daarom goed om met jou mede-veterane om ʼn braaivleisvuur te kan gesels oor wat jy deurgemaak het,” het Cronje gesê.

Die PVO is ’n nie-winsgewende organisasie, is nie polities geaffilieer nie en is ook nie ’n militêre groep nie. “Ons bied bloot ondersteuning vir oudsoldate in ʼn sosiale omgewing,” het Kotze gesê.

Omdat dié organisasie veral gemik is op valskermsoldate, doen hulle ook gereeld nog valskermspronge saam en spring een keer per jaar naby die Bloemhofdam.

“Ons lede is tans so tussen 45 en 80 jaar oud en enige gekwalifiseerde valskermsoldaat kan ʼn lid word van die organisasie. Ons is ’n eenheid, ons respekteer die broederskap en ons help waar ons kan,” het Kotze gesê.

Om ʼn lid te word van die Oos-Vrystaat se PVO-tak bel Johan Cronje by 082 897 5986 of stuur e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

bgj van der westhuizen ·

ons mag dalk baie gou daar die kennis nodig kry wand die land stuur op n ramp af

Cecil ·

Dalk nog gouer as wat ons dink … die probleem is dat ons mense dit te lank gelos het en dat ons mense almal met ons broeke op ons kniëe gevang gaan word . Maar nou ja .. soos hulle sê : “Nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer”

Raubie ·

Dis ‘n lokval om te weet waar al die oud soldate is. Met land kwessie is daar baie praatjies van burger oorlog en ander derglike dinge. Ek ruik ‘n groot vet ANC / EFF / PAC / SA Coummnist rot ! Bly weg van sulke organisasies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.